Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Organiese verbouing - Idealisme of werkbare alternatief?

Written by  Leoni Kok
| in Tuin
| August 5, 2015

Elke generasie het sy revolusies en vir die 2000’s, veral die huidige dekade, is een van die groot treffrases ‘organies’.

En, soos met enige revolusie, is daar weerstand. Soveel voorstaanders as wat ten gunste van organies is, net soveel teenkanting is daar uit geledere in die kommersiële landbou.

Selfs boere wat die organiese beweging aangryp, is onseker oor die lewensvatbaarheid van organiese verbouingsmetodes as ʼn algehele vervanging vir konvensionele praktyke vir kommersiële landbou. In Suid-Afrika is die filosofie onder kommersiële boere oorwegend om soveel moontlik organiese praktyke te implementeer, in parallelle gebruik met konvensionele metodes.

Om volkome organies te boer beteken dat boere moet afsien van konvensionele chemiese middels vir plantvoeding en pes- en plaagbestryding. Dít is die grootse tameletjie vir produsente. Want die resultate van chemiese plaagbeheer en voeding lewer gewoonlik oor ʼn kort tydperk resultate. 

Organiese verbouing daarenteen behels ʼn holistiese benadering tot grond- en omgewingsgesondheid. Om grond - wat deur jare van konvensionele praktyke verarm is - se gesondheid en optimale lewering te herstel, neem tyd. Organies is nie ʼn kitsoplossing nie, en resultate van die omskakeling na organiese metodes neem dikwels maande of jare om ʼn merkbare impak te maak.  

Riglyne al hoe strenger

Hoewel kommersiële produsente graag vasklou aan die meer onmiddellike resultate van chemiese kunsmis en -plaagbeheermiddels, gaan hulle dalk in die toekoms nie ʼn keuse hê as om na meer organiese metodes oor te skakel nie. Groente- en vrugteboere  (veral) is onder toenemende verbruikersdruk om af te sien van skadelike chemiese middels. Europese verbruikers gee die pas aan vir wetgewing wat al hoe strenger raak ten opsigte van chemiese residu, nie net in varsprodukte nie, maar ook in grond. Boere wat dus die winsgewende Europese mark wil bly bedien, moet noodgedwonge aanpas by hierdie vereistes en in Suid-Afrika voer die meeste vrugteboere die bulk van hul produksie uit, veral na Europa.

“Uit ʼn kommersiële oogpunt is een van die sterkste argumente teen organiese verbouing dat dieselfde opbrengste per hektaar nie moontlik is nie ”

Die Europese Unie se verbanning van DPA in 2012 is ʼn goeie gevallestudie. DPA is intensief in die appelbedryf gebruik om oppervlakkige brandvlek te beheer tydens berging in koelkamers. Nadat die middel egter verbied is, het vervangingstegnologieë soos Smartfresh en Dinamies Beheerde Atmosfeer-verkoeling vinnig die gaping gevul. ʼn Bewys dat werkbare alternatiewe gevind sal word as daar genoeg druk op ʼn bedryf uitgeoefen word.

Uit ʼn kommersiële oogpunt is een van die sterkste argumente teen organiese verbouing dat dieselfde opbrengste per hektaar nie moontlik is nie en dat daar derhalwe voedseltekorte sal ontstaan indien alle boere suiwer organies sou begin produseer.

Jenny Slabber van Talborne Organics meen dié uitgangspunt is misleidend. Talborne Organics verskaf sedert 1992 organiese bemestingstowwe aan die kommersiële landbou. Vir die eerste agt jaar het hulle produkte net na Europa uitgevoer, omdat daar in Suid-Afrika nog min belangstelling in organiese verbouingsmetodes was. In die 2000’s het dié prentjie begin verander en tans verskaf Talborne Organics landswyd organiese bemestingstowwe en spuitmiddels.

Die opbrengsdebat

Volgens Jenny kan dieselfde opbrengste uit organiese boerdery verkry word as uit konvensionele boerdery, mits die organiese boer nie kortpad vat nie. Omdat organies ʼn holistiese stelsel is, werk alles as ʼn geheel saam en kan mens byvoorbeeld nie slegs organiese kunsmis gebruik sonder om ook jou grond behoorlik te komposteer nie.

Jenny glo dat een van die redes waarom organiese boerdery in Suid-Afrika dalk nie so goed presteer nie, is omdat die meeste boere wat wins najaag nog nooit dié metode ʼn kans gegee het nie. Derhalwe is die meeste organiese boere uit beginselsaak in die bedryf, eerder as vir geld, en lê die grootste investering en kennis steeds aan die konvensionele kant van die landboubedryf.

august2015-tuin-groente-1

Ons gesels ook oor die mening dat organiese plaagbeheer nie so doeltreffend is soos chemiese bestryding nie. “Peste en siektes is gereeld die gevolg van wanvoeding in die grond,” sê Jenny. So as jy jou organiese stelsel reg bestuur, behoort jy in ʼn organiese boerdery minder peste en plae te sien.”

Sy noem die voorbeeld van ʼn witvlieg-besmetting wat ʼn ruk gelede by groenteplase in Limpopo en Mpumalanga kop uitgesteek het. Goed bestuurde organiese boerderye in dieselfde omgewing het min of geen besmetting gehad nie.

Organiese spuitstowwe het ook die afgelope twee dekades ʼn groot omwenteling ondergaan en is deesdae baie meer volop en doeltreffend as wat hulle in die verlede was. In die Porterville-omgewing – waarop Plaastoe! in dié uitgawe fokus – het Dreammaker Fruits drie plase waarop daar onder meer bessies verbou word.

By die plaas Lushof, net buite die dorp, word bykans die helfte van die bessiesboorde organies verbou en organiese bemesting- en spuitstowwe word ook in die konvensionele boorde gebruik, saam met konvensionele kunsmis en spuitstowwe.

“Organiese spuitstowwe is deesdae meer volop en doeltreffend as wat dit in die verlede was.”

Warren Bam is produksiebestuurder op Lushof en sê die groeiende aanvraag na organiese bessies in die buiteland het hulle aangespoor om die organiese boorde aan te plant. Waar daar steeds ʼn groot gaping in die organiese landboubedryf is, is met plantmateriaal. Weinig kwekerye wat gesertifiseer is om aan die kommersiële landboubedryf te verskaf, se plantmateriaal word organies gekweek.

Warren sê daar is ʼn oorgangstydperk van drie jaar voordat ʼn boord wat met nie-organiese plantmateriaal gevestig is, as organies geklassifiseer kan word. Die algemene uitgangspunt is dat drie jaar gemiddeld die tydperk is vir die meeste skadelike chemiese residu’s om in die grond afgebreek te word. Organiese standaarde is egter nie wêreldwyd eenvormig nie; so het Kanada, Japan, Europa, Australië en die VSA onder meer hul eie riglyne, en sommige glo dat langer periodes van tot vyf jaar nodig is vir dié proses om voltooi te word.  

By Lushof is daar gevind dat sekere bessiekultivars glad nie suksesvol volgens organiese metodes verbou kan word nie. Vir die organiese boorde word daar dus op kultivars gefokus wat wel goed doen met organiese verbouing. Warren gee toe dat geen van sy organiese blokke dieselfde opbrengste per hektaar lewer as sy konvensionele blokke nie. Maar hy waarsku dat mens spreekwoordelik appels met appels moet vergelyk, en dat dit die verskille in kultivars kan wees wat die lewering per hektaar beïnvloed, en nie noodwendig die organiese verbouing nie.

So hoe vergelyk organiese met konvensionele verbouing? Uit Warren se oogpunt is een van die grootste voordele van organies die groeiende mark onder gesondheidsbewuste verbruikers wat bereid is om ʼn premie vir organiese produkte te betaal.  Hy voeg by dat organiese metodes die grond “baie mooi opbou.”  Waar organies egter tekortskiet, is met opbrengs per hektaar, en dit is ook in party gevalle meer arbeidsintensief. Konvensionele onkruiddoders kan nie met organiese verbouing gebruik word nie, so by Lushof moet onkruide soos grasse dan met die hand uitgetrek word. 

Die ander kwelpunt – wat waarskynlik die grootste teenkanting veroorsaak – is dat organiese verbouing ʼn langsame proses is, waarvan die voordele nie altyd dadelik sigbaar is nie. Warren gee ʼn voorbeeld: “Wanneer jy die grond organies verryk, sien jy eers oor ʼn paar maande of ʼn jaar die verbetering in die groei van jou plante, maar as jy chemies kunsmis toedien, dan kan jy binne ʼn paar dae al sien daar is ʼn verbetering in jou blare.”

“Organiese groente en vrugte smaak net beter.”

Die meerderheid kommersiële produsente in Suid-Afrika is ook van mening dat hulle nie produkte op dieselfde kosmetiese standaarde sou kon lewer met organiese verbouing nie, omdat organiese spuitstowwe in baie gevalle langer neem om te werk as konvensionele middels. Warren noem die geval van bolwurms: “As jy nóú ʼn plaag (bolwurms) in jou boorde gewaar en jy doen chemiese bestryding, dan is daar amper onmiddellik ʼn staking in die skade wat die bolwurms aanrig. Met organiese spuitstowwe sal jy ook resultate hê, maar eers oor drie dae of so.”

Selfs met sommige uitdagings, is organiese verbouing vir Jenny van Talborne Organics ʼn eenvoudige saak. Verbruikers sal moet besluit tussen kosmeties-perfekte varsprodukte of hul gesondheid, en die gesondheid van die omgewing. Vir haar kan die voorkeur vir organies selfs op suiwer smaakbeginsels gemaak word: “Organiese groente en vrugte smaak net beter.”

august2015-tuin-groente-2

Hieroor stry Warren nie. Geen onnatuurlike rypmakingsprosesse word in organiese verbouing gebruik nie, dus word organiese varsprodukte aan-die-boom, in-die-grond ryp en volgens Warren is dié produkte beslis meer smaakvol. En hy behoort te weet. Behalwe die organiese bessies wat op Lushof verbou word, word al 47 hektaar van die plaas se tafeldruiwe ook organies verbou.

Een van die ander voordeel-aansprake wat die organiese beweging maak, is dat organiese varsprodukte hoër voedingswaarde het as dié wat konvensioneel verbou word. Wetenskaplike vergelykingstoetse is egter nog te gebrekkig om hierdie argument na enige kant toe te staaf.

Jenny én Warren is dit egter eens dat verbruikers aan die einde van die dag die deurslag sal gee in die opname van organiese boerderypraktyke. Jenny noem dat selfs Suid-Afrikaanse supermark-kettings deesdae al hoe strenger riglyne vir voedselveiligheid en omgewingsvriendelikheid het.

Organiese verbouing verg ʼn langtermyn-kopskuif, en sulke paradigmaskuiwe is nooit pynloos nie. Jenny benadruk egter dat die korttermyn-voordele van konvensionele boerdery op die lang duur onvolhoubaar is, omdat die proses besoedelend van aard is.
Chemiese spuitmiddels het die afgelope jare gelei tot meer weerstandige plae en ook die kontaminasie van grond en water. Hoewel spuitmiddels en kunsmis gedurig aangepas word om minder skadelik vir mens en omgewing te wees, is dit nie die gebruik daarvan op sigself wat ʼn probleem is nie, maar eerder ʼn ooraanwending van dié chemikalieë.

august2015-tuin-groente-3Warren erken dat baie boere geneig is om meer kunsmis toe te dien as wat aanbeveel word per hektaar en dat daar ook te maklik na chemiese spuitstowwe gegryp word as dinge met insek- en plaagbeheer skeef loop. Dit is hierdie oormaat chemikalieë wat die werklike probleem is, aangesien die grond dit nie kan absorbeer nie, en dit dan as soute in die grond opbou of as skadelike residu in riviere en damme beland.

Selfs organiese spuitmiddels en kunsmis in oormaat kan veroorsaak dat te veel soute in grond opbou, maar organiese voorstanders soos Jenny beklemtoon dat grond in ʼn goed bestuurde holistiese organiese boerdery oor tyd minder en minder addisionele toediening van kunsmis sal benodig. Gesonde biomassa in grond, wat deur organiese komposteringspraktyke meegebring word, sal ook mettertyd meebring dat die voordelige organismes in die grond natuurlikerwys die meer skadelike organismes in toom hou. Derhalwe sal daar ook oor tyd minder spuitstowwe benodig word.

Ter afsluiting (en as verdere stof tot nadenke) is ʼn terugblik op die geskiedenis dalk van waarde. Die verskuiwing na die gebruik van grootskaalse chemiese bemestingstowwe in landbou het eers na die Tweede Wêreldoorlog werklik begin posvat.  Tydens die Eerste Wêreldoorlog is die effektiwiteit van ammoniumnitraat as plofstof behoorlik ontgin, en met die verloop van die  Tweede Wêreldoorlog het Amerika soveel ammoniumnitraat vir plofstofdoeleindes vervaardig dat die regering as’t ware nie geweet het wat om met die oorskot te maak nie. Dit was toe reeds bekend dat ammoniumnitraat plantgroei stimuleer, en die landbou het die mees sinvolle afsetpunt vir die oorskot geword. 

Hierdie grootskaalse toediening van ammoniumnitraat het gelei tot die totstandkoming van nuwe hibrides mielies wat afhanklik was van hoër toedienings van kunsmis. Dié oënskynlik voordelige wisselwerking het die gebruik van chemiese middels in die landbou soos ʼn veldbrand laat versprei. Verskeie chemiese spuitstowwe is ook ontwikkel uit middels wat vir gifgasse tydens die oorlog ontwerp is.

“Ons eet nog steeds die oorskiet van die Tweede Wêreldoorlog.”

Hoewel dié chemiese rewolusie die deure vir werklike massa-voedselproduksie geopen het, is daar min mense wat die onopgesmukte waarheid so duidelik stel soos die Indiese omgewingsaktivis  Vanada Shiva: “Ons eet nog steeds die oorskiet van die Tweede Wêreldoorlog.”