Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Ek met my herfskombersie

Written by  Nikki van Coller
| in Tuin
| April 6, 2016

Die herfs is hier, die dae is korter, die aande en oggende is koeler en die tuin geniet ’n welkom blaaskans van die intense hitte en min water. Maar dit beteken nie dat jy agteroor kan sit en ontspan nie.

april 2016 tuin 1

Daar is allerhande takies wat nou verrig moet word, soos voorbereiding, vernuwing, plant, oes en sommer ook ’n lekker selfdoenprojek of twee.

Ná ’n warm somer het jou tuin jou aandag en sorg nodig om dit vir die winter – en selfs die lente – voor te berei. Die versoeking is groot om onder die kombers in te kruip terwyl dit kouer word, maar dit is noodsaaklik dat jy nou aan die werk spring om seker te maak dat jy hierdie winter ’n helder, pragtige tuin het, en dat dit in die lente in volle blom staan en baie min instandhouding nodig sal hê.

Berei voor

Dis altyd ’n goeie idee om die immergroen heinings, struike wat in die somer blom, en oorgroeide klimplante aan die begin van die herfs vir oulaas deeglik te snoei. As jy sien dat enige van jou plante of bome siektes het, moet jy die aangetaste dele afsny en wegry of verbrand. Moet nooit siek plante op jou komposhoop gooi nie.

“Moet nooit siek plante op jou komposhoop gooi nie.”

Die houtagtige takke van struike moet ongeveer een derde teruggesny word, waarna jy Bounce Back op die grond moet sprinkel, dit goed moet natlei, en die grond dan met ’n deklaag moet bedek.

Die herfs is ’n goeie tyd om gekompakteerde grasperke te deurlug as jy dit ’n paar jaar lank nie gedoen het nie. Gebruik ’n tuinvurk hiervoor – steek dit op 15cm-intervalle diep in die grond en lei dit dan goed nat.

april 2016 tuin 2

Jy kan nou die dooie blomknoppe van roosbome afsny om die laaste herfskleur aan te moedig.

Maak ook van hierdie geleentheid gebruik om jou komposhoop aan te vul. Die jaarplante sal binnekort uitgeblom wees – trek dit uit en gooi dit op die komposhoop. Daar sal ook baie dooie blare en grassnysels wees wat gebruik kan word – asook kombuisafval – om te verseker dat jy ’n goeie voorraad kompos het vir die volgende seisoen.

Plant

Die meeste plante kan nou ingesit word. Die intense hitte is verby, daar word (in sommige streke) reën verwag, en met die grond wat nog warm is kry plante - wat hierdie tyd van die jaar ingesit word - kans om goed wortel te skiet.

“As jy ’n heerlike wintersop so reg uit jou eie groentetuin wil maak, moet jy dadelik inspring en hierdie groente in die grond kry!”

april 2016 tuin 3

Groente

Boerboontjies, knoffel, wortels, dwergspinasie, radyse en kohlrabi kan nou geplant word. Dit is nou die perfekte tyd in die Wes-Kaap om ’n groot verskeidenheid groente te plant, soos beet, prei, seldery, kool, snybeet, blaarslaai, witwortels en ertjies. As jy ’n heerlike wintersop so reg uit jou eie groentetuin wil maak, moet jy dadelik inspring en hierdie groente in die grond kry!

Winter- en lenteblomplante

April is die ideale tyd om lente- en winterblomplante te saai, of saailinge in te sit om te verseker dat jou tuin gedurende die trietsige wintermaande helder en opgewek lyk, en ook voldoen aan die verwagtinge van ’n blommekleurspel wanneer die lente in September aanbreek. Dink Namakwalandse madeliefies, pronkertjies, leeubekkies, lobelias, delfiniums, baardangeliere, nemesias, gesiggies, salies, viooltjies, skurfkruid en papawers.

april 2016 tuin 5

Lente blombolle

Plant die laaste van jou lente blombolle sodra die weer koeler is. Dit kan insluit anemone, kalkoentjies, affodille, viooltjies, kalossies, bobbejaantjies, knolpypies, ranonkels, hiasinte en narsings.

 

Verdeling

Lig en verdeel die groot bosse van plante wat bosse vorm soos boslelies, knolpypies, wilde irisse en agapante. Meerjariges, soos bergamot en blousalie kan nou ook gelig word as jy dit nie reeds gedoen het nie. Gooi die bosse die vorige dag nat en maak seker dat die wortels nat bly voordat jy dit plant. Probeer dan om dit so gou as moontlik te plant in grond wat goed omgespit en gevoed is. Kies altyd gesonde, jong plante aan die buitekant van die bos en los die groter, gevestigde bosse waar hulle is.

“Houerplante reageer goed op Nitrosol want dit gee hulle ’n hupstoot voor die winter.”

Voed

april 2016 tuin 4

Voeding is belangrik hierdie tyd van die jaar, aangesien dit sal sorg vir sterk, gesonde plante in die lente. Dit geld vir die grasperk, vetplante en aalwyne, sitrusbome, blomplante en houerplante. Houerplante reageer goed op Nitrosol want dit gee hulle ’n hupstoot voor die winter, terwyl sitrusbome voeding met magnesiumsulfaat sal waardeer.

