Volg ons op Facebook

Plaas Nostalgie

Written by  Staff
| in Toerisme
| October 8, 2015

‘Plaas’ roep uiteenlopende beelde op: vir die een is dit sy brood en botter, harde werk, bid vir reën en hoop die volgende geslag wil kom boer.  Vir ʼn ander bring dit ʼn hunkering na ouma se kombuis met sy verwelkomende Aga-stoof, swart boeretroos met boerbeskuit, en al haar parafernalia - van gehekelde doilies met kraletjies oor die suikerpot, tot varings op die sonstoep.

Wanneer jy die woord erfenis byvoeg, staan kos bo-aandie lys, bó geskiedenis en kultuur.  Dit is dan ook hierdie verlange na vervloë se dae wat die plaas-gastebedryf deesdae so ʼn lewensvatbare en winsgewende diversifiserings-opsie vir produsente maak.

Susina Jooste, direkteur van die Private Hotel School in Stellenbosch, het hieroor gaan kers opsteek by Coia de Villiers, eienaar van Beloftebos-gasteplaas buite Stanford in die Wes-Kaap.  “ʼn Geslag of wat gelede het almal iewers iemand op ʼn plaas gehad by wie hulle kon gaan kuier,” gesels Coia.  “Dalk  ʼn oom op ʼn Vrystaatse mielieplaas, ʼn ouma onder die bloekombome van die Swartland.  ʼn Verlangse familievriend tussen die duine van Namibië waar daar gejag kan word.  Vandag het almal tien teen een eerder iemand iewers oorkant die water, maar die hunkering na die eenvoud, ruimte en egtheid van die plaas is steeds daar.”  Emmarie Terblanche van Snyderskloof naby Matjiesfontein vir wie die gastebedryf aanvullend is tot hul skaapboerdery, is dit eens: “Ek het nie in my wildste drome gedink dat mense so ʼn groot behoefte het om weg te breek na die absolute afsondering van ʼn plaas nie. Sommige gaste is selfs teleurgesteld dat daar selfoonopvangs is.  Die feit dat daar geen krag is nie en dat hulle op kerse en olielampe moet staatmaak, maak op daarvoor.”  Dit is Emmarie se ervaring dat gesinne hul fasiliteit gebruik vir die plaasgevoel en dat paartjies weer kom vir die afsondering.

ʼn Werkende plaas is natuurlik geensins altyd die spreekbeeld van akkommodasie-perfeksie nie.  “Die kuns is om die realiteit van die regte plaaslewe – vlieë en muggies, spinnekoppe en spinnerakke, water wat nie werk nie, stof wat net weer en weer kom – so te versag dat dit nie die romantiek verswelg nie,” meen Coia.  “Deur maar weer af te stof of gaste byvoorbeeld voor te berei op water wat lyk soos ‘flat Coke’, sal die gaste laat aanhou ry uit die stad om na die stiltes te kom sit en luister.  Jou aandag aan al die kleinste besonderhede sal plaas nostalgie lewendig hou en jou beursie vol.”

oktober 2015 hotelskool

Volgens Susina, bly ligging steeds een van die ononderhandelbare elemente – dít en hoë kwaliteit linne natuurlik.  Dit help beslis as die plaas binne trefafstand van die stad geleë is.  Die bekoring kan so eenvoudig wees soos die ope sterrehemel,  ʼn dek op  ʼn dam, of die feit dat al wat jy van die stoep af kan sien, die Karoovlaktes is.  Dis moet privaat maar steeds veilig wees; iewers waar kinders sorgeloos kan rondhardloop en boomklim.  Coia voeg uit ervaring by dat ruim vertrekke,  ʼn stoep,  ʼn kaggel en  ʼn goeie webblad beslis suksesfaktore is.  “Kombineer gerus oud en nuut en gebruik elemente uit die omgewing om ʼn gevoel van eerlikheid te skep,” meen sy.  “Gebruik byvoorbeeld klip wat uit lande aangery word om van die mure te bou.”  
Glamping, oftewel ‘glamourous camping’ is ʼn nuwe tendens wat ʼn groot deel van plaaslike sowel as internasionale reisigers lok. “Hierdie byna teenstrydigheid van luuksheid waar jy dit nie verwag nie, het mense gaande,” sê Coia.  Dink maar aan ʼn verhitte poel (verkry met sonkrag of ’n donkie) in die middel van die veld, goeie katoenlinne en ʼn donsduvet met ʼn Consol sonkrag-gedrewe flesliggie net ʼn armlengte ver.

“Mense wil die natuur beleef sonder om gerief daarvoor in te boet.”

Mense wil die natuur beleef sonder om gerief daarvoor in te boet.  Weeg die waarde van ʼn klein bederf op in terme van uitgawes of moeite, teenoor die potensiële goed-voel resultaat by jou gaste.  ʼn Varsgebakte broodjie kos byna niks nie, maar met aankoms sal dit gaste beslis ’n hartlike welkom bied.

Hou gerus jou gasteboek dop vir terugvoer, of vra vir gaste in ʼn opvolg-epos dat hulle vir jou moet sê wat hulle die meeste geniet het.  Loer ook by relevante reis-webwerwe watter positiewe terugvoer mense oor ander gasteplekke gee – jy kry dalk net ʼn lekker brokkie raad.