Volg ons op Facebook

Sop vir jouuu!

Written by  LekkerBekkig | April 8, 2016

Na die vreeslike geharwar en gekokery met die langtafel is Della baie ingenome met haarself, maar tog baie uitgeput. Dit vat dit uit 'n mens uit om jou siel op 'n bord te dis.

april 2016 kos 1. Intro header 01

Die hele dorp is deesdae gaande oor haar en selfs dit eis 'n tol. Al die uitnodigings, die publieke verskynings, die gemeenskapswerk haal dit uit enige middeljarige se energiebakkie uit. Dis Maandagoggend, Della doen haar gewone oggend roetine van skottelgoedwas, 'n lekker lang bad vat, manikuur, pedikuur, ooghare pluk, bene waks en dies meer. Toe sy teen so elf uur reg is om haar gesig vir die eerste keer by die kamer uit te steek stap sy kombuis toe vir daardie derde koppie boeretroos terwyl haar gedagtes deur die afgelope maand se gebeure sif.

Daar was die lint sny by die plaaslike kwekery wat 'n nuwe vetplantvleuel oopgemaak het. Die voorlegging by die handelskamer oor hoe om jouself te bemark deur jou beste kant voor te hou op foto's. En die trofee vashou tydens die oorhandiging van die plaaslike krieket kampioenskappe. Wat kop en skouers uitstaan bo alles vir Della was die aand toe sy die wonderlike taak toegeken is om die bladsye om te blaai vir die wêreldberoemde orrelis wat by die Grootte Kerk kom optree het. "Ja, dit was inderdaad 'n voorreg, veral toe die hele gehoor na die vertoning op hul voete was om my toe te juig oor die wonderlike tydsberekening wat ek vertoon het. Van die mense wat van dié dinge weet het gesê ek het musiek in my DNA," vertel Della vir haar vriendinne wat daardie oggend besig was om koeksisters te maak vir die kerkbasaar.

Della glimlag terwyl sy haar pad vind na haar gereelde koffiewinkel waar sy haar pot tee kan geniet - ten midde van die waai beweging wat sy voortdurend moet maak vir al die mense wat haar gretig groet. Sy dink met 'n sekere mate van heimwee aan die dae toe sy sorgvry - en sonder aandag van soekende oë en tonge - haar gang kon gaan. Ag ja.

Frikkie, die haarkapper, kom gesels vinnig om haar afspraak later die dag te bevestig. Sy hoor 'n geskarrel by die venster en kyk op. Daar voor die venster staan drie vroue, hare perfek gekap, en gil vir Frikkie. Sy kyk in die spieël en besef liewe Frikkie is besig om hulle almal vir die gek te vat. Hul almal, sy ingesluit, het presies dieselfde kapsel, dieselfde kleur van verskillende bruin, blond en 'n tikkie rooi wat net effe anders op elke kop vertoon. "My magtag," dink sy, "wat gebeur as Frikkie die dag 'n slegte dag het en ons almal stap met pers hare rond, glimlaggend want ons dink dis mooi dat die hele dorp met dié kapsel pronk. Nee, dis tyd dat ek stad toe gaan vir nuwe bloed."

Net daar bel sy haar man en deel hom mee dat sy 'n tog stad toe moet aanpak, sommer later dieselfde dag, om proviand te loop koop. "Ek slaap sommer oor liefie, ek sien jou oor 'n dag of twee." Gelukkig weet manlief dat proviand koop 'n groot taak is wat sy eie tyd vat.

So sak Della later die dag stad toe. Bloem om presies te wees. Dis nou nie 'n dagreis te perd nie, maar dis ver genoeg. Sy boek by haar gunsteling gastehuis in, en besluit om haarself uit te vat vir aandete by een van die vooraanstaande restaurante in die stad. Sy ken iemand daar, en ten spyte van die rye mense wat buite staan en wag vir 'n tafel, kom sy in en kry die beste tafel in die huis. Maar natuurlik. "Ek sal begin met 'n glasie water," vra sy die kelner wat beleefd vir haar knik terwyl hy die spyskaart aan haar oorhandig.

"Oooo, eh-eh," dink hy. "Dis weer een van dáái."

Della se mond water met al die disse op die spyskaart. Gravlax van salm, truffels uit Frankryk, oesters uit Nieu Seeland, Wagyu beeshaas en eend uit die Ooste, om net 'n paar te noem. Sy sit diep in haar verlustiging toe die kelner haar amper skrikmaak met die water wat sy bestel het.

"Is u reg om te bestel?" vry hy half indringend, terwyl hy na die rye mense by die deur kyk en die drie leë stoele langs haar. Sy giggel, "Maggies maar julle het 'n fantastiese spyskaart! Gee my nog so rukkie seblief. En nog 'n glasie water."

So gaan dit vir nog 'n halfuur aan. Della het 'option paralysis', sy wil alles op die spyskaart hê, maar kan tog nie haar vinger sit op waarvoor sy spesifiek lus is nie. Sy kyk later na al die heerlike soppe en dink dis dalk 'n goeie manier om haar ete te begin. Dis asof die kelner haar gedagtes lees toe hy vir die vierde keer terugkom, nou by half ongeduldig verby. Hy sien sy kyk na die entrées en sê, "sop vir u dame?" Sy kyk speels na hom en antwoord terwyl sy haar wysvinger voor sy neus swaai, "sop vir jóuuu".

april 2016 kos 2. Chicken soup 02

Hoender, galangal en kokosmelk sop

Hierdie heerlike Taiwannese sop is lig, geurig en lekker in die winter, herfs of selfs die somer. Galangal is familie van gemmer, so jy kan gewone vars gemmer gebruik indien jy nie galangal in die hande kan kry nie. Die soet, suur, branderige en sout smake moet perfek balanseer om 'n hemelse simfonie op jou tong te verwek.

Bestanddele

750ml kokosmelk blikkies
2 stukkies sitroengras - slegs die wit gedeelte, fyngeslaan met 'n mes
5cm galangal of gemmer, in stukke gesny
4 salotte, fyngekap
400g hoender sonder bene of vel, gesny in happie groottes
2 eetlepels vissous
1 eetlepel palmsuiker - fyn gesny (of gewone bruinsuiker)
200g klein tamaties
150g sampioene
3 eetlepels lemmetjiesap
6 makrut of 'kaffir lime' blare
3-5 klein rissies, fyngekap
vars koljander blare

Metode

Sit die kokosmelk, sitroengras, galangal en salotte in 'n pot en verhit. Laat dit kook vir so vyf minute

Voeg nou die hoender, vissous en palmsuiker by en kook vir so vyf minute of net totdat die hoender deurgekook is. Maak seker jy kook die hoender nie te lank dat dit droog en taai begin raak nie. Dit kook taamlik vinnig.

Voeg nou die tamaties en sampioene by en kook liggies vir twee tot drie minute. Voeg laastens die lemmetjiesap, lemmetjieblare en rissies by en maak seker dat die tamaties se skilletjies nie begin breek nie. Proe en bedien met vars koljanderblare. Die dis is nie veronderstel om te warm te wees van die rissies nie. Dit moet perfek balanseer.

april 2016 kos 3. Beetroot soup 03

Borscht of te wel beetsop met beeslende en suurroom

Hierdie beetsop kom uit die Oos Europese lande en daar is verskeie maniere om dit voor te berei. Hierdie is my interpretasie. Wat ek daarvan hou is dat dit eenvoudig tóg kompleks is, en die gebraaide steak onder in die dis gee mens 'n aangename verassing. Die sop moet vir my palet nie te soet wees nie, eerder meer 'n bees-smaak met 'n ondertoon van beet en die wonderlike aardse smake van hierdie pragtige pers herfsbol.

Bestanddele

Bees ekstrak

1 sak bene - kry A-graad bene dit verbeter die smaak van die sop
1 pak murgbene - so ses van hulle
3 groot bruin uie fyngekap
3 stukke selery, fyngekap
1 wortel, fyngekap of gerasper
Sout en witpeper

Metode

Braai al die bene in 'n groot pot. Doen dit 'n paar bene op 'n slag. Hoe meer die pot onder aanbrand hoe meer smaak sal jy uit die ekstrak kry. As ek praat van aanbrand bedoel ek daardie bruin dele wat onder aan die pot vassit, nie swartgebrande bene nie. Verwyder dié wat klaar gebraai is en sit dit eenkant in 'n bak, totdat jy deur alles gebraai het.

Haal al die bene uit en braai nou jou uie in dieselfde pot. Roer hulle goed deur sodat die uie al daardie wonderlike smake optel wat onder in jou pot vassit.

Voeg 'n bietjie water by as dit nodig is om die aanbrandsels los te kry.

Braai die uie tot deurskynend en voeg dan die res van die bestanddele by. Braai vir 'n rukkie en gooi nou die bene by voordat jy die pot volmaak met water.

Gooi heelwat sout oor, asook wit peper en kook vir so twee ure. Hou die aftreksel dop dat dit nie oorkook of aanbrand nie. Roer gereeld. Jy sal ruik wanneer die aftreksel regtig begin trek. Die huis sal ruik na 'n lekker kombuis waar daar gekook word. Hoe langer jy hierdie aftreksel kook hoe meer smaaklik sal dit wees.

Die Borscht

Bestanddele

2 liter beesaftreksel
So 6 rou heel bete - gewas
Suurroom
3 sirloin steaks

Metode

Kook die rou bete in die beesaftreksel totdat hulle gaar is. Verwyder en laat afkoel.

Skil die bete af en rasper nadat hulle afgekoel het.

Voeg die gerasperde beet by die aftreksel en kook verder vir so halfuur.

Tien minute voordat jy die sop bedien moet jy die sirloin steaks apart braai.

Braai die steaks op 'n baie hoë hitte vir so drie tot vyf minute aan elke kant, die steaks moet 'medium rare' wees. Verwyder van die pan en laat rus vir vyf minute. Sny nou in 1cm dik stukke. Gooi al die sappe wat van die steaks afgekom het - terwyl jy hulle laat rus het - by die res van die sop in die pot.

Om op te dien

Plaas 'n paar stukke steak onder in elke bord. Gooi die beetsop bo-oor en bedien met 'n eetlepel suurroom bo-op die sop.

Bedien met lekker geroosterde Ciabatta brood.

april 2016 kos 4. Vegetable soup 04

Moekels se Groentesop - met 'n vleisie by

Ek was op 'n stadium in my lewe 'n vegetariër, daar iewers in my twintigs toe ek nog nie ordentlik mens was nie. My ma kon dit glad nie verstaan nie, want volgens haar, "soek die liggaam tog maar 'n ou vleisie". En ek dink sy was reg. Hierdie sop is baie eenvoudig, want daar is net vyf bestanddele. Dis baie belangrik dat die tekstuur reg is, die wortels en aartappel moet gerasper word - op daardie grootste deel van die rasper wat mens gewoonlik gebruik vir kaas. Ek hoop julle verstaan.

Om te begin

Bestanddele

1 sak A-graad bees-bene
'n paar murgbene
1 pakke bees 'chuck'
1 pakkie beesskenkel, been in
2 uie, fyngekap
2 wortels, gerasper
1 aartappel, geskil en gerasper
1 blikkie tamaties, reeds fyngekap
Sout en wit peper

Metode

Braai al die bene en vleis, stuk-vir-stuk in 'n stoompot totdat alles lekker bruin en gekaramelliseer is. Moet dit nie brand nie.

Verwyder van die pot en braai die uie in dieselfde pot. Skraap die bodem van die pot om al die lekker geurige dele los te maak sodat dit in die uie in braai.

Gooi al die vleis terug in die pot, vul met water. Gebruik soveel water as wat jy sop wil hê. Bring als tot kookpunt en sit die stoompot se deksel op. Laat dit stoom vir so uur.

Haal van stoom af. Haal die stukke vleis uit en sny in byt-grootte stukkies voordat jy dit weer teruggooi in die pot. Gooi nou die res van die bestanddele by en stoom vir nog 'n uur. Maak seker jy gooi lekker baie witpeper by, veral wanneer jy die murg uit die murgbene uiteet. Ek bedien gewoonlik 'n murgbeen in elke bord, want daar is niks soos 'n murgie by hierdie sop nie. Geniet.

april 2016 kos 5. Bean soup 05

Boontjiesop met gerookte eisbein en Savanna

Appel en vark is groot maatjies, gooi nog 'n paar suikerboontjies by dan het jy 'n wenner.

