Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Pens en pootjies

Written by  Marlene Bramley | May 31, 2014

Na ’n ge-hum en ’n ge-ha oor wat om te kook vir ons Kakamas-uitgawe besluit ons toe om een of ander onverklaarbare rede afval is die gepaste dis.

Dis mos lekker herfskos en orals in winkels in die Kaap sien mens deesdae net pens en pootjies, klaar skoongemaak, op die rakke vir jou lê en oogknip. O nee wag, dit was die skaapkop wat langs dit gelê het wat ogies gemaak het.

In sommige mense se boek is afval net pens en pootjies, ander kook weer die kop, tong, derms en harslag (gemaald of klein gesnyde stukkies long, hart en lewer en soms selfs die milt, niertjies en peertjies). Dit hang natuurlik alles af hoe kort die pad van jou neus na jou maag is. Ek was braaf genoeg om vir my slagter, Deon van Groenland Slaghuis in Grabouw, te vra vir die pens, pootjies, beespens, skaapkop en harsings. Volgens die mense in die Kalahari sit hulle die harsings in die kleinpensie en dit word dan ’n suitcase genoem. Deon noem toe ook sommer dat die ou mense ’n paar gesnyde beespote asook varktongetjies gebruik het. Blykbaar is skaaptonge nie altyd geredelik beskikbaar nie, en varktongetjies doen die ding.

Food spread1     Ek eet nie afval nie, ek hou van my skaap- en varkvelletjies lekker crispy. Ek het dit dus ook nog nooit gekook nie, maar onthou my familie was so mal daaroor. As kind het ons elke paar maande geslag, en dan word die afval voorberei en met groot genot gekook. Ek kon gewoonlik daardie dae iewers ver van die huis af opgespoor word want ek het ’n neus vir ruik aan my wat enige Jood sal laat skaamkry. In die naam van kuns besluit ek toe nou maar om die affêre te kook, en vir iemand te gee wat dit eet.
     So spring ek op die foon en bel my tannie daar in Heidelberg se wêreld om die familieresep te kry vir die spul. My ouma is nou al 93 en bietjie doof, so om ’n resep uit haar te kry waar ek verstaan wat sy sê en sy hoor wat ek vra, is haas onmoontlik. My tannie moet dus maar vertel. Die laaste ding wat ek nou nog wil doen, is om iewers iets te mis, en dan sit ek met die goed in ’n pot op my stoof en niemand wat dit van my hande wil afvat nie. So ek luister mooi en maak presiese notas.
     Eers word ek vertel van hoe die snitte werk en wat ek moet insit al dan nie. My tannie sê ook uitdruklik vir my ek moet seker maak dat ek die harige kliertjies tussen die pootjies moet uitsny voordat ek enigiets kook. Ha! Het hom!
     So gemaak. Die afval kom aan en ek maak dit oop. Kyk, ek is nie iemand wat vir goed gril nie. Ek maak self my visse dood wanneer ek hulle vang. Ek haal self die derms uit en ek hou van murgbene. Sluk... maar daai skaapoog – hy loer vir my en ek byt vas orals waar mens tanne het en kry als in die pot.
 Wie op aarde sou nou daaraan dink om ’n dier se pote te eet wonder ek terwyl ek vir daai kliertjie sny en soek. Hulle moes baie honger gewees het, of dalk het ’n blinde die pot gestook en almal aan die einde gevoer sonder om te sê wat daarin is. Of soos hullle daarbo in Afrika maak. Ek kan nie die kluitjie by die oortjie uitbring nie, maar sny, sny ek. Daar is hy nou uit. Die harige kliertjie tussen die hoefie. Hy is nou seker reg om te kook.
     Nou moet ek eers ’n bietjie koeksoda oor die pens gooi en dit opkook vir 20 minute, daarna die water afgooi en dan weer kook saam met die res van die afval. Blykbaar verhoed dit dat die hele affêre stink. Dis wat my tannie gesê het. En ou Deon van die slaghuis sê weer ’n koppie duur rooi asyn vat ook die reuk weg. Nou maar toe.
     Ek dog toe so by myselwers dat ek dit in die stoompot gaan kook en dat die reuk dan nie so vreeslik kan ontsnap nie. Ek maak die agterdeur maar oop vir in geval. Ek sien die honde begin in die kombuis draai terwyl daai pens in die koeksoda kook. Die twintig minute kan nie vinnig genoeg verbygaan nie, ek gaan krap maar bietjie in die tuin rond. Tot my verbasing stink dit toe nog nie so erg nie. Nou water afgooi, en dan als bymekaar sit in die stoompot vir so paar ure. Ek kook die twee skaapkoppe apart in ’n groter pot aangesien die stoompot te klein is vir twee skapies se oorblyfsels.
So stoom die pot, die reuk begin deur die huis trek, en ek wonder wat daar gaan uitkom. Ek lees orals op die Internet van spesialisafvalkokers wat almal hulle eie manier het om die lekkerny gaar te maak, en hoe dit in sekere dele van die wêreld as gesogte item en in ander weer as weggooigoed beskou word. Ek weet klaar dat ek nie ’n vaal afval maak nie. Myne kry kerrie by, dis nou volgens die familieresep.
      Na so vier ure dink ek die fotograaf is seker binnekort hier, en ek beter daai pot loop oopmaak en sien wat daaruit klim. Teen hierdie tyd hang daar ’n reuk wat as niks minder as dik VLEIS beskryf kan word nie; mens kan die lug met ’n mes sny.

    Binne die pot is als mooi saggekook maar mens kan nog die pens, kop en ander heel dele van mekaar onderskei. Die vleis moet nou van die bene afgetrek word, alhoewel ek die skaapkoppe so heel as moontlik moet probeer hou vir die foto. Die oog is nou heeltemal ’n ander kleur, waar hy vroeër vir my gekyk het, loer hy nou meer. En seg maar net vir hom hier moet ons voorwaarts en inwaarts. Die tong is styf gekrul. Hieroor seg ook maar niks nie en dink ek moet ons ontwerper herinner om ‘daai tong wat so uit die mond steek’-logo van Lerkkerbekkig te verander.
    My goeie vriend Tjalie bied aan om al die vleis van die bene af te kry, en ek is hom innig dankbaar. Ek dink ek het hom allerhande onaardse goed belowe in ruil daarvoor. Ek maak solank die kerrie en die uie in ’n ander pot met die hoop dat, wanneer ek dit bygooi, die reuk van vleis in die reuk van kerrie sal verander.

Food spread2Die Kerrie

Komynsaadjies
Lourierblare
Bietjie suurlemoensap
Ster-anys
Kardamon of pramdoringsaad (moet my nie vra hoe die bos lyk nie)
Naeltjies
Kaneelstokkie
Borrie – so een eetlepel
Kerrie – medium (so een eetlepel)
Kerrieblare
Bouquet garni
Bruin suiker (een eetlepel)
Asyn
Uie (twee of drie fyngekap)
Koljandersaadjies  (10 daarvan)
Swart peperkorrels (10 daarvan)
Vinger vars gemmer
Knoffel
Port (na smaak)

Metode om die kerriemengsel te maak

Droogrooster al die droë saadjies totdat hulle begin bars. Haal af en maak fyn. Braai die uie, knoffel en gemmer apart totdat die uie deurskynend is. Voeg die kerrie en borrie by en braai dit deur. Voeg dan al die sade by asook die asyn en Port. Kook dit bietjie deur. Voeg dan die mengsel by die vleis, gooi die aartappels ook in en kook vir so ’n halfuur of totdat dit ordentlik deurgekook is. Jy kan ’n bietjie meelblom bysit as jy van ’n lekker slymerige afval hou.
    Die resep vra vir ’n bietjie Port en my oog vang ’n bottel brandewyn wat ek daar by Coetzer Hanekom hulle van die Mas van Kakamas gekoop het. Ek vat ’n stywe sluk terwyl Tjalie die tong opsny en die pens begin verwerk. Die brandewyn brand al die pad my maag af want ek kon nog niks oor my lippe kry vandag nie. Nog ’n sluk, dan kan ek die koppe en die ander pot bymekaar gooi voordat ek die kerrie insit.
     Die pens gly so ‘wobble-wobble’ van die houtbord af in die pot in. Ek vat maar nog ’n paar slukke Brannas en skil gou aartappels voordat die beeld in my kop vassteek. Nou raak dinge dol. Ek lees weer die resep, ek sien hom nou dubbeld. Seker die twee potte wat my so verwar.
    Ek meet die asyn uit, gooi ’n paar lepels suiker by, en sit die ketel in die yskas. Ek sif die suurlemoen, braai die brandewyn en gooi ’n tafel by, of so iets. Toe plak ek ’n paar komynsaadjies op die oog en kook tot hy nie meer vir my oogknip nie. Naeltjies werk net so goed. Draai die pot kloksgewys, ek val voor die stoof, staan op en kook als tot dit lekker lymerig en dik is. Daarna gooi ek die hele lot in ’n menger. Menger die afskakel tot hy bruin is. Ek maak nog ’n brandefijntjie klaar. Soen die fotograaf en baklei met Tjalie omdat hy my hoed op sy kop het. Magtag maar nou’s ek honger. Maar ek gaan aan en sit ’n paar murgbene in die stampmielies, en sommer botter ook. Skep daar van daai pens, ja. Sag is hy nou, soos murg. Lek die bene, gooi my ou vriend Tjalie met een van daai warm bete uit die oond uit en kou aan ’n pootjie.  
    Ek dink nie ek gaan gou weer afval maak nie, dit gee my ’n verskriklike kopseer, en daar’s ’n snaakse smaak in my mond wat ek nie weet waar dit vandaan kom nie.