Volg ons op Facebook

Lewende Meubels - Maak stap vir stap jou eie groenstoel

Written by  Nikki van Coller
| in Tuin
| March 31, 2015

Dit lyk deesdae of almal “groen” wil wees, en hoewel dit dalk na ʼn cliché klink, is daar goeie rede daarvoor. Hoe meer jy plant, hoe kleiner raak jou koolstofvoetspoor en hoe meer help jy om die negatiewe impak van die moderne lewe op die omgewing te verklein.

Mense raak ook baie kreatief wanneer dit kom by die vergroening van hulle leefruimtes. ʼn Paar van die maniere waarop hulle dit doen, is om met mos op mure te skryf en die aanplant van vertikale en daktuine.  
        Ons hou baie van die konsep van “lewende meubels”! Wie hou nie daarvan om op ʼn welige groen grasperk te sit of te lê nie? Ons span het toe besluit om ʼn groenstoel te maak en ons deel die stappe met jou sodat jy sommer maklik jou eie kan maak.
        Buiten stoele kan jy ook bankies of selfs ʼn swaaistoel gebruik. Mens kan eintlik ʼn grasperk omskep op enige manier en enige plek, solank dit groot genoeg is. Die kleinste oppervlak vir gras sal omtrent 300mm x 300mm wees. Dit gee die gras ʼn beter groei-oppervlak en ʼn baie beter effek.
       Die grassaad wat jy gebruik, hang natuurlik af van waar jy die stoel gaan plaas. Daar is grasse wat beter groei in die skadu en ander wat meer suksesvol in direkte son is. Buffelsgras en Berea is beide ʼn goeie keuse, omdat hul inheems is, hulle onderhoud is minder, en hulle benodig minder water. Gesels gerus met jou Agrimark bestuurder oor die beste opsie vir jou projek. Ons het Starke Ayres gebruik vir hierdie oefening.

april-tuin-1

       Dit is belangrik dat jy goeie, skoon, organiese kompos gebruik. Jy moet dit uit die staanspoor reg doen sodat jou gras pragtig kan groei en jy nie alles weer van voor af moet doen nie.
       Dit is ook belangrik dat jy gereeld water gee en dat jou stoel altyd effens klam bly en nooit heeltemal uitdroog nie. Wanneer jy die saadjies plant, is dit belangrik om nat te maak met ʼn fyn sproei – dan sal die saadjies net diep genoeg in die grond ingaan om te ontkiem. ʼn Tuinslang sal al die saadjies wegspoel.
        Plastiek of goiing word gebruik om die bodem van die stoel uit te voer en te voorkom dat die stoel verrot.  Vir die res van die stoel kan jy Woodoc gebruik - veral as die stoel in direkte son gaan staan. As jy nie baie van die natuurlike voorkoms hou nie, kan jy die stoel vernis.
        Moenie bekommerd wees dat jy die gras gaan beskadig as jy gereeld daarop sit nie. Maak net seker dat die gras groei en dat dit gesond is voordat jy die stoel begin gebruik.  
        Besoek dus gerus jou naaste Agrimark vir jou saad, kompos, vernis en ander gereedskap, kies jou meubelstuk of fynkam tweedehandse winkels vir net die regte meubelstuk, en sit dan ʼn bietjie tyd opsy om hierdie selfdoenprojek aan te pak.
Geniet dit!

 Inspirasie

april-tuin-7Benodigdhede:

•  Ou palette
•  Hamer en spykers
•  Lemoensakkies, dik plastiek
•  Skoon organiese potplantgrond
•  Starke Ayres grassaad van jou keuse. Indien jy nie grassaad gebruik nie, ‘roll-on-lawn’

Voor jy die projek begin, kry eers jou idees agter mekaar. Doen ‘n bietjie navorsing oor die bou van die stoel of bankie. Al is dit ‘n stoel soos die een wat ons vandag hier maak. Jy kan ook enige tipe pot of bak gebruik vir die projek. Sorg net dat die diepte ten minste 20cm is vir die gras om lekker te groei.  

Ons gebruik in hierdie uitgawe ‘n stoel vir jou inspirasie.

april-tuin-2a

Stap 1:
Kry jou hande op ou houtpalette. Haal die palette uitmekaar en maak seker dat jy al die ou spykers uit die hout verwyder. Bou nou met die plankies jou stoel. Daar is baie metodes om die stoel te bou op die internet. Soek een wat by jou tuin sal pas.

Stap 2:
Maak seker jou stoel het ‘n holte in die middel, want hier gaan ons die gras in plant. Weereens, so 20cm behoort genoeg te wees.

april-tuin-2b

Stap 3:
Hou ook dop hoe jy die bodem van die bak aanmekaar sit. Daar moet dreinering wees vir die natmaak van die gras. Hou die gleufies omtrent een tot twee sentimeter (1-2cm) wyd.

Stap 4:
Bedek die bodem en die kante van die bak met ‘n dikker plastiek, maar onthou om gate in te steek vir dreinering. Jy kan ook lemoensakkies gebruik soos ons hier het. Dit werk baie goed om oortollige water te laat deursyfer. 

april-tuin-3

Stap 5:
Vul nou jou pot/bodem met grond so halfpad tot driekwart vol. Gebruik goeie organiese potplantgrond wat skoon is.

Stap 6:
Druk die grond liggies vas en versprei dit eweredig.

april-tuin-4

Stap 7:
Afhangende van waar jy jou stoel gaan plaas in jou tuin, kry die regte grassaad by jou naaste Agrimark of kwekery. Meng dit met ‘n bietjie sand en versprei dit eweredig oor jou bedding. Maak dit direk daarna nat met ‘n ligte sproei-gieter wat fyn uitkom. ‘n Tuinslang sal net al die saad wegspoel. Met die ligte sproei sal die saadjies diep genoeg insak om te ontkiem.

Stap 8:
Sodra jou gras mooi uitgegroei het kan jy dit snoei en onderhou soos jou hart begeer. Sorg dat jy jou gras heeltyd klam hou en nooit laat uitdroog nie.

Stap 9:
Plaas dit in jou tuin en geniet.

april-tuin-6

april-tuin-5