Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Aggressiewe gedrag in honde

Written by  Dr Nicolene Swanepoel
| in Veearts
| October 6, 2014

28 September was wêreldhondsdolheid dag.  My kollega, Dr. Joan Kleynhans-Jordaan, skryf oor dié uiters belangrike soönotiese* siekte. 

Een van die simptome van die ernstige siekