Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Oranjerivier Cellars - Jou vriend vir alle seisoene

Written by  Harry Haddon | May 16, 2014

Wanneer ons ʼn wyn kies, speel die weer en seisoene ʼn groot rol in ons keuse. Dis ʼn gewoonte wat natuurlik heeltemal sin maak, maar tog ook ʼn tikkie vreemd is.

    Waarom sal jou keuse van wyn dan nou deur die weer se gode beïnvloed word? ’n Sauvignon Blanc drink mos net so lekker kom reën of sonskyn? Of proe hy dan nou anders omdat jy dink hy moet?
    Ek kan verstaan hoe ’n swaargewig-eik en tannien-gelaaide Cabernet Sauvignon nie jou eerste keuse tydens ’n warm somersdag gaan wees nie. En as die winter nader kom, en die warm kaggelvuur brand en jy lê onder ’n dik duvet, sal ’n helder en fris Chenin nie noodwendig langs jou bedtafeltjie staan nie.
    So, sal mens dan jou wyn-en-weer-paring net soveel aandag gee as die keuse van watter kos en watter wyn goeie bedmaats is? Moet sommeliers ook sommer ’n kursus in klimaatstoestande gaan doen? Miskien kan wynmakers selfs ’n aanwysing op hul bottels aanbring: “Beste saam met gedeeltelik bewolkte weer met ʼn kans op donderstorms in die agtermiddag.”
    Maar soos ons almal weet, is reëls gemaak om te breek. Tog is ons is meestal gewoonte-diere. Ons is so gespeen, en aanvaar maar blindelings die meeste konsepte as die norm; wanneer ons eintlik die reëls kan verbreek en nuwe ervaringe met ons neus en palet beleef. Wit wyn gaan mos saam met vis en rooi die beste saam met vleis. Sauvig-non Blanc is vir kuier langs die swembad, en Port is vir voor die kaggelvuur bestem.
    Op die oppervlak klink dit soos goeie raad. Maar is dit raadsaam om jou wyn so te kies? Los dit jou nie omtrent so kreatief soos ʼn Hallmark-kaartjie met die woorde ‘I Love You’ nie? Ge-cliché, onoorspronklik, en vervelig.
 Untitled-4   Ons wynfokus vandeesmaand is op een van Suid-Afrika se grootste wynkelders. Oorspronklik gevestig in 1965 langs wat destyds bekend gestaan het as St Antonio se rivier, vervaardig Orange River Cellars nagenoeg 140 000 ton druif elke jaar. Dis ’n enorme klomp druiwe. Vergelykbaar met iets soos 20 000 groot olifante se gewig in druif!
    Die wyn waarna ons dan ook vandeesmaand kyk, is hulle Colombard; ’n verfrissende wyn wat gewoonlik beskou word as die ideale somerwyn. Maar kom ons kyk of ek daardie vooropgestelde konsep kan omswaai.
    Colombard het sy oorsprong in Frankryk waar hy meer bekend is as een van die druifsoorte wat gebruik word in die vervaardiging van Cognac. Maar hierdie hoë-opbrengs-variëteit maak ook ʼn heerlike vars wyn met geure van perske en pomelo.
    In Suid-Afrika het ons Colombard-wingerd gretig geplant aangesien hy sy suurgehalte in ons warm weerstoestande goed behou. Saam met Chenin Blanc vind die meeste van ons Colombard dan ook sy pad in ons brandewyne in.
    Die Orange River Cellars se weergawe is effe-droog met waatlemoen- en perskegeure, en as hy lekker koud is, is dit moeilik om te stry dat dit ’n somerwyn is; soos die John Platter Guide ook aandui.
    Maar wat van die winter? Ek gaan bietjie kul en kos in die prentjie inbring. As jy moeg is vir swaar, hartlike beesbredies en iets soos ’n lekker Thai-kerrie-dis in die winter wil maak, kan jy die Colombard maar nadersleep. Sy soet vrugte- en goeie suur-gehalte maak van hom ’n goeie bedmaat vir bykans enige aromatiese dis. Selfs ’n koue effe-droog wyntjie soos hierdie kan nie voor die kaggelvuur van die hand gewys word nie.
    As jy jou randjies verder wil rek, kan jy ook Orange River Cellars se wit wyn in ʼn boks aankoop. Dis ’n gemaklike, vars, en ‘geen haas om te drink’-wyn.
Untitled-5    Ons is dan ook geneig om die koue winter weer met ’n soetigheid te assosieer. Ons het al almal met ’n soet sjokoladedrankie in die bed knus geraak op ’n koue winteraand. Die rykheid en dekadensie van soetigheid skep sommer ’n gevoel van warmte. Maar onthou ook hoe lekker ’n soet roomys op ’n warm somersdag kan wees. Soete saligheid.
    Orange River Cellars se bokswyne is ook ’n wenner op ’n warm somersdag. Hulle Johannisberger soet wit wyn is soos om ’n yskoue suigstokroomys vir ’n grootmens te geniet.
    Die punt wat ek wil maak, is – moenie dat die weer vir jou voorskryf wat jy moet kies wanneer jy op ’n wyn besluit nie. Wees braaf, eksperimenteer en ontdek nuwe smaakervaringe.  Met hierdie tussen-in-weer die tyd van die jaar kan jy een dag met ʼn koue front op hande sit en die volgende met ’n lekker dag vir die strand en buitelug.
    Soos die seisoene en weer verander, moet jou wynversameling byhou. Of jy nou met my saamstem of nie dat jy ’n koue Colombard in die middel van die winter kan geniet, bly dit ’n uitstekende wyn vir alle geleenthede – veral hierdie tyd van die jaar.

Eish in jou wyn

Ys in jou wyn? A-nee-a!, sal die reaksie van baie wyn-snobs wees wanneer jy hulle die vraag vra. Mens gooi mos nie sout by jou koffie nie! Ys in jou wyn is ʼn doodsonde vir sommige, en tog as jy langs die braaivleisvuur op ʼn hittige middag staan, kan jy maar luister; die ysies klingel graag in die wynglas, selfs soms in ’n glasie rooiwyn ook.
     Ys smelt in jou wyn en sal die wyn verdun, en ook die smaak minder geurig maak. Maar as jy nou nie ’n wyntjie drink wat anderkant R50 ’n bottel kos nie, kan dit mos nie skade  doen nie – veral as dit vrek warm is en die yskas het opgepak, of jy sit doer vêr innie ou Kalahari onder ’n doringboom en staar na die rooi duine met net ’n sakkie ys byderhand. Hoe dan gemaak? Eish … hom maar, broer.
     Wynkenners sal natuurlik aanraai dat jy jou witwyn net liggies verkoel, en rooiwyn so teen kamertempe-ratuur drink; maar onthou selfs rooiwyn word in ’n kelder gestoor voor hy gebottel word, en dis nie jou huis se kamertemperatuur nie.
Aan die ander kant, as ’n goeie wit wyn weer te veel verkoel word, ontsluit sy smaak en geure nie behoorlik nie, en rooi wyn wat te koud is se tannien sal fermer en selfs bitter op die tong val. Nou ja, daar het jy ’n bietjie agtergrond.
     Ons vra vandeesmaand vir kos- en teaterliefhebber Marinda Engelbrecht en die bekende radio-man Eben Cruywagen wat hul mening oor die netelige ‘ysie in die wyn’-saak is. Ons lesers lewer ook hul insette en kommentaar, en sommige gee ook sommer bietjie raad oor hoe jy jou wyn slim kan verkoel.