Jy kan ook jou grasperk ’n bietjie korter as gewoonlik sny en dit met ’n kaliumryke kunsmis voed om dit te versterk voor die koue aanbreek.

In warmer streke kan rose gevoed word, terwyl ’n ligte sprinkeling van LAN toegedien kan word vir groente in die koolfamilie.

Strooi ’n deklaag

’n Deklaag is waarlik een van die eenvoudige dinge wat gedoen kan word om werklik ’n verskil aan jou tuin te maak. Dit hou nie net die wortels en grond ’n bietjie warmer gedurende die wintermaande nie, maar verminder ook onkruid en verhoed waterafloop en gronderosie. ’n Deklaag voorsien ook voedsel vir die erdwurms en verbeter die voedingsinhoud van die grond.

Wanneer jy ’n deklaag neersit, behou dit vog, en dan hoef ’n mens nie soveel water te gee nie – wat ook help om hierdie kosbare hulpbron te bewaar. ’n Verskeidenheid materiale kan gebruik word as ’n deklaag – hoe natuurliker, hoe beter: blaarmolm; dooie blare; grassnysels; afsnysels van struike; hooi; gesnipperde bas en neutedoppe.

Moenie die deklaag teen die stamme ophoop nie, aangesien dit tot verrotting kan lei. Hou ’n area van 5cm skoon rondom die stamme van kleiner plante; vir groter plante met houtagtige stamme, moet dit ongeveer 10cm wees. Dit is ook belangrik dat jy die onkruid uit die beddings verwyder en dit natlei voordat jy die deklaag opsit.  

Blare werk fantasties vir jou komposhoop, of as jy voedingryke blaarmolm daarvan maak. Om laasgenoemde te doen, moet jy jou blare in ’n houer ophoop in ’n beskutte deel van die tuin en dit elke paar maande omdolwe, of jy kan dit alles net in swart vullissakke sit met gate aan die kante vir belugting en dan ’n jaar lank daarvan vergeet. Hierdie tyd volgende jaar het jy wonderlike blaarmolm wat jy by jou kompos kan voeg.

Besproei

Noudat die aande koeler raak en die reën begin val, kan jy jou besproeiingstelsel só stel dat dit minder gereeld en ook ’n bietjie later soggens aankom. As jy jou plante saans of vroeg soggens natgooi, kan die water in die grond vries en kan dit die wortelstelsels beskadig. As jy later in die dag water gee, kry die water kans om deur die grond geabsorbeer word.

Namate die temperatuur daal, fokus die plante nie meer soveel daarop om te groei nie; hulle gaan ’n toestand van rus binne waar hulle minder water nodig het. Plante wat in die somer vir die grootste gedeelte van die dag in die son was, is dalk nou meer in die skaduwee en het daarom ook minder water nodig.

“Los ’n paar dele van jou heinings ongesnoei, want dit lok skilpadbesies en voëls wat nesmaak.”

Lok die natuurlewe

Daar’s ’n paar dinge wat jy gedurende die herfs en winter kan doen om steeds die natuurlewe na jou tuin te lok. Los ’n paar dele van jou heinings ongesnoei, want dit lok skilpadbesies en voëls wat nesmaak.

Sit ’n voëlbadjie, ’n ou skottel, of selfs ’n omgekeerde vullisblikdeksel in jou tuin en hou dit vol water en skoon – voëls het toegang tot skoon water nodig. Skep ’n plekkie waar jy die voëls kan voer en vul daagliks aan, want dit lok voëls wat baie dankbaar sal wees vir die wintervoorraad. Jy kan ook insekkaste maak, of bondels takkies en -hout neersit om nuttige insekte na jou tuin te lok, wat sal help om die minder nuttige insekte te beheer.

april 2016 tuin 6

Patrolleer die plae

Net so graag as wat jy die nuttige insekte na jou tuin wil lok, is April ook die perfekte tyd om voorbereiding te tref vir die plae wat ernstige skade aan jou plante en jou grond kan aanrig.

Veral slakke en naakslakke is lief vir daardie jong, sagte blaartjies aan jou nuwe saailinge. Jy kan ’n paar slakpilletjies rondstrooi waar jy saad gesaai of saailinge ingesit het, of jy kan natuurliker metodes gebruik. Een manier is om ’n toiletrol-houer in drie 'snye' te sny en dit om jou nuwe saailinge te sit. Dit keer dat die slakke en naakslakke daarby uitkom.

Grasperk-ruspes kan ook aan die begin van die jaar baie aktief raak en oop kolle op die gras veroorsaak. As jy merk dat daar lelike bruin kolle op die grasperk is, kan jy Margaret Roberts se Biological Caterpillar-insekdoder op die proef stel. Dit sal van die grasperk-ruspes ontslae raak sonder om die nuttige gediertetjies in jou tuin - of die voëls wat die ruspes vreet - skade te berokken.

Benut die laaste warm dae ten beste deur aan die werk te spring en seker te maak dat jou tuin hierdie winter glinster en dat dit in die lente ’n absolute vreugde is om te aanskou.

Geniet die tuinmaak!