Volg ons op Facebook

Turfgras by die huis

Written by  Dale Barber
| in Tuin
| February 19, 2014

Die meeste van ons hou van die idee van ’n sagte, groen grasperk in ons tuin, maar in die meeste gevalle weet ons dat die werklikheid ’n heeltemal ander storie is. Dit is belangrik om te besef dat ’n grasperk wat ’n piekniek waardig is, ’n bietjie beplanning, deeglike voorbereiding en voortdurende instandhouding verg.

 Wanneer jy ’n grasperk beplan, moet jy eerstens die volgende in gedagte hou:

  1. Wat is die funksie van die area wat jy met gras wil bedek? Is dit ’n speel-area vir die kinders of is dit grondbedekking of deel van ’n ontwerpte tuin?
  2. Moet dit so gelyk soos ’n rolbalbaan of voetbalveld wees, of golwend soos ’n gholfbaan?
  3. Watter faktore beperk jou: ruimte, klimaatstoestande, waterbeskikbaarheid, grondtipe, liggehalte? Is die area vir die grasperk in die skadu of in die son?
  4. Is die area goed gedreineer of nat en bly hierdie toestande heeljaar dieselfde?
  5. Wat is die tekstuur van die grasperk wat jy in gedagte het?
  6. Hou jy van tuinmaak of nie – is die instandhou-ding daarvan hoog of laag? Hoeveel moeite wil jy doen?
  7. Hoeveel is jy bereid om te spandeer? Daar is verskeie metodes om ’n grasperk aan te lê en die koste verskil aansienlik na gelang van die metode wat gebruik word.

Hierdie faktore wat in ag geneem moet word, is baie belangrik aangesien jou antwoorde op hierdie vrae sal bepaal watter tipe gras aangeplant moet word. Daar is verskillende soorte gras beskikbaar en jou spesifieke toestande en vereistes sal bepaal watter plant die beste in jou behoeftes sal voorsien.
Die heel gewildste gras in Suid-Afrika is Kikoejoe, wat gewoonlik maklik van saad gekweek kan word en ’n dik tapyt vorm. Dit groei vinnig en moet dus weekliks gesny word en verg baie son en water. Dit pas goed aan by nat en droë toestande en is baie weerstandig teen koue. Dit reageer egter nie goed op uiterste droogte nie, wanneer dit geel raak, maar dit kom ook gou weer reg omdat dit so vinnig groei.
Cynodon (kweekgras) is ’n plant met ’n fyn tekstuur en pas by ’n groot verskeidenheid grond- en klimaatstoestande, maar verduur nie skadu of ryp nie. Dit verg minder water en instandhouding, maar sal verbleik gedurende die droër maande.
Dwerg-swenkgras is ’n laaggroeiende plant met ’n gelykvormige donkergroen kleur. Dit is uiters bestand teen droogte, maar kan ook versuipte grondtoestande oorleef. Dit het nie soveel instandhouding nodig nie en is baie weerstandig teen plae en siektes.
Inheems aan Suid-Afrika is Stenotaphrum Secundatum (buffelgras) en is daarom ideaal aangepas by ons klimaat, veral in die kusstreke. Die gras is mediumgroen met ’n growwer tekstuur, wat ’n digte, lae tapyt vorm.
Paspalum (breësaadgras) is ’n taai, growwe plant wat droogte, skadu en koue kan weerstaan. Die plant verg baie instandhouding en lewer nie altyd die beste gehalte grasperke nie. Dit is baie geskik vir ruwe turfgrondtoestande, soos op ’n gholfbaan.

Grondvoorbereiding
Goeie grond en grondvoorbereiding help dat jy nie later probleme moet regstel wanneer die grasperk eers gevestig is nie. Indien die area dreinering nodig het, is dit altyd baie makliker om dit gedurende die grondvoorbereidingsfase te doen. Die meeste grasperke hou van goed gedreineerde grond, verkieslik sanderige kleigrond. Dit kan verkry word deur ’n 60/40-mengsel van goeie bogrond en kompos. Dit moet dan teen ’n diepte van 10-15 sentimeter oor die area uitgesprei word. Besproeiing kan ook op hierdie stadium geïnstalleer word.  Mense verwar gelykmaking en die toevoeging van bogrond dikwels met bemesting – as jy die vlakke kan regkry gedurende die grondvoorbereidingsfase hoef jy nie later bogrond te gooi om die grasperk gelyk te maak nie.

Kweek van die grasperk
Daar is ’n paar maniere om ’n grasperk aan te plant, naamlik deur saad, wortels en lopers, pluime en sooie. Na gelang van die begroting en tydsbestek, moet jy ’n metode kies wat vir jou die gerieflikste is.

Instandhouding
Sny bepaal hoe jou gras lyk en voel en is belangrik vir ’n gemanikuurde voorkoms. Jy moet onthou dat verskillende grassoorte verskillende snyhoogtes vereis. Byvoorbeeld, Cynodon met sy fyn tekstuur kan baie laer gesny word as buffelgras of kikoejoe. Daar is verskeie soorte grassnyers op die mark: ons almal ken rotasiesnyers, ons gewone tuingrassnyers, wat die gras afkap vir ’n redelike mooi resultaat vir die huistuin. Indien jy ’n afwerking van ’n hoër standaard vereis, moet jy ’n silindergrassnyer oorweeg. Hierdie masjien werk op die prinsiep van ’n tuinskêr en gee jou ’n baie beter snit omdat dit meer gras per meter afsny.

