Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Vingeretes - dis ’n mondvol

Written by  LekkerBekkig | November 30, 2015

Hierdie tyd van die jaar begin mense meer onthaal. Dis asof die hitte van die somer almal inspireer om aan die kuier te gaan. Terwyl daar niks lekkerder is as om om ‘n vuurtjie te staan en te braai nie, is daar soms meer gepaste maniere om te onthaal. Wanneer drankies deurlopend bedien word, wil mens jou gaste betower met klein mondjiesvol wat deurgaans geniet kan word.

Ons almal onthou die tipe ‘snacks’ of vingeretes van worsies met ‘n tamatiesousie, suuruitjies van geel, groen en rooi op ‘n stokkie, daardie droë frikkadelle wat nie eers die apies wil eet langs die pad nie... Daar is te veel om te noem.

Die Spanjaarde het ‘n fensie naam vir die smaaklike vingeretes of happies wat hulle graag bedien; tapas. Die koning van Spanje Alfonso die 10de, die Wyse, het volgens oorlewering ‘n siekte gehad wat hom genoop het om klein hoeveelhede voedsel en slukkies wyn tussen etes in te neem.   Nadat hy herstel het van die kondisie het hy aangekondig dat geen wyn bedien mag word sonder dat dit vergesel word deur iets om te eet nie. Daar is ook in Europa gepeusel aan klein versnaperings in die boorde waar werkers en boere hulself moes laat uithou tot die middagmaal bedien is. Hulle het dié geleentheid gebruik om ‘n teenvoeter te vind vir die spreekwoordelike toebroodjie wat ons van kindsbeen af gebruik om hongerpyne te stil tot middagete.

“Die Spanjaarde het ‘n fensie naam vir die smaaklike vingeretes of happies wat hulle graag bedien; tapas.”

Genoeg nou van die Spanjaarde. Die geheim van lekker vingeretes is ‘n goeie verbeelding. Probeer verskillende vars smake saam bedien wat die wyn komplementeer. Die grootste geheim van hierdie tipe kos is dat dit regtig net ‘n mondvol moet wees. Dit help nie mens gee vir mense ‘n glas wyn in die een hand en ‘n bordjie met ‘n mes en vurk in die ander, sonder dat daar plek is om te sit en eet nie. Al die versnaperings moet maklik met die hand geëet kan word. Mense kan ook nie lekker kuier met vol monde nie; so die happies moet net dít wees, happies. Probeer soveel as moontlik kleur inbring, dit maak die geleentheid vroliker. Die ander geheim is om ‘n paar keuses te hê wat nie gebaseer is op brood nie. Heelwat mense volg deesdae ‘n dieet wat koolhidrate uitsluit. Dieselfde geld vir vleis. So kombineer jou happies só dat daar iets is vir almal en ‘n fees van verskeidenheid en smake vir die mense wat alles eet.

Tzatziki met groentestokkies

Dié gewilde Griekse sousie is baie veelsydig. Dis maklik om te maak en komplementeer enige vars groente soos wortels, radyse, tamaties, sprietuie, seldery of wat jy ook al in ‘n vingertjie kan sny. Bedien dit in klein glasies wat maklik is om vas te hou en in te doop.

Bestanddele

Griekse volroom joghurt
Komkommer
Knoffel
Suurlemoenskil fyn gerasper
Sout en peper

Metode

Rasper die komkommer en sit dit in ‘n doek. Gooi bietjie sout oor en laat staan vir so vyf minute. Draai dit in die doek toe en druk al die vog uit die komkommer uit. Verwyder en meng met die joghurt, gekapte knoffel, sout en peper. Gooi die suurlemoenskil by. Bedien in ‘n glasie met die groentevingertjies en sit ook sommer ‘n paar bakkies uit waarin mense hul frikkadelle of ander disse kan doop.

november 2015 lekkerbekkig 1

Slakke met ‘n knoffelsousie

Slakke is een van die maklikste goed om te maak. Dis net so maklik om dit op te foeter. Ek het al slakke geëet wat soos knoffel- kougom proe, so taai dat mens skaars jou tande daardeur kan kry. Die slakke wat jy in ‘n blik koop, is of ingelê, of reeds omtrent gaar, so jy hoef nie veel aan hulle te doen voordat jy hulle bedien nie. Indien jy een van die stelletjies het wat ons in die foto wys, kan jy jou slakke in slakdoppe bedien. Anders word dit net vinnig in knoffelbotter gebraai en met klein stukkies brood voorgesit.

Bestanddele

Blik ingelegde slakke
Knoffel
Botter
Brood

Metode - met skulpe

Meng die knoffel en botter. Maak seker die botter is lekker sag, anders gaan jy sukkel. Sit ‘n bietjie van die botter onder in die slakdop, druk die slak in en bedek met nog so teelepeltjie van die knoffel botter. Druk dit in ‘n warm oond, op 200 grade, vir so agt minute of totdat die botter gesmelt het. Bedien onmiddellik met lekker brood.

november 2015 lekkerbekkig 2

Filet

Hierdie filet is asemrowend, dit word rou bedien maar ‘kook’ in die suurle-
moensap wat daaroor gegooi word tydens voorbereiding. Bedien ‘n lekker brood soos ‘n ciabatta daarby.

