Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Op Slag!

Written by  Marlene Bramley | June 25, 2014

Addo is nou vir jou ’n vreemde plek. So land ek daar met die  verwagting dat als wild sal wees.

Tog vind ek ’n bedeesde gemeenskap wat almal op een of ander manier aan mekaar verwant is. En so moet ek weer wild kook saam met sitrus. En vir iemand wat nie te mal daaroor is nie, is dit ’n taamlike hoë verwagting. Ek pik rond en kyk en sien en bedink en wonder wat ek nou die maand gaan kook? Wild moet dit wild wees maar as mens nou eers die pasteie gedoen het dan gaan my kop na Venison Wellington toe, vreeslik pretensieus! En met ’n boek vol planne kom ek toe in Addo aan. Maar niks vat my by die smaakkliere nie. Niks gryp my aan nie. Totdat ek saam met
Ronnie, die berge in vaar dié dag om Nguni’s te gaan afneem daar by Slagboom se plaas.
           Volgens Ronnie is die naam Slagboom oorgedra in twee weergawes. Een sê dat, tydens die grensgevegte daar in die Oos-Kaap, die inboorlinge ’n boom oor die pad laat val het sodat die boere se waens daarteen te staan gekom het, en die res van die storie is, wel nou ja, vanselfsprekend. Die ander weergawe is dat die inboorlinge ’n boer gevang het en hom aan die boom vasgemaak en afgeslag het. Hoe dit ook al sy, dis ’n asemrowende mooi omgewing. Die aarde sluk jou in en jy ervaar die Addo-olifant Park, wat aan die grond grens, in jou bloed en are.
            Klaar gekyk na al die mooi dinge, Nguni’s, kerke, gemeenskappe en nog wat, stop ons op die plaas Slagboom vir ’n koppie koffie. En dit nogal by Boy (eintlik is haar naam Elizabeth, maar haar ma het vier dogters gehad en een van hulle moes so na as moontlik aan ‘n seun wees). Definitief in naam, nie noodwendig in vlees nie. En so kry Boy vir ons met ope arms en sy is besig om Koedoe te werk. Net gisteraand het haar seun Tian ’n pragtige dier geskiet. En daar lê die emaljebakke vol biltong en gesnyde vleis. Boy vertel vir my van haar ouma en ma se resepte, en wys daar ’n Kook en Geniet wat al so uitmekaar val dat mens dit skaars kan lees. Sy beduie van die ou skaaltjie wat ook nog daar staan en gee vir my haar geheime wors-resep (wat ek volgende maand sal maak).

           Wat ek besef het terwyl ek daar sit, en sy vir my vertel, is dat Koedoe en Springbok dieselfde ding as bees is. Hulle maak Stroganoff daarvan, potjie, en wat jy ook al met bees sal wil doen. Hierdie mense bly 60km of verder van die naaste ‘dorp’ af. As mens Addo nou as ’n dorp kan bestempel. So hier word daar gebruik wat daar is. En geniet wat daar is. So hier is my interpretasie van Boy se filosofie. Eintlik as ek daaraan dink, myne ook.
Wildspotjie met ’n rissie- en sjokolade sous
Ek is seker dat die puriste my sal wil kruisig oor die gebruik van die moderne en gewilde rissie- en sjokoladeweergawe van kos. Ek is self nie ’n aanhanger nie. Ek is snaaks, as iets te trendy is of almal daaroor gaande is, is ek half dwars. Soos die uitdrukking “Dafka”. Sug. Maar hierdie is ’n hele ander storie. Dié dis is gebaseer op die kontras van die ‘wilde’ smaak en die gesofistikeerde smaak van sjokolade en rissie. Volgens Boy proe ’n dier ‘wild’ as hy gehardloop het voordat hy val. Die adrenalien maak daai smaak so wild. “My skoonsuster seg dat ’n bietjie suurlemoenpeper daai smaak uithaal. Net vir interessantheidshalwe.”

Wild hardloop  

Dis mos nou die Kirkwood Wildsfees en almal lus skielik vir Koedoe en Springbok en Vlakvark, wat hulle nooit hulle lippe sal aansit die res van die jaar nie. Vir mense in die stad is dit n lekkerny, en só maak jy vir hom.

Wildspot met rissie- en sjokoladesous

Untitled-10

Bestanddele

Vir die marinade
1 Bottel lekker rooiwyn
’n Huisie knoffel
2 Teelepels sout
5 Lourierblare
10 Jenewerbessies (“juniper”)
Vars roosmaryn en tiemie
2 Teelepels peper
2 Uie gesny in groterige stukke
1 Rissie opgesny
Skil van een suurlemoen
Vir die vleis
500g Koedoeboud of fillet
Gerookte spek
Gemengde speserye
Vir die pot
Wortels grof gekap
Uie grof gekap
Selery grof gekap
1 Liter beesaftreksel
 Vir die sous
1 Blok donker bitter sjokolade met ten minste 85% kakao in
Port of Hanepoot na smaak
1 Rissie fyngekap

Metode

•   Gooi al die bestanddele vir die marinade in ’n lekker diep bak. Vryf die speserye in   
     die koedoevleis in, en draai elke stukkie in die gerookte spek toe. Laat staan ver-
     kieslik oornag.
•   Verwyder die vleis van die marinade die volgende oggend.
•   Hou die marinade want dit gaan later deel word van die sous.
•   Maak nou jou pan lekker warm, hy moet sommer so begin rook.
•   Braai die koedoe vinnig totdat hy net-net bruin is, haal die koedoe uit en gooi die
    wortels, uie en selery in om vinnig te braai totdat die uie so bietjie deurskynend is.
•   Voeg die marinade, gebraaide koedoevleis en beesaftreksel nou by, en sit als in die  
    oond op so 160 grade vir ’n uur tot ’n uur en ’n half. Maak seker jy kook die koedoe
     nie dood nie anders raak hy taai soos ’n wilde ou chappie.
Nou vir die sous
          Wanneer die koedoe reg is, dreineer die sous af in ’n lekker wye pan sodat die sous maklik kan verdik. Hou die hitte so op medium terwyl jy die rissie en die sjokolade bygooi. Kook totdat die sous dikkerig word. Moet om  hemelsnaam nie meel of Maizina bygooi nie, al wat nodig is, is ’n bietjie tyd. As die sous nie verdik nie, gebruik hom net soos hy is.
           Skep vir jou en jou gade die vleis en groente in ’n bakkie en gooi daai sous oor. Bedien met rys of brood of ‘mashed potatoes’ of as jy op Tim Noakes is, eet jy hom net so.

Untitled-11Koedoe-stroganoff

Bestandele

Wit wyn
B-well Olyf Canola Olie
1 Medium rooi ui fyngekap
1 Huisie knoffel fyngekap
500g Koedoefillet langwerpig gesny
Sout en peper
1 Eetlepel gerookte paprika
500g Sampioene
Pietersielie (vars)
Botter
Lekker sopie branna’s
Neutmuskaat
Skil van een suurlemoen
2/3 Koppie suurroom
2 tot 3 Hande vol rou rys
 
Metode

Vat die rou rys en sit dit in ’n bak wat in die mikrogolfoond kan gaan. Gooi kookwater oor dat dit twee keer die hoeveelheid rys is. Gooi nou bietjie botter of olie en ’n knypie sout oor. Bedek met ’n deksel wat lekker knap sit en laat hom in die oond kook (op die hoogste hitte) vir 10 minute. Laat hom vir nog 10 minute staan en stoom, en daar het jy foutlose rys, keer op keer.
 
Laat ’n pan baie warm word met ’n bietjie olie in. Gooi die uie en knoffel in en braai vir so 10 minute. Verwyder van die hitte wanneer dit reg is.
 
Masseer die speserye (sout, peper en paprika) in die vleis in. Kom maak daai hande van jou vuil! Sit die pan terug op die hitte met nog bietjie olie. Nou vir die sampioene, braai hulle tot hulle net bietjie bruin is en voeg dan die koedoe by, braai vir nog so 2 minute. Dan sit jy die pietersielie in asook die gebraaide uie, knoffel en suurlemoenskil.
 
Nou vir die botter en Branna’s. Steek die hele lot aan die brand terwyl jou kinders oeee en aaaa. Die brandewyn wat brand, maak die sous lekker dik. Voeg die Port of ’n soetetjie by, en laat dit vinnig kook tot al die elemente geïntegreer is. Laaste roer jy die suurroom in en jy’s reg vir die tafel. Eet sommer onmiddellik. Maak seker jy kook nie die koedoe te lank nie. Hy kan vinnig taai word.
 Sóp vir jou!

Untitled-12Botterskorsie- en lemoensop

Bestanddele

Twee medium botterskorsies (geskil en in blokkies gesny)
3 Medium wortels (grof gekap)
1 Vinger gemmer (fyn gekap)
Italiaanse pietersielie
1 Ui (grof gekap)
1 Liter groenteaftreksel
1/8 Koppie lemoenskil gerasper
Gemaalde neutmuskaat
Sout en peper
Sap van een vars lemoen 

Metode

Braai die uie, wortels en botterskorsie vir so 10 minute in olie. Voeg die groente-aftreksel, lemoenskil en lemoensap by. Kook tot al die groente sag is. Voeg laastens die neutmuskaat, pietersielie, sout en peper by na smaak. Gebruik ’n voedselverwerker om die sop in ’n lekker dik satynagtige lekkerny te verander. Jy kan crème fraîche saam met dit opdien asook geroosterde botterskorsie wat jy net met ’n bietjie olie onder die rooster in jou oond druk.

Untitled-13

Pampoenkoekies

Dié koekies werk lekker saam met wild, vir ’n soetigheidjie.
 
Bestanddele

700g Pampoen of botterskorsie
Gemaalde kaneel
1 Koppie gesifte koekmeel
2 Eiers liggies geklits
1 Teelepel bakpoeier
B-well Canola olie om die koekies in te bak
Gerasperde lemoenskil
 
Metode

Sit die skorsies op ’n oondplaat en gooi ’n bietjie olie, kaneel, bruin suiker en lemoenskil daaroor. Druk onder die oondrooster en braai totdat die skorsies lekker sag is.
Sit in ’n voedselverwerker totdat dit ’n lekker dik mengsel vorm en al die skorsies geïntegreer is. Gooi nou die meel, bakpoeier en eiers by. En meng.
Maak die olie warm in ’n plat pan - jy sal weet dis warm genoeg wanneer jy ’n bietjie van die beslag daarin drup en dit skiet na bo.
Skep lepels van die beslag in die olie en braai totdat die koekies goudbruin is. As jy sukkel om hulle om te draai, of hulle val uitmekaar maak jou deeg bietjie stywer deur nog ’n bietjie meel by te voeg.
 
Bedien warm met ’n bietjie kaneel oorgestrooi en dalk ’n skeut suurlemoen of lemoen.
 
Nou ja, toe. Tem die winter met hierdie resepte en deel hulle met jou geliefdes voor ’n lekker kaggelvuurtjie.