Randafwerking is die eenvoudige proses waar die grasrand by beddings, plaveisel en losstaande bome en struike netjies gemaak word. Dit word gewoonlik met die hand gedoen met ’n tuinskêr of meganies met ’n randsnyer of struiksnyer. Die beste is om met jou plaaslike grassnyer-agent te gesels oor die beste grassnyer en randsnyer vir jou spesifieke behoeftes.

Stompsny - kam of uitdunning: die meeste gras groei van risome oftewel wortelstokke wat die blaar horisontaal tot die grondoppervlak steun. Mettertyd raak die pool of mat van die gras dik en sponsagtig – dit kan wenslik wees vir ’n grasperk by die huis omdat dit ’n sagte, kombersagtige gevoel gee. Maar dit is soms nodig om die grasperk uit te kam omdat plae en siektes en ander grasperkgoggas daar floreer. Dit word gedoen deur dit kragtig met ’n harde besem te borsel of te vee, en sodoende al die dooie organiese materiaal uit te kam. Daar is ook masjiene op die mark wat die gras stomp of vertikaal sny. Vertikaalsny beteken die horisontale risome word vertikaal deurgesny sodat dit meer individuele plante voortbring. Dit sal eindelik ’n gesonder grasperk tot gevolg hê.

Spykerrol of tandeg: Met hierdie metode word die grond in die grasperk deurlug. Spykerrol breek die grond op sodat water en lug dit kan binnedring. Dit word met die hand met ’n spykerroller gedoen. Tandeg is baie soortgelyk; maar dit word gedoen met ’n hol steekpen of ’n tandeg-vurk waardeur klein pluime verwyder word. Daarna kan jy die bolaag oorgooi en die onderoppervlak van die grasperk bemes sonder om die oppervlak te versteur.  
Bogrond-toevoeging: Mense is nie altyd seker of dit nodig is om bogrond te gebruik nie. Talle dink dat jy die grasperk so voed. Dit is egter nie ’n goeie ding nie, aangesien bogrond slegs gebruik moet word om gras-vlakke te verbeter. Die herhaaldelike toevoeging van bogrond  sal dus die doel daarvan belemmer.

Bemesting word gedoen om die verlies aan grondvoedingstowwe te herstel; veral stikstof, fosfor en kalium, aangesien gras geneig is om hierdie voedingstowwe uit die grond te neem. Jy kan twee keer per jaar bemes met ’n organiese of nie-organiese kunsmis wat ’n 3:1:5 verhouding van hierdie voedingstowwe bevat.

Besproeiing: Dit  is die beste om jou besproeiingstelsel gedurende die ontwikkelingsfase van jou grasperk te laat installeer. Die meeste van ons het egter ons grasperk geërf of aangelê sonder om te veel aan besproeiing te dink. Sekere maatskappye verkoop goedkoop doen-dit-self-besproeiingstelle wat heeltemal voldoende vir jou sal wees. Hulle verkoopsmense en –konsultante sal jou raad kan gee oor die beste stelsels.

Plaag- en siektebeheer: Die grootste gras-perkplaag is onkruid. Dit kan met die hand of met   chemikalieë beheer word. My ondervinding is dat voortdurende sny die probleem met onkruid oplos. Onkruid is gewoonlik tweesaadlobbig en hou nie daarvan om gedurig kort gesny te word nie. Swaminfeksies en ander plaagbesmetting verg moontlik professionele hulp en dit is altyd raadsaam om met ’n konsultant te gesels vir die beste raad.

RESENSIE

Contractor Lawnmowers het pas ’n nuwe reeks grassnyers bekend gestel wat absoluut geskik vir jou grasperk sal wees. Die twee intree-modelle is die LSMP 3248 (elektries-gedrewe) en die LSMP 6548 (petrol-gedrewe).
Daar is nie groot verskille tussen die twee grassnyers in die reeks nie, buiten dat die elektries-gedrewe model ’n kapasiteit van 3.2 kw. het teenoor die 2.8 kw. van die petrol-gedrewe model.
Op sigself maak die verskille nie juis saak nie, want die stukrag agter hierdie nie-self-gedrewe grassnyers is tog jy self.
Hierdie reeks grassnyers is spesifiek ontwikkel met die tuisskeppende-tuinier in gedagte, en beide modelle behoort die taak van grassny maklik en vinnig te verrig.
Die konstruksie rondom die enjin en lembak is robuus, en na my mening ’n belangrike oorweging wanneer dit kom by grassnyer kies wat die lang-turf-gras-pad kan vat.
Beide modelle in die reeks kom ook met ’n fynkap-monteerstel as deel van die pakket.
Dit sal jou baie tyd en moeite spaar aangesien die outjie die gras-molm as organiese materiaal te-rugvoer na jou grasperk.
Hou natuurlik ’n ogie op jou grasperk, en as die langdurige gebruik van die fynkap-monteerstel veroorsaak dat daar te veel organiese molm opbou, is dit tyd om die grasperk bietjie uit te kam.
Albei modelle het ’n vierslag-lemskyf wat ’n beter kwaliteit sny aan jou gras bied.
So wanneer jy tussen die twee bulletjies moet kies, sal jou enigste oorweging die elektries-gedrewe of die petrol-gedrewe model wees, na gelang wat vir jou omstandighede geskik is.
Die grootte van jou grasperk sal natuurlik ook ’n bepalende faktor wees. Sou jou grasperk kleiner as ’n 1000 vk./m en die kragpunt naby genoeg wees, raai ek aan jy gaan vir die elektriese model.
Elektriese grassnyers maak minder geraas en sal jou bure ook minder pla. Lekker sny.