Volg ons op Facebook

Kom ons trou op die plaas

Written by 
| in Toerisme
| September 7, 2015

Huweliksorganiseerders is dit eens dat plaastroues ʼn neiging is wat nooit uit die mode gaan nie. Dalk is dit ʼn nostalgiese hunkering na voorjare se dinge, of ʼn bruidspaartjie se niks-nonsens karakter, of ʼn blote begrotingsoorweging, maar plaastroues is hier om te bly.

En ʼn plaastroue beteken geensins dat jy afskeep in terme van feestelike atmosfeer en selfs luukse bederf nie, meen Susina Jooste, sjef en direkteur van die Private Hotel School in Stellenbosch: “Die lekkerte van ʼn plaastroue is juis dat jy kan dek met kristal én vetplante; fyne kant én strooibale.”

Indien jy jou plaas as ʼn gepaste venue wil ontwikkel en bemark, is daar ʼn paar belangrike oorwegings om in gedagte te hou:
- Maak seker dat jy voldoende badkamer geriewe het. Die opsie om luukse mobiele eenhede te huur is dalk net geldig vir plase naby genoeg aan groot dorpe.
- Oorweeg of jy self tafels, stoele, eetgerei en al die ander parafernalia beskikbaar gaan stel en vra dan hulp om seker te maak jy koop die mees duursame items met tydlose elegansie.
- Is daar krag vir daardie romantiese stringe feetjieliggies? Die beskikbaarheid van elektrisiteit (en nee, ʼn raserige kragopwekker is nie die oplossing nie) is onontbeerlik as jy dink aan die DJ se behoeftes, die liggies en die mooi kandelare wat uit die boom moet hang.
- Maak seker jou toegangsroetes is gangbaar vir alle tipes voertuie.

“Eenvoudige, outentieke, plaasstyl kos is baie gewild.”

toerisme 2015 plaastroue1

2015/2016 neigings vir plaas (en ander) troues

Wanneer jy ʼn onthaal beplan, speel kos ongetwyfeld die hoofrol. Of die kos nou tematies, klassiek, oorspronklik of eenvoudig prettig is, die spyskaart behoort ʼn uitdrukking te wees van die bruidspaar se karakter. Susina se interpretasie van die 2015/2016 trouseisoen se neigings fokus op die volgende:
Eenvoudige, outentieke, plaasstyl kos is baie gewild. Bedien disse met lewendige kleure en geure en gebruik vars, seisoenale en plaaslike bestanddele. Bedien eerder kleiner porsies van die beste kwaliteit bestanddele.

Kreatiewe, maar eenvoudige selfhelp opwip (pop-up) stasies: Oorweeg om ʼn barista te huur sodat jou gaste hul gunsteling cappuccino, latte, Americano of selfs ʼn rooi espresso kan bestel. Of wat van ʼn roomys-stalletjie met gourmet gelatos in eksotiese kleure en geure as ʼn alternatief vir ʼn tradisionele nagereg? ʼn Mooi versierde nageregtafel met ʼn lekker wilde versameling soet happies en lekkergoed nooi gaste om hul eie nagereg te skep en dalk sommer ietsie huis toe te neem.

Kaal koeke is uit. Bring terug die versiersuiker, sjokolade ganache en fondant, blomme en kant. Speel met verskillende skakerings van jou hoofkleurskema of gebruik groot hoeveelhede sjokolade truffels of makrolletjies (macaroons) wat van die bokant van jou koek af tuimel sodat gaste daaraan kan knibbel.

toerisme 2015 plaastroue2

Skep skemerkelkies wat spesifiek ont-werp is vir die bruid en bruidegom en laat gaste so rondkuier totdat die paartjie weer by almal na die fotonemery aansluit.

Trooskos, maar ʼn trappie op! Bedien jou gunsteling kos in verrassende groottes en maniere – dink maar aan miniatuur geroosterde ham-en-kaas toebroodjies op ʼn ‘shooter’ glasie vol tamatiesop.

Kom ons kuier en peusel nog... en nog. Oorweeg ʼn wiel eksotiese kaas, vars bessies en tuisgemaakte biscotti as die grand finale voor jou gaste vertrek. Jy hoef nie jou gaste met ʼn groot verskeidenheid kase te beïndruk nie – minder is mos meer!

Of jy hou van ‘vintage’ en antieke kosbaarhede, of bloot ʼn natuurlike weerspieëling van die natuur rondom jou – ʼn plaastroue is die ideale manier om die liefde te vier!

Vir meer inligting, kontak Susina Jooste by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of loer by www.privatehotelschool.co.za