Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Die eetmaniere van ons geselskapdiere

Written by  Dr Nicolene Swanepoel
| in Veearts
| September 4, 2014

Honde en katte is seker ons mees algemene “geselskapsdiere”. Nie net hulle voedingsbehoeftes verskil nie, maar ook hulle eet- of “ingestiewe” gedrag.

  Laas maand het Dr Kleynhans-Jordaan oor troeteldierkos gesels. In hierdie artikel wil ek graag uitwei oor ʼn paar interessante en hopelik betekenisvolle aspekte rondom ons “geselskapsdiere” se eetgedrag.

Hond se gedagtes

        Deesdae word daar algemeen aanvaar dat honde van wolwe afstam (wolwe word weer op hul beurt tot die oorhoofse hond-familie gereken). En oor die algemeen sal mak honde steeds letterlik soos wolwe vreet as hulle die kans kry. Ekstreem-geteelde diere, soos miniatuur-tipe hondjies, is natuurlik ʼn uitsondering, want hul klein bekkies en tingerige tandjies en die oneffektiewe vertering van hulle piepklein pensies maak dat hulle eerder geneig is om vol fiemies aan hulle kossies te peusel.  
        Die meeste volwasse honde word deesdae twee keer per dag gevoer. Dis gerieflik vir ons as base, en ook fisiologies goed vir die dier, want dit help verseker dat kos geleidelik verteer word, en dat bloedsuiker en ander fisiologiese parameters nie te veel fluktueer nie. Maar hul voorouers sou tipies baie kos op een slag gevreet het – ʼn direkte gevolg van die manier waarop die meeste lede van die hond-familie (soos wolwe en wildehonde) in die natuur jag.
        Prooidiere word nie met elke jag platgetrek nie. Prooi-spesies is dikwels groter as die jagters, en lewer ʼn aansienlike opbrengs aan vleis. Maar suksesvolle jagters van sulke groot prooi vreet selde of ooit alleen in die natuur, en daar is altyd die gevaar dat groter roofdiere by die karkas sal opduik (en natuurlik die voortdurende oorlas van asende voëls).
        Die hond se strategie is dus eenvoudig: vreet onmiddellik soveel en so gulsig as wat jy kan, want jy weet nie vir hoe lank nog jy sal kan vreet of wanneer jy weer die geleentheid sal kry nie. Van die kos kan later weer uitgebraak word vir welpies, so die vervreet vervul ook ʼn ander tipe spens-funksie. Dit is dus in honde se natuur – ook ons brakke – om te wil eet vir ʼn vale as ʼn goeie kans opduik.
        En omdat wilde honde (wolwe, ens.) se prooi dikwels groter as die jagters self is, en meestal gevaarlik, vereis die jag noukeurige samewerking tussen individuele jagters. Prooi word tipies in aflosspanne gejaag totdat hulle te moeg word en gepak kan word. Honde is daarom van nature groepdiere – inherent sosiaal, vriendelik en medewerkend. Deesdae se algemene gebruik om honde vir lang tye alleen te los (as waghonde), druis dus eintlik fundamenteel teen honde se sosiale natuur in.
        Ons moet ook in aanmerking neem dat ander aspekte benewens die bloot fisiologiese (voeding) belangrik is wanneer ons ons honde voer. Die oorgrote meerderheid van wilde diere sal die grootste gedeelte van hulle wakkertyd tipies daaraan bestee om kos in die hande te kry. Dit gee hulle fisieke en verstandelike oefening.
        Die huisdier word egter deesdae eensklaps ʼn groot volume voorbereide kos in ʼn bak gegee, sonder dat dit hom enige inspanning of stimulering gekos het – hulle slurp dit in ʼn oogwink op, en wat dan gedoen?  Slaap, slaap en nog  slaap.  Hulle raak verveeld, en vet. Verveling, soos skoorsoek in tieners, gee aanleiding tot probleemgedrag.  Voor jy vir die hond kwaad word as jy tuiskom en ʼn uitgegroude tuin sien, vra jouself:  Is dit die dier se skuld, of is dit die skuld van die “omgewing” wat jy skep?
        Dit maak dus ʼn groot verskil as jy die maaltyd – die hoogtepunt in menige hond se dag – in ʼn meer avontuurlike geleentheid kan omskep as die blote bediening. Droë kos kan as beloning vir klein “takies” gebruik word, maar as jy nie tyd vir sulke belangrike speletjies het nie, is dit altyd ʼn goeie idee om ʼn draai by ʼn goeie troeteldierwinkel of “vet shop” te gaan maak. Talle produkte is beskikbaar, vanaf goed-ontwerpte speelgoed, veilige en duursame kougoed, voer-“puzzles”, tot kubusse of balle wat kos geleidelik vrystel.