Bestanddele

1 sakkie suikerboontjies - jy kan hulle oornag week, of in die mikrogolf doen, of net so in die stoompot sit. Wat jy ook al doen, gebruik die water waarin jy hulle geweek het, dit bevat baie smaak.
1 sak murgbene
1 gerookte eisbein
300g beeskookvleis - 'chuck' of 'shin', been in
5 groot uie, fyngekap
4 botteltjies Savanna Dry appelsider
3 Lourierblare
Paar stokkies vars tiemie
Sout en baie wit peper
Suurlemoen

Metode

Braai al die vleis, behalwe die eisbein, stadig tot bruin. Doen dit in klompe want alles gaan nie in die stoompot pas nie.

Verwyder die vleis van die pot en braai die uie tot goudbruin.

Sit al die vleis nou terug, saam met die eisbein.

Gooi die Savanna by en ook water, die lourierblare en tiemie.

Stoom vir 'n uur.

As jy die bone in die mikrogolf doen, sit dit op hoog met genoeg water vir 'n halfuur. Los vir 'n halfuur in die mikrogolf, met 'n deksel op, om verder te stoom.

Haal die stoompot van die stoom af en sny al die vleis van die bene af sodat dit in hapgrootte stukkies is. Haal ook al die eisbein van die been af en sny in klein stukkies.

Gooi nou die suikerbone, met die water waarin dit gekook het, in die pot en stoom vir nog 'n uur, of totdat dit na boontjiesop begin ruik.

Ek hou van my sop nie te dik nie, jy kan van die boontjies fyndruk met 'n 'masher' of die sop net so bedien met lekker vars brood. Onthou om te proe en te geur met sout en wit peper. Ek druk 'n bietjie suurlemoensap uit en gooi dit oor die sop net voordat ek dit bedien. Dit bring al die smake lekker saam en lig die sop.

april 2016 kos 6. Bredie and mash 06

Beesstert met kapokaartappels

Wat is 'n herfs-tafel nou sonder 'n lekker beesstert? My ouma het dit altyd met stampmielies bedien maar ek doen dit vandag met doodgewone kapokaartappels. Dis nou indien jy 'n beesstert in die hande kan kry wat jy kan bekostig! Verby is die dae wat dit deel van afval uitgemaak het. Dit kos 'n arm en 'n been maar dis die moeite werd. So vleisie wat van die been afval, en 'n beentjie wat so lekker gesuig kan word, is darem maar net te lekker.

Bestanddele

1 eetlepel olyfolie
1½ kg beesstert
200g pancetta, in klein stukkies gesny
4 naeltjies
2 vingers knoffel, fyngekap
6 stukke selery - 3 daarvan baie fyngekap en 3 in groter stukke gesny
1 wortel, fyngekap
6 klein uitjies, geskil
70g tamatiepasta
500ml droë rooiwyn
2 lourierblare
2 x 400g blikkies tamaties
Lekker brood en kapokaartappels

Metode

Verhit olie in 'n lekker groot swart pot. Gooi sout en peper oor die beesstert en braai tot bruin. Verwyder van die pan en sit eenkant.

Braai nou die pancetta, fyngekapte selery, naeltjies, knoffel, wortel en uie in dieselfde pan tot alles mooi bruin of bietjie sag is. Hou dit aan roer sodat dit nie aanbrand nie. Sit laastens die tamatiepasta by en braai vir nog so twee minute. Gooi die wyn en lourierblare by en laat dit begin kook en 'n bietjie verdik voordat jy die beesstert teruggooi in die pan saam met die blikkies tamaties. Gooi ook 250ml water by. Sit in 'n warm oond en kook stadig teen 180°C vir so 3 ure of totdat die vleis van die bene begin afval. Voeg dan die laaste helfte van die selery by en kook vir nog so 40 minute, sonder 'n deksel totdat die selery sag is. Proe en geur met sout en peper na smaak. Bedien met vars gekapte pietersielie, 'n klein bietjie gerasperde suurlemoenskil en warm kapokaartappels.