Bestanddele

200g Filet
200ml Goeie olyfolie
4 Rissies (jy kan kies watter jy wil gebruik na gelang van die byt wat jy in die finale dis verlang)
6 Skyfies knoffel - doppe afgehaal
6 Ansjovis-filette
Suurlemoensap

Metode

Gooi die olyfolie, knoffelskyfies, rissies en ansjovis-filette in die olyfolie en laat dit op ‘n baie lae hitte kook. Maak seker die olyfolie kom nie tot by kookpunt nie. Die hitte moet net veroorsaak dat al die smake in die olie intrek. Prut dit vir so 20 minute. Haal af en verkoel.

Sny die filet teen die grein van die vleis, in baie dun skywe. Hoe dunner hoe beter; jy kan dit nie te dun sny nie. Pak die skywe op ‘n plat bord en gooi suurlemoensap, sout en peper daaroor voordat jy die volgende laag pak. Sit dit in die yskas terwyl jy vir die olie wag om af te koel.

Verwyder die knoffel van die olie. Gooi nou die olie oor die verkoelde filet en bedien met brood.

november 2015 lekkerbekkig 3

Klein Caprese

Tamatie, mozzarella en basiliekruid is ‘n klassieke kombinasie. Dis nie net kleurvol nie maar heerlik. Jy kan dit in pragtige happies omskep wat maklik is om te eet en die pallet lekker skoonmaak nadat jy dalk ‘n frikkadelletjie geniet het.

Bestanddele

Klein tamatietjies
Groterige vars basiliekruidblare
Klein mozzarella-kaasballetjies
Balsamiese asynreduksie
Goeie olyfolie
Swart peper
Tandestokkies

Metode

Sny die tamaties en mozzarella-balletjies in die helfte en ‘plak’ hulle aanmekaar vas. Druk ‘n tandestokkie deur en sit dit in ‘n basilieblaar. Gooi die olyfolie, balsamiese asyn en swart peper op en bedien.

november 2015 lekkerbekkig 4

Stokkieskos

Ons gaan wegbly van gekleurde uitjies af, soos ons reeds genoem het. Daar is ‘n magdom van ander keuses. Olywe, salami, lekker fetakaas en vars pietersielie gaan altyd goed af. Sny al die bestanddele in ewegroot stukkies sodat dit lekker op die stokkie sit.

november 2015 lekkerbekkig 5

Frikkadelle

Hierdie lamsfrikkadelle is om oor huis toe te skryf. Hulle is krakerig buite en sag binne, volgepak met die smaak van die vars kruie wat ons ingesit het. Jy kan dit met of sonder ‘n sousie bedien. Dit gaan goed af met die tzatziki, net so, of met die sous.

Bestanddele

1 Groot eier
1/4 Koppie room
3/4 Koppie witbrood, korsies verwyder of ‘n halwe koppie broodkrummels
500g Lamsmaalvleis
2 Skyfies knoffel, fyngekap
1 Teelepel swart peper
1 Teelepel sout
Pakkie vars ment
Pakkie vars pietersielie
Pakkie vars koljander
1 Teelepel gemaalde koljander
1 Teelepel gemaalde komyn
1/2 Teelepel bakpoeier  

Sousie

1/2 Koppie tamatiesous (ek verkies All Gold)
2 Eetlepels water
1 1/2 Eetlepels appelasyn
2 Eetlepels Worcester-sous
1 Eetlepel fyngekapte uie of salotte
2 Snytjies knoffel, fyngekap
1/2 Teelepel sout en peper

Metode

Verhit die oond tot 180 grade en smeer ‘n pannetjie met olie.

Klits die eier en room saam in ‘n bak. Meng met die brood of broodkrummels en sit eenkant. Gebruik ‘n voedselverwerker en meng die maalvleis, knoffel, sout, peper, bakpoeier, komyn en koljander op ‘n hoë spoed totdat dit glad is. Voeg nou die brood- mengsel en al die vars kruie by en meng totdat als goed geïnkorporeer is.

Maak jou hande nat en rol die mengsel in klein balletjies. Onthou hap-grootte. Bak in die oond vir so 20 minute. Meng dit met die sous indien jy dit so wil bedien en sit voor met tandestokkies sodat mense dit maklik kan hap.

Sousie

Gooi al die bestanddele in ‘n pan en kook totdat dit verdik. Gooi oor die frikkadelle en sit ‘n bietjie opsy in ‘n bakkie indien mense dinge daarin wil doop.

november 2015 lekkerbekkig 6

Pita Pizzas

Hierdie klein pizzas is maklik om te maak en die smaak kombinasies is verbasend en asemrowend. Gebruik klaargemaakte pita-brode wat jy by die supermark koop en in die helfte sny. Sit jou mes tussen die twee lae van die pita en sny gelyk. Jy moet opeindig met twee ewe groot heel pitas na die proses.

Die basis is dun en kan al die smake dra.

Gebruik jou verbeelding wanneer dit by die dinge kom wat jy kombineer. Hierdie is ‘n paar voorbeelde:

Jy kan verskillende souse gebruik as basis vir die pizzas. ‘n Kombinasie van ‘n tamatiesous, tapenade en groen sous sal jou ver bring.

Tamatiesous

400 Gram tamaties, grof gekap
50ml Olyfolie
1 Klein ui, fyngekap
2 Skyfies knoffel, fyngekap
50ml ‘Extra virgin’ olyfolie

Metode

Verhit die olyfolie in ‘n pan en braai die uie daarin tot deurskynend. Voeg die tamaties by, sit die deksel op en kook vir so 5 minute. Voeg die knoffel by en kook sonder die deksel vir 2 tot 3 minute. Druk deur ‘n fyn sif indien jy ‘n gladde sous verlang, anders kan jy dit hou soos wat dit is. Verkoel en klits die ‘extra virgin’ olyfolie deur.

Tapenade

Tapenade word tradisioneel met kappertjies en ansjovisse gemaak maar dit kan ook met olywe, knoffel en olyfolie gedoen word. Ek het olywe verkies want dit gaan beter saam met die ander bestanddele wat ek in gedagte het.

Bestanddele
100g Swart olywe - pitte verwyder
2 Skywe knoffel, fyngekap
50ml Olyfolie

Gooi als in ‘n voedselverwerker en klits totdat dit ‘n puree vorm.

Anchoïde

50g Ansjovis-filette, gewas en fyngekap
1 Groot pak Italiaanse pietersielie, fyngekap
100ml Olyfolie

Meng als saam of sit in die voedselverwerker.
Daar het ons nou drie basisse waarmee ons kan speel.
Gekaramelliseerde ui, ansjovis en olyf-pizza

Bestanddele

2 Groot uie
Pitas
2 Skyfies knoffel, fyngekap
Olie
Sout en peper
Anchoïde (sien die resep bo)

Bo-op
Swart olywe
Ansjovis-filette, in repies gesny

Metode

Verhit die oond tot 200 grade. Sweet die knoffel en ui in die olie vir so 15 minute totdat dit sag is. Draai die hitte op en karamelliseer. Gooi sout en peper op en sit eenkant.

Smeer ‘n laag van die Anchoïde op die pita, sit die gekaramelliseerde ui bo-op en versier met swart olywe en ansjovis. Druk in die oond vir 15 minute en bedien. Ek sny die pizzas in kwarte sodat mense al die verskillende variasies kan proe en ook maklik kan optel.

Mozzarella, courgette en tapenade

Bestanddele
Pita
2 Medium murgpampoentjies, gesny
Mozzarella-kaas
Vars oreganum van die stokkies verwyder
Olyfolie
Tapenade (sien resep hierbo)
Sout en peper

Sny die murgpampoentjie en mozzarella in 1cm skywe. Meng met die oreganum, olyfolie, sout en peper. Smeer die tapenade op die pita en pak die mozzarella en murgpampoentjie bo-op. Druk in ‘n verhitte oond vir 15 minute en bedien.

Mascarpone, spinasie en sampioen

Bestanddele

Pita
2 Teelepels olyfolie
2 Skyfies knoffel, fyngekap
Pakkie klein spinasieblare
Pakkie klein sampioene
100g Mascarpone kaas
Vars pietersielie
Sout en peper
Tamatiesous - sien resep hierbo

Verhit die olyfolie in ‘n pan en voeg die knoffel, spinasie en sampioene by. Braai vinnig totdat die sampioene begin verkleur. Verwyder van die hitte en verkoel. Gooi enige sappe af wat van die mengsel afgekom het. Meng die mascarpone deur nadat dit afgekoel het. Geur met sout en peper.

Smeer die tamatiesous mildelik oor die pita. Pak die spinasie-en-sampioen-mengsel bo-op en bak vir 15 minute in die oond. Bedien.

Artisjok, roket, sardyn en parmesaan

Hierdie weergawe kan met of sonder die tamatiesous gemaak word.

Bestanddele

Pita
Artisjokke (koop die ingelegde blikkies) gedreineer en in die helfte gesny
6 Sardynfilette
Vars roket
Parmesaan-kaas - gerasper of in fyn skywe gesny
Sout en peper
Olyfolie

Pak die pita-broodjie met die artisjokke en sardyne. Smeer eers die tamatiesous oor indien jy verkies om dit te gebruik. Gooi nou die gekapte roket oor asook die parmesaan-  kaas. Druk in ‘n verhitte oond en bak vir 15 minute. Bedien.  
Nou ja toe. Daar is ‘n verskeidenheid disse wat elke smaak sal bevredig. Kry ‘n paar lekker bottels wyn en geniet die geselskap van vriende en familie oor hierdie gesellige seisoen. Jy kan die resepte aanpas na gelang van hoeveel gaste jy het en die vars bestanddele waarop jy jou hande kan lê.