Untitled-6Marinda Engelbrecht
     Die ys-in-wyn-kwessie sal altyd met ons wees vanweë mense se verskillende voorkeure. Wil jy die wyn koud hê of wil jy dit verdun? Ons drink ons wyne in Suid-Afrika oor die algemeen te warm, omdat kamertemperatuur in Europa heelwat laer is.
Die aanbevole temperatuur vir witwyn is tussen 45° en 55°, en vir rooiwyn  64°.
     Dit is so dat wynmakers baie moeite doen om gehaltewyn met die regte balans te maak, wat jy dadelik afbreek as jy ys bygooi. Daar word ook altyd gepraat oor die glas wat halfvol of halfleeg is. Vir my beteken dit dat daar plek is vir nog wyn en ys, al sê die wyn-snobs ook wat!
     Daar word ook gesê dat ’n te koue witwyn die geure “vashou” en ’n koue rooiwyn is geneig tot ’n bitter karakter. As jy ’n puris is, en nie ys wil bygooi nie, het ek ’n paar voorstelle. Vries druiwekorrels en plaas dit in jou glas wyn, of gebruik herbruikbare ysblokkies, of plaas die bottel vooraf op ys, of in die yskas.
     Iemand het eendag aanbeveel dat ek ysblokkies maak van my oorskiet wyn, maar ek ken nie iets soos oorskietwyn nie. As jy soos ek, verkies om op ’n warm somersdag ys in jou wyn te gooi, gebruik dan genoeg ys, omdat dit kouer is en dan stadiger smelt. ’n Bonus is dat ys die alkohol-inhoud van wyn verminder, en jou dus ook baie help om die volgende dag se kopseer vry te spring.
Marinda Engelbrecht toer tans saam met Herman Lessing met hul gewilde toneel-aanbieding Voorskoot en Lipstiek wat deur Spekko geborg word, en onlangs by die KKNK sy debuut gemaak het. Hulle is 17 Mei by Die Boer in Durbanville, en 24 Mei by die Ou Meul-teater in Paarl te siene.  Vir meer navrae stuur ʼn e-pos aan – This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Untitled-7Eben Cruywagen
     Mark Twain het gesê: “It is better to keep your mouth shut and appear stupid, than to open it and remove all doubt.” Met dié wysheid in die agterkop, weerhou ek my dus van enige enologiese redenasies oor die wenslikheid, al dan nie, van wyn met ys. Wat ek wél weet, is dat dit meer wysheid as geluk kos om goeie wyn te produseer.  Slim, toegewyde mense verduur weke se min slaap om goeie wyn met komplekse smaak te produseer. Elke wynmaker wat sy sout werd is, sal vir jou sê dis erger as kind grootmaak!
     Met respek aan die wat wel ys in hul wyn gooi, elke ordentlike wyn, wit of rooi, moet teen ’n optimale temperatuur op die tong gekoester word. Nou kom jy, ignoreer ál daardie liefderyke sorg van die wynmaker, en foeter ’n blokkie of meer (o, die pynge-dagte!) ys in jou wyn.
     Jy mors met die temperatuur van die wyn en jy verdun die noukeurige samestelling van geure. Jy besoedel dit met munisipale kraanwater! Wyn met ys? Ag nee man! Helaas, nou hét ek my mond oopgemaak, en is al die twyfel uit die weg geruim … ik heb gezegd!
     Eben Cruywagen is ’n bekende radio-persoonlikheid by RSG en is ook ’n deeltydse regisseur van verskeie radiodramas en vervolgverhale wat al op RSG uitgesaai is.

Lesersmening

Koop ’n liter-boksie wyn, sny die bokant af en vries dit. Die wyn vries nie, dit raak soos crushed ice. Skep dan lepels vol in jou wynglas. Dan is die wyn heerlik koud, maar nie verdun wanneer die ys smelt nie. – Jansie van Zyl

Shoo, when you are getting to the 3rd bottle, there’s nothing wrong with a little dilution! - Nicola Wooding

Ek sit ys in alles wat ek drink. – Susarah Du Plessis

Nee geen ys in nie, asseblief! – Frikkie Snyers

Hang af of die wynmaker wel KAN wyn maak. Sommige het hulp nodig! - Leonore Bosman

Untitled-7