Volg ons op Facebook

Hou só Brucellose op sy tone

Written by  Dr Joan Kleynhans
| in Veearts
| September 4, 2014

Brucellose is ʼn bakteriese infeksie wat deur die patogeen Brucella abortus veroorsaak word.

        Onder beeste veroorsaak dit spontane aborsies en kan dus tot ekonomiese verliese lei. Boonop is dit ʼn soönotiese siekte, met ander woorde iets wat ook na ander spesies soos mense oorgedra kan word.

Aborsies in beeste

        In beeste vind besmetting plaas deur kontak met ʼn geaborteerde fetus, vrugmembrane of die baarmoedersvloeistof van ʼn koei wat geaborteer het. Sommige beeste sal hieraan ruik of lek, ander neem dit per abuis in waar dit die weiding besoedel het. Die bakterieë kan vir tot 8 maande in die lyk van ʼn geaborteerde fetus in die skaduwee oorleef, 3 tot 4 maande in mis, en 1 tot 2 maande op droë grond. Die bakterieë kan dan op allerhande maniere in die dier se sisteem beland – deur bekslymvliese, beskadigde vel, besoedeling van die uier of selfs deur die konjunktiva, of oogslymvlies.
        Diere wat aktief besig is om te reproduseer, is die meeste vatbaar. Kalwers van besmette koeie kan, as hulle lewend gebore word, die siekte voortdra. Tot op 18 maande toets hulle dikwels negatief, maar ontwikkel dan kliniese tekens.
        In ʼn onlangs-besmette kudde kan vanaf 30 tot 70% van die koeie aborteer. Kalwers word gewoonlik op tussen 5 en 7 maande dragtigheid geaborteer. Mens sien ook plasentas wat vassit in besmette kuddes. Dit veroorsaak ook onvrugbaarheid in koeie sowel as bulle. In bulle word orgitis (ontsteking van die testes) soms waargeneem. Diere wat reeds ʼn geruime tyd siek is, vertoon soms ook geswelde gewrigte.

Ernstige griepsimptome in mense

Besmetting in mense vind plaas deur die hantering van besmette fetusse, vrugmembrane en -vloeistof, bv. wanneer daar met kalwing gehelp word. Dit is dus hoofsaaklik ʼn beroepsiekte van veeartse, boere en hul werkers. Besmette, ongepasteuriseerde melk kan egter ook die siekte oordra.
        In  mense kan simptome die volgende insluit: koors, nagsweet, seer keel, aanhoudende gehoes, hoofpyn, gewrigspyn, spierpyn, gewigsverlies, swakheid en depressie. Soms word dit met griep verwar. In sommige mense is die siekte relatief matig, en van korte duur. Dikwels is dit egter chronies, en kan dit vir maande tot jare ʼn uitmergelende effek op die lyer se gesondheid en lewenskwaliteit hê. Behandeling is wel beskikbaar, maar is nie in alle gevalle ewe effektief nie. Ook word die siekte dikwels aanvanklik nie (korrek) gediagnoseer nie.

Diagnose en bekamping

        Brucellose in beeste kan gediagnoseer word deur geaborteerde fetusse by ʼn veeartseny-laboratorium te laat ontleed. Versoek jou staatsveearts of dieregesondheidstegnikus om monsters van die fetus, vrugmembrane en -vloeistof vir ontledingsdoeleindes te neem.
        Mens kan ook bloed van die koei wat geaborteer het, neem en laat toets. Dit is raadsaam om dan sommer alle onvrugbare koeie op die plaas met so ʼn geleentheid te laat toets.  Diere wat positief toets, sal met ʼn C op die nek deur ʼn DGT of staatsveearts gebrandmerk word. Brucellose is ʼn staatsbeheerde siekte, en jy is dus wetlik verplig om dit aan te meld en na behore te bestry. Daar is geen behandeling nie. Aangetaste diere bly draers, en kan met volgende kalwings weereens die bakterieë afskei en die kudde verder besmet. Hulle behoort dus so gou doenlik uitgeslag te word.
        Entstowwe is egter beskikbaar vir die voorkoming van Brucellose. Alle verskalwers moet tussen die ouderdom van 4 en 8 maande geënt word. Ouer vroulike diere moet nie geënt word nie. Indien hulle dragtig tydens inenting is, mag hulle aborteer. Bulle word ook nie ingeënt nie, aangesien die entstof hulle onvrugbaar kan maak. Volg die entstof-instruksies noukeurig, en waak teen self-inspuiting. Die entstof bevat lewendige Stam-19 Brucella-bakterieë, en jy kan dalk siek word.
        Om Brucellose in ʼn besmette kudde uit te roei, moet die hele kudde jaarliks getoets word. Positiewe diere moet verwyder word om verspreiding te voorkom. Indien melk vir menslike gebruik bestem is, behoort die melk elke twee maande getoets te word.
        Indien nuwe diere aangekoop word, maak seker dat hulle vir Brucellose (en ook TB) getoets is. ʼn Skoon kudde sal ʼn sertifikaat hê waarop aangedui word dat die diere negatief getoets het.
        Om infeksie by mense te voorkom, moet beskermende oorklere en handskoene gedra word wanneer met kalwing gehelp word, of andersins met fetusse, membrane en vloeistowwe gewerk word.
        Pasteuriseer of kook alle melk vir menslike gebruik. Kaas, joghurt en roomys wat van ongepasteuriseerde, besmette melk gemaak word, kan die siekte oordra.