Volg ons op Facebook

Kook jy met goeie wyn?

Written by  Harry Haddon | May 30, 2014

Meeste mense sal saamstem dat wyn vir die drink is en dat die regte pasmaat by die regte dis nie net die wyn se volle potensiaal ontsluit nie, maar dat dit ook aan die kos wat jy daarmee saam eet ʼn smaaksensasie verleen.

Maar hoe gemaak wanneer jy wyn as bestanddeel in ʼn resep gebruik? Sal ʼn goedkoop wyn die dis verongeluk, en is dit beter om eerder met goeie wyn te kook? Ons vra vandeesmaand ʼn woordmens en ʼn bekende sjef wat hulle opinie is, en ons lesers lewer ook hul bydraes.

“Ek geniet dit om met wyn te kook en soms gooi ek dit selfs in my kos.” - W.C. Fields

Untitled-8Naomi Meyer
        Wanneer ek met kos en wyn kook, is daar vir my 'n ideale wêreld en dan is daar die praktiese werklikheid. In my ideale wêreld kan mens die duurste wyn by die mees voortreflike gereg gooi. Hierdie spesifieke wyn se kleur, smaak, suiker- of bitterheidsgehalte sal die kos se smaak komplementeer en selfs verbeter. 'n Kok wat van chemiese smaaksames tellings weet, iemand soos Heston Blumenthal, sou molekulêre toetse uitgevoer het om te sien of die spys en drank by mekaar     hoort. My praktiese werklikheid is egter, soos rooiwyn op 'n mat, taamlik morsig. Ek het kinders, en ek het nie onbeperkte fondse nie. Daarom drink ek die wyn wat ek kan bekostig. As dit koud buite is, geniet ek rooi. Warm weer noodsaak wit. Die gereg waarmee die wyn saam geniet word, is ondergeskik aan die klimaat. As ek wyn by kos gooi, voeg ek by wat ek in die kas of yskas het. Dis vir my verkieslik om rooiwyn by rooivleis te voeg en witwyn by 'n gereg met vis of hoender. 'n Onthou-smaaksensasie was vir my een jaar by 'n kos- en wynfees toe die regte pasmaats saamgevoeg is:     Die wyn was Chamonix se Chardonnay Reserve saam met 'n hoender cordon bleu-gereg. Die smaak kan ek onthou, maar ongelukkig nie die oesjaar nie.
        Naomi Meyer is ʼn woordmens en die inhoudsbestuurder van LitNet. Sy eet en drink elke dag baie woorde en geniet saans graag die kos en wyn wat haar man bedien. Besoek gerus www.litnet.co.za

Untitled-9Marinda Engelbrecht
        Om met wyn te kook hou vir my twee betekenisse in. Eerstens is daar die wyn wat jy as bestanddeel by jou gereg gebruik, en tweedens, en ewe belangrik, is die wyn wat jy drink terwyl jy kook. Kies ’n goeie wyn vir jou kookwerk, maar dit hoef regtig nie ’n duur, bekroonde wyn te wees nie. ’n Goue reël is om nie ’n wyn te gebruik wat jy nie self sal drink nie, en ook nie ’n wyn wat jy regtig graag eerder sal wil drink nie. Julia Childs het op ʼn keer gesê: "If you do not have a good wine to use, it is far better to omit it, for a poor one can spoil a simple dish and utterly debase a noble one." Dit is dus die moeite werd om in ʼn kwaliteitwyn te belê. Moet net nie vergeet om so nou en dan ʼn slukkie te neem nie. Wyn kan op drie maniere in die kombuis aangewend word – as bestanddeel van ʼn marinade, ʼn vloeistof wat by ʼn gereg gevoeg word, en as ʼn geurmiddel by klaargemaakte disse. Die funksie van die wyn is om die geur van die kos te versterk en te beklemtoon. Soos met kruie en speserye, moet daar ook versigtigheid aan die dag gelê word met die hoeveelheid wat bygevoeg word. Te min gaan geen verskil maak nie, en te veel kan oorweldigend wees. ʼn Algemene reël is om witwyn te gebruik met vis-, hoender- en varkgeregte, en rooiwyn met skaap- of beesvleis. Witwyn is waarskynlik veelsydiger as rooiwyn vir kookdoeleindes. As jy wyn by jou geregte gooi, sal dit ’n suur smakie verleen. ’n Bietjie wyn in ’n roomsous, byvoorbeeld, sal die rykheid daarvan in toom hou. Onthou net dat, ongeag wat die tradisionaliste sê – jy liewer jou gunstelingwyn moet drink as om dit nie te geniet nie, want dit is juis wanneer kos en wyn saam geniet word, dat dit mooi en goeie herinneringe maak.
        Marinda Engelbrecht en Herman Lessing se gewilde toneel-aanbieding Voorskoot en Lipstiek wat deur Spekko geborg word, sal in Bloemfontein opgevoer word op 21 Junie by die NG Kerk Blomheuwel. Besoek gerus www.marindakook.com

Lesersmening

Laas wat ek met wyn gekook het, het ek na die 5de glas nie meer geweet wat ek kook nie. – Johan du Toit

I drink good red wine while I cook, not waste it by cooking it! – Jen Bader

Net 'n goeie kwaliteit! Skink vir jouself eers 'n glas en gooi ʼn klein bietjie in die pot. Skink weer vir jou 'n glas wyn, en weer en weer! – Marina van Zyl

Ek gooi nooit drank in my kos nie. Ek dink my kos is lekker genoeg. Ek hoef nie my mensies dronk te maak om dit te eet nie. As ek ʼn wyntjie wil drink, is dit om die braai saam my manlief. Niks lekkerder nie. – Karen Delport

Drink duur, kook cheap. – Marishall Theron

Die wyn is gewoonlik klaar gedrink voor dit naby enige pot kom! – Lizelle Vice van Rooyen

Goeie sous kort goeie wyn en die res word so tussen-deur gedrink!! – Tina Becker

Nie die heel duurste nie maar probeer ʼn goeie wyn vat want dit proe altyd vir my of die goedkoop wyn die kos ʼn bitter smaak gee. – Lindie Janse Van Rensburg

If it's not good enough to drink, it's not good enough to cook with. – Trudi Mclachlan

Haha! Ek drink die wyn! Kook met water! – Bets Bothma