Volg ons op Facebook

Diversifiseer: Wat van ’n gastebedryf op jou plaas?

Written by  Staff
| in Toerisme
| March 4, 2015

Suid-Afrikaners is wêreldbekend vir hul hartlike gasvryheid en die land spog met ʼn verskeidenheid bekoorlike landskappe.

Wanneer jy hierdie elemente saambring, het jy die potensiaal vir ʼn lewendige toerismebedryf. En landbouprodusente beskik dikwels by uitstek oor die vermoë om by die plaaslike sowel as buitelandse toerismebedryf betrokke te raak. Dink maar wat ons het om te bied: wandel- en bergfietsroetes vir die avontuurlustige besoeker, egte kontreikos vir die smulpaap, Karoo-rus-en-vrede vir die wat die stads-gejaag wil ontvlug, voël- en wildkyk vir die diereliefhebbers en nog meer.
Die voordeel van hierdie aanvulling van ʼn primêre landbouinkomste is dat jy self kan besluit waarvoor jy kans sien: selfsorg, bed en ontbyt of volle spyseniering; ʼn fokus op oornaggaste op pad na ʼn ander bestemming of ʼn hele pakket waardeur besoekers die plaas-lewe in sy volheid kan ervaar. Die Private Hotelskool in Stellenbosch gaan maandeliks praktiese raad en idees deel ter ondersteuning van Plaastoe!-lesers se toetrede tot hierdie bedryf.

“...is dat jy self kan besluit
waarvoor jy kans sien...”

Die kliënt is koning

In Suid-Afrika is hierdie natuurlik ʼn hoogs kompeterende omgewing met ʼn verskeidenheid toerisme- of gastebesighede wat meeding om hul plekkie in die son – of in ander woorde, vol beddens. Die vraag op almal se lippe: wat wil besoekers hê? Moet ek aan alle voornemende besoekers se verwagtinge voldoen, en hoe verseker ek dat eerste-keer-besoekers weer en weer terugkom? Die antwoorde hierop is kompleks en tog eenvoudig. Volgens Erika Theron, akademiese bestuurder by Die Private Hotelskool moet eienaars van gastebedrywe eerstens besluit waar hulle fokus lê: watter tipe verblyf, watter aktiwiteite, is die mikpunt om gesinne of besigheidsmense te lok, wat is hul kapasiteit ten opsigte van etes berei. “Elke gasteplek kan nie alles vir almal wees nie,” meen Erika. “Identifiseer jou sterkpunte, bied dan die beste moontlik binne hierdie fokusarea aan en bemark daarvolgens.” Besoekers is deesdae goed ingelig hoofsaak-lik deur die Internet en selfs wanneer voor-nemende besoekers vaag is oor watter tipe ervaring hulle soek, sal hul gou ʼn juweel raaksien.

march-gastehuis-1

march-gastehuis-2

Hulle moet van jou weet

In vandag se digitale wêreld met inligting aan jou vingerpunte, is daar twee belangrike elemente wat met groot omsigtigheid en sorg gekoester moet word: verhoudinge en ʼn publieke teenwoordigheid. Vandat jy jou gastehuis of selfsorghuisie se deur vir die eerste keer oopgooi, moet mense van jou
weet – soveel moontlik mense regoor die wêreld. Maak seker jou inligting is beskikbaar op soveel moontlik platforms (dit hoef jou nie ʼn hoop geld te kos nie), en dat daar goeie foto’s is wat die prentjie vir die voornemende besoeker skets.
Verhoudings, goeies natuurlik, is  onontbeerlik vir die voortbestaan van jou gastebe-sigheid. “Die ideaal is dat besoekers weer en weer wil terugkom én dat hy of sy vir al sy/haar vriende en kollegas van jou vertel,” sê Erika.

“Bemarking deur positiewe verwysings
bly een van die effektiefste maniere om
jou besigheid te bou.”

Bemarking deur positiewe verwysings bly een van die effektiefste maniere om jou besigheid te bou. “Dit mag lyk of dit harde werk en baie tyd gaan verg om hierdie verhou-dings te koester, maar begin klein,” verdui-delik Erika. “Konsentreer op persoonlike kon- tak, vinnige en deeglike reaksie op navrae, en geleentheid vir terugvoer vanaf besoekers.”

Jou Span

Moet ook nie vergeet van jou nommer een bate nie: jou personeel (as jy gelukkig genoeg is om ʼn spannetjie te hê wat jou hande sterk). Om ʼn suksesvolle gastebesigheid te bedryf, moet jy op hoogte van alles bly, en bemagtigde en opgeleide personeel kan die verskil maak. Maak seker dat almal wat in kontak kom met jou gaste, asook diegene wat die akkommodasie voorberei, goed opgelei is, ʼn vriendelike aanslag het en saam met jou na die klein details kyk.
Hou jou oog op hierdie tendense en verkry ʼn voorsprong:
• Volhoubaarheid – die hoeveelheid verbruikers wat besighede ondersteun wat omgewingsvriendelike praktyke het, is steeds aan die groei. Spog daarmee as jy op spesifieke en daadwerklike wyses die omgewing help bewaar.
• Gesonde maaltye – hou die gesondheids tendense dop en maak seker dat jy alternatiewe het vir verskillende behoeftes.
   Maak vooraf seker of besoekers spesifieke eetvoorkeure het en besluit of en hoe jy dit kan akkommodeer.
• Uitsonderlike ervarings – bied iets anders aan om jou van die res te onderskei – dit is wat die mense aan die praat gaan kry en hóú.

Die idee dat ‘die kliënt koning is’, is nou meer waar as ooit tevore. Besoekers verwag meer, weet meer en die keuse is wyd – wees die beste wat jy kan wees en luister na terugvoer!


Vir meer inligting oor opleidingsgeleenthede in die gaste- en voedselbedryf, besoek
www.privatehotelschool.co.za