Die afsydige swier van die  voorkamertier

Die kat-familie verskil veral van die hond-familie in die groter uitlopendheid in die grootte van sy lede (dink maar aan die verskil tussen ʼn huiskat en ʼn Bengaalse tier), en in die feit dat katte oorwegend nie-sosiale diere is (leeus en koalisies van jagluiperds is van die min uitsonderings). Katte jag op korter afstande, en bekruip en die stel van lokvalle is hul jagforté. Omdat hulle meestal alleen jag, is hulle prooi dikwels kleiner as hulself. Hulle is as ʼn reël eensame, geruislose jagters, met oë wat uitstekend by donker toestande aangepas is, en ʼn fenomenale gehoorsintuig. Bewegings en ‘n geritsel, stimuleer die jagsintuig, en snorbaarde verskaf ʼn verdere taktiele sintuig.
        Mens sien dit alles duidelik as jy na huiskatte se gedrag kyk. Die kat se prooi – dink maar aan ʼn muis – is tipies heelwat kleiner. Katte jag alleen, kruip saggies nader aan die prooi en slaan op die laaste oomblik eensklaps toe. Omdat katte se prooi klein is, vereis hulle dus meer gereelde, kleiner maaltye. Dit maak dus sin dat katte alleen jag, en dat hulle gedrag noodwendig meer individualisties as honde sal wees – hulle veelbesproke “eensydigheid” is dus nie uit dwarsheid nie, maar natuurgetrou.
        Baie mense gee hulle katte vrye toegang tot kos, maar katte sal ook aanpas by ʼn maaltydskedule van ʼn paar maaltye deur die dag. Mees ideaal is as hulle ʼn klomp klein maaltye deur die dag kan kry – wat ook die dag vir hulle meer interessant sal maak. Die belangrikste reëls is egter om nie hul roetine te veel te verbreek nie, en seker te maak jou kat kry elke dag die optimale hoeveelheid  kos – en natuurlik, altyd oorgenoeg skoon, koel, water! En die tipe speelgoed en voerders wat vir honde beskikbaar is, is ook vir katte beskikbaar. 

sep-direregedrag-1

‘n Paar algemene wenke

Vir honde is ʼn maklike oplossing om droë kos op ʼn skoon oppervlak soos sement of ʼn mat uit te strooi, eerder as om alles netjies en gerieflik in ʼn bak op te dien. Die oplossing werk ongelukkig nie vir ʼn klomp honde nie, want dan gaan die vrate alles kry. (Vrate kan egter wel eenkant gevoer word.)
        Nie-vraatsugtige diere kan selfs “ad lib” gevoer word – met ander woorde te eniger tyd, mits die totale daaglikse porsie natuurlik dan beheer word. (“Ad libitum” kom van Latyn vir “soos dit jou behaag.”) In vraatsugtige, verveelde  diere of wanneer baie smaaklike kos gevoer word, sal so ʼn sisteem egter beslis tot vetsug lei. En nou is daar ook geen maaltye vir so dier om na uit te sien nie.
        Etenstye bied ʼn ideale geleentheid om klein, vinnige, maklike en aangename takies aan te leer – “kom hier”, “sit”, “raak rustig” – wat  verstandelike stimulasie verskaf en byna half ongemerk, maar baie effektief, gehoorsaamheid bewerkstellig. Ek stel voor dat mense ʼn deel van die daaglikse rantsoen in hulle sak sit, en die hond (of kat) dan roep om dit te kom haal. So leer die dier op ʼn positiewe manier om na jou toe te kom as jy roep.
        En as jy kreatief betrokke raak – altyd ʼn nuwe, stimulerende, maar doenbare nuwe takie kan versin – kan dit jou verstand ook oefen, en sal dit beslis die band tussen jou en jou dier versterk.  Gehoorsaamheidsopleiding hoef nie ʼn kwessie van een sessie een maal per week te wees nie – met sulke “een honderd en een” klein maaltye kan jy heeldag, heelweek, speel-speel saam met jou dier leer.
        Omdat daar soveel kompetisie tussen kosvervaardigers is, word dierekos ook al hoe smaakliker gemaak met allerhande toevoegings en geure. Met hoe groter plesier die dier vreet, hoe meer is die mens oortuig dat die kos van goeie gehalte is – dis egter nie noodwendig so nie. Dis verkieslik om eerder ʼn kossoort met ʼn matiger smaak voor te sit, want nes ons, vreet honde en katte agter die lekker aan.

Tot ʼn volgende keer, en bon appétit vir jou brak!