Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Goeie vet!

Written by  LekkerBekkig | February 4, 2016

As ou Tant Siena straat op loop
Om antipon of spek te koop
Sê dié wat pad maak: Dank die Heer!
En sit hul sware stampers neer.

Volgens A.G. Visser wou sy nog sit, toe sit sy al. Die arme dik Tant Siena. Dis wat in my kop rondmaal terwyl ek vir myself ‘n skaal loop koop by die koöperasie. “Laat alles nou hier voor die skaaltjie moes draai. Ai.”

Ek sidder as ek moet dink hoe die ding vir my gaan lieg oor wat ek weeg. ‘n Vrou weet mos min of meer hoe swaar die aarde aan haar dra. Ma nou ja. Die dokter het gesê as ek nie ten minste 20 kilo’s verloor nie,  is ek dood binne ‘n jaar. Pappa hou nie van skottelgoed was en huis skoonmaak en kleintjinners kyk en al daai dinge nie. So hy gee toe onmiddellik vir my ‘n tjekkie vir die skaal en hy sê Siena aan om al die suiker en brood uit die huis uit te vat vir haar familie se aandete daai aand. Hy maak toe ook summier ‘n stukkie grond skoon en plant blaarslaai. Sommer vier soorte, dat ek nou nie verveeld moet raak met net een nie. Julle sien, Pappa is  ‘n man van sy woord, en daar is groot woorde gespreek met ons trippie oppad terug van vakansie op neef Ollie se plaas daar in die Vrystaat.

Magtag, was dit nou lekker! Spek en eiers vir ontbyt, pap en ‘n ou smoortjie met vet tjoppies vir middagete en saans daai allemintige braai. Steaks, ribbetjies, skilpaadjies en selfs ‘n ou pofaddertjie so af en toe. O ja, met paptert of braaibroodjies, ek dink daar was selfs darem ‘n pasta slaaitjie of iets. So gaan ons aan vir drie weke. Met die groet slag begin ek my groottoon voel. Hy trek so bietjie skuins, maar ek dog toe by myself dat dit maar die liggaam se manier is, om te sê sy gaan die rooigrond mis. Daar by ons op die plaas in die Kaap is die grond mos anders. Groet word daar toe gegroet en ek en Pappa en my krom toontjie vat toe die pad.

“Spek en eiers vir ontbyt, pap en ‘n ou smoortjie met vet tjoppies vir middagete en saans daai allemintige braai.”

Dis net so duskant Laingsburg wat Pappa toe te moeg is om verder te bestuur. Ek vat oor en daar sit ons die pad af, huis toe! Man, ek weet nou nie mooi hoe die tamatie gebreek het nie, maar op ‘n stuk ooppad voel ek my toon haak vas. Nie net my toon nie, my hele voet trek op ‘n knop en ek kan hom nie beweeg nie. Was dit nou maar my linkervoet wat rustig langs die pedale lê, maar nee, soos die duiwel dit wil hê is dit nou die een op die petrol. Pappa sê nog: “Stadig vrou,” toe ek so bietjie van die pad afwyk van die pyn, dat jy net sien klippe trek. Ek probeer toe met die ander voetjie die briek trap, maar dit werk ook nie te lekker nie. Ek sal nou nie in groter detail ingaan nie, ons sê maar net daar is baie gegil, gebid en gevloek terwyl Pappa onder my rok moes induik om my voete van die pedale af te skeur. Ons kom toe uiteindelik ongedeerd tot stilstand. Pappa spring onmiddellik uit en plak my terug op die passasierssitplek. Ek met my gout voet en haas-in-die-hoof-ligte oë. Die volgende dag word ek dokter toe gesleep en dis net daar waar Pa sy woord gee dat daar 20 kilogram binne ‘n jaar min-der sal wees om te dra. Nou ja. Die einde van die jaar gaan ek hopelik nie meer toeboude wees nie. Die spens is leeg en ek moet groceries loop koop maar wat eet mens, as jy nou soos Kieries moet pik.  

Eendag terwyl ek op Facebook na die kleinkinders se foto’s kyk klik ek per ongeluk op ‘n advertensie wat praat oor gewig verloor. Allamagtag! Word ek toe oorval van die diëte, dis asof die mense my gedagtes kan lees. Orals waar ek kyk kwyn vrouens weg voor my oë. Dis pille en inspuitings, en ek sien selfs een vrou Glad Wrap oor haar maag draai in die nag wanneer sy gaan slaap. Ek dink sy het gemmer onder die konkoksie gesit of iets. Nee wat. Ek het nou al met ‘n aartappel gaan slaap vir my rustelose bene en Pappa was nie happy nie. Hy deel graag die bed met klein Trieksie, maar ‘n aartappel?...

Dis toe dat ek op die Banting ding af-kom. Wragtag! Mense eet vet tjoppies, en crispy hoendervelletjies en steak en room en hulle verloor gewig! Ek wys vir Pa en hy loop slag onmiddellik ‘n skaap. Hy het lank-laas self sy tone gesien, so hy is toe sommer summier ook aan boord. Ek koop blomkool dat dit hop en ek en Pappa eet tog te lekker aan die herderspastei, cauli-rys en ander goed wat nou koolhidrate vervang. Ons verloor gewig en brag by die kerk oor hoe ons ook nou ‘n ‘lifestyle change’ gemaak het. Dis alles te goed om waar te wees.

Iewers in my agterkop klop iets nie lekker nie. Ek onthou die man wat die hoë protiene dieet gedoen het vroeër jare. Ek dink sy naam was Atkins. Ek begin toe meer en meer lees oor die kos ding en besef dat mens eintlik anders na groente moet begin kyk. Ons Afrikaners hou mos so daarvan om ‘n suikertjie by alles te gooi, of elke liewe tweede ding te ‘mash’. Of ‘n pakkie bruin uiesop by te bliksem. Ons dink ook altyd eerste aan die vleis en sit dan ‘n paar bydisse op die tafel om ons gewetens te sus.

“As ek met nuwe oë na groente begin kyk en dit met interessante smake kombineer, sal ek en Pa miskien verkies om dit te eet, eerder as die gewone ou gebraaide wors, of steak met ‘n sousie.”

As ek met nuwe oë na groente begin kyk en dit met interessante smake kombineer, sal ek en Pa miskien verkies om dit te eet, eerder as die gewone ou gebraaide wors, of steak met ‘n sousie. Moet my nou nie verkeerd verstaan nie, braai sal ons braai. En steak eet sal nooit van ons borde afval nie, maar daar is immers drie etes ‘n dag om vol te maak en wat het ek nou anders om te verloor as gewig?

Die disse wat ek hieronder uitprobeer het was ‘n groot sukses. Pa het gedink hy eet in ‘n fensie Europese restaurant, al is dit eenvoudig en maklik om te maak. Mens is nooit te oud om te leer nie en as dinge so aangaan is ons tweetjies die maerste en mooiste smulpape in die Langeberge. O ja, ek en  Pappa kan nou al twee weer toonplakkies dra, want my tone is nie meer krom van die gout nie en hy kan syne sien!

lekkerbekkig february 2016 1

1. Botterskorsie met gemmer tamaties en lemmetjie joghurt

Bestanddele
1 Medium botterskorsie, met skil aan en pitte verwyder. Sny die skorsie in die lengte, haal die pitte uit en sny dan in 1cm dwars ringe.
45ml Olyfolie
6 Groot tamaties, gehalveer in die lengte
3cm Stuk vars gemmer, fyngerasper
1 Rooi rissie, sade verwyder en fyngekap
2 Vingers knoffel, fyngekap
30g Donker Muscovado suiker
Growwe sout en swart peper

Lemmetjie joghurt
120g Griekse joghurt (nie lae vet nie, kry volroom)
Skil van ‘n lemmetjie, fyngerasper
Sap van 1 1/2 vars lemmetjie
1/4 Teelepel gemaalde komyn
30g Kasjoeneute, fyngekap
10g krakerige salotte (bros gebraai of in die winkel gekoop) - opsioneel
5g vars koljander

Metode
Verhit die oond tot 240ºC. Meng die botterskorsie met 2 eetlepels olie, 2 teelepels sout en ‘n bietjie gemaalde swart peper. Sprei dit uit in ‘n geoliede oondpan en bak vir tussen 35-40 minute totdat hulle mooi bruin is. Sit eenkant om af te koel.
Verminder die oondtemperatuur na 170ºC.
Sit die tamatiehalwes op ‘n geoliede oondpan (jy kan ook waspapier gebruik as jy sou wou). Hou die velkant van die tamaties onder.
Sprinkel met 1/4 teelepel van die sout en gooi die oorblywende eetlepel olyfolie oor. Kook vir 80 minute of totdat die tamaties sag is.
Sit die gemmer, rissie, knoffel, suiker en 1/4 teelepel sout in ‘n klein mengbak.
Meng om ‘n pasta te vorm en sit dit op die tamaties. Kook vir ‘n verdere 40 minute totdat als gekaramelliseer het. Sit eenkant om af te koel.
Sit al die bestanddele vir die lemmetjie joghurt in ‘n klein bakkie, met ‘n halwe teelepel sout en gemaalde peper na smaak.
Meng en sit in die yskas totdat jy dit nodig het.

Om op te dien:
Versprei die botterskorsie oor ‘n bord en sit die tamaties tussenin. Gooi bietjie van die lemmetjie joghurt daaroor asook die koljanderblare, kasjoeneute en salotte (indien jy dit gebruik) en bedien.


lekkerbekkig february 2016 2

2. Beet en bokmelkkaas terrien

As jy nou mense wil impress, en sommer vir Pappa ook, haal jy hierdie dis uit. Die tannies by die kerkbasaar kyk sommer met nuwe respek na my. Probeer soveel kleure beet in die hande kry as wat jy kan. Deesdae kry mens mos geel en oranje bete, en dan natuurlik die donker perses ook.

Bestanddele
4 Pers bete (so 300g)
4 Goue bete (so 300g)
2 Eetlepels vars grasuie ,fyngekap
2 Eetlepels gekapte pietersielie
1 Eetlepel vars oreganum
2 Vingers knoffel, fyngekap
400g Bokmelkkaas (of roomkaas as jy nie bokmelk kry nie)
Sout en swart peper

Metode
Vat ‘n 10x20cm bak, vryf met botter of spuit Spray and Cook en sit waspapier binne in sodat dit styf teen die hoeke inpas.
Skrop die beet en kook hulle vir so 30-40 minute in water totdat hulle gaar is.
Verkoel en skil die skilletjies af.
Terwyl die bete afkoel meng die kaas, kruie en knoffel en geur na smaak.
Sny die bete in verskillende diktes, party so 3mm, ander 5mm, ens.
Plaas ‘n laag van die geel/goue bete onder in die bak.
Smeer ‘n dun laag van die kaasmengsel daaroor. Wissel so af totdat jy omtrent so 6 lae van die goue bete onder in het. Skakel dan oor na die pers bete toe, totdat die bak vol is.
Trek die waspapier bo-oor en plaas ‘n gewiggie, of iets swaars bo-op.
Laat staan in die yskas oornag vir die terrien om te set.
Wanneer jy hom uithaal sit ‘n bord bo-oor die bak, draai hom vinnig om en voila! Daar het jy ‘n asemrowende terrien wat almal sal laat “oooh en aaah”.
Sny hom met ‘n mes wat jy in warm water dip sodat als nie uitmekaar geruk word wanneer jy dit sny nie.
Indien dit baie warm is, of jy nie 8 ure het om te wag nie, kan jy ‘n bietjie gelatien in die kaasmengsel inmeng om die proses vinniger te maak.
Bedien saam met ‘n lekker raket slaaitjie.


lekkerbekkig february 2016 3

3.  Salm geposjeer in Earl Grey tee met suurlemoen Courgetti

Dit als klink baie vreemd maar dis heel eenvoudig. Die courgetti is ‘spaghetti’ gemaak uit murgpampoentjies uit. So mens smokkel so bietjie met jou pallet deur te dink jy eet spaghetti, maar op die skaal sal jy wel die verskil sien tussen die twee. Koop vir jou een van die masjientjies wat sulke spaghetti uit omtrent enigiets kan maak, nie net uit murgpampoentjies nie.

Bestanddele
Vir die salm en sy glanssousie
1 of 2 Earl Grey teesakkies
300ml Kokende water
4 Eetlepels botter
4 Eetlepels esdoring-stroop (maple syrup) of jy kan heuning gebruik vir ekstra geur
Sout
4 Salm filette

Vir die courgetti en sous
4 Groot murgpampoentjies
6 Eetlepels goeie olyfolie
2-3 Eetlepels suurlemoensap
2 Groot handevol gekapte raket (rocket)
2 Eetlepels Parmesaan kaas, fyn gerasper
Sout
Swart peper, vars gemaal

Metode
Sit die teesakkies saam met 300ml warm water in ‘n teepot en laat dit staan totdat dit deurgetrek het.
Gooi die tee in ‘n groot genoeg pan waarin jy al die salm filette kan pas.
Voeg die botter en stroop/heuning by en laat stadig kook vir so 15 minute totdat die mengsel met die helfte verminder het. Sit eenkant om effens af te koel.
Gebruik jou masjientjie om die courgetti te maak, deesdae sien ek kan mens die courgetti sommer klaargemaak by party supermarkte koop.
Klits die olyfolie en suurlemoensap saam totdat dit emulsifiseer en gooi oor die courgetti.
Meng die gekapte raket en parmesaan kaas deur die courgetti en geur met sout en peper na smaak. Voeg meer suurlemoensap by indien jy van ‘n bietjie meer byt in die courgetti hou.
Geur die salm filette met sout en peper en sit dit in die pan met die Earl Grey sousie.
Kook die salm stadig vir so vyf minute en draai om.
Kook vir nog so vyf minute aan die ander kant, of totdat die salm mooi pienk in die middel is.
Haal die filette uit en kook die sous verder totdat dit dik genoeg is om ‘n glanssousie te vorm.  Gooi oor die salm en bedien op die courgetti.


lekkerbekkig february 2016 4

4.  Murgpampoentjie en haloumi fritters (want poffertjies klink net nie vir my reg nie)

Hierdie koekies is baie lekker saam met ontbyt of as ‘n versnapering saam met ‘n glasie wyn. Jy kan hulle so groot of klein maak as wat die geleentheid pas. Baie beter vir jou en volgens my, lekkerder as koeksisters.

Bestanddele
Fritters
3 Medium murgpampoentjies, gerasper - omtrent so 580g
2 Klein salotte, fyngekap
2 Vingers knoffel, fyngekap
fyngerasperde skil van 2 lemmetjies
60g koekmeel
2 Eiers, lig geklits
2 1/2 Teelepels gemaalde koljander
1 1/2 Teelepels gemaalde komyn
150g Haloumi kaas (of feta) opgebreek in 1-2cm Blokkies
150ml Olie vir die braai van die fritters
Sout en peper na smaak

Lemmetjie en komyn suurroom
200ml suurroom
5g vars koljander, gekap
1/2 teelepel gemaalde komyn
fyngerasperde skil en sap van 1 lemmetjie

Metode
Sousie
Meng al die bestanddele saam in ‘n klein bakkie. Gooi 1/4 teelepel sout en swart peper by en sit in die yskas totdat jy dit nodig het.

Fritters
Plaas die gerasperde murgpampoentjies in ‘n vergiettes (sif) en gooi ‘n teelepel sout daaroor. Laat staan vir so 10 minute en druk meeste van die water uit. Hou klein bietjie van die nattigheid in.
Sit die murgpampoentjies in ‘n groot bak en voeg die salotte, knoffel, lemmetjie-
skil, meel, eiers, gemaalde koljander, komyn en ‘n bietjie swart peper by. Meng goed en vou dan laastens die kaas liggies in sodat dit nie te veel opbreek nie.
Gooi genoeg olie in ‘n plat pan sodat dit so 2mm tot 3mm hoog is, afhangende van hoe groot jy die fritters wil maak.
Maak balletjies met ‘n lepel en bak in die olie totdat hulle goudbruin is. So 6 minute aan elke kant. Indien jy groter fritters maak, bak in die olie totdat hulle bruin is en sit dit dan in die oond op so 220ºC vir nog 5 minute totdat hulle regdeur gaar is.
Bedien met die sousie aan die kant.


lekkerbekkig february 2016 5

5.  Been brousel

Goeie dinge bly maar goed. Die oumense het hier op die plaas altyd ‘n pot op die stoof gehad met ‘n brousel in. Al die bene, groenteskille, ens. in die kombuis het daarin gegaan en dis gebruik vir soppe, souse en alles en nog wat. Deesdae kom hierdie brousel nou weer in die mode sien ek. Ek lees ook dat vele van die dieet-mense dit gebruik, alhoewel dit ‘n vereenvoudigte weergawe daarvan is. Al die minerale en voedingstowwe in die brousel is goed vir omtrent als, van gout tot maer-word blykbaar. Hier op die plaas is dit maklik vir my om bene te kry, ek hou hulle net uit wanneer ons slag en kook dan sommer die hele spul op. Murgbene en al die ander bene wat oorbly nadat ek ‘n Sondag middagete gekook het. Dit hou nogal lank in die yskas en is soveel beter as enige van die aftrekselblokkies wat jy in die winkel koop. Dieselfde geld vir hoender en bees broue. So halwe koppie van die brousel op ‘n koue nag is ook nie te versmaai nie. Drink hom sommer net so.

Hier is ‘n eenvoudige resep

Bestanddele
2-3kg Bene
2 Handevol klein uitjies, worteltjies en seldery
1 Eetlepel swart peperkorrels
‘n Paar lourierblare

Ek gebruik ‘n stoompot want dan hoef ek nie die hele tyd die water dop te hou nie. Gooi al die bestanddele in ‘n pot, bedek met water en kook vir 8 ure of totdat jy dink al die goedheid is nou uit daai bene uitgekook. Die bene moet so skoon wees dat dit lyk of jy hulle op die strand opgetel het. Gooi deur ‘n sif en plaas die brousel in die yskas totdat jy dit nodig kry. Maak sommer so een keer ‘n week een, sodat jy altyd van dit in die yskas het. Jy sal nie glo hoe dit jou kos se geur verbeter en beïnvloed nie.
Onthou om eers die murg uit die murgbene te eet voordat jy dit deur die sif gooi. Want as daar nou goeie vet op hierdie aarde is, is dit die vet wat uit ‘n murgbeen kom. Daar is nie ‘n dieet in die wêreld wat vir my gaan vertel dis nie goed vir my nie. Ek en Pa eet dit sommer net só met bietjie sout en wit peper, want ‘n broodjie mag mos nou nie meer ons lippe kruis nie.


Bronne
Hemsley & Hemsley - http://www.hemsleyandhemsley.com
Ottolenghi - http://www.ottolenghi.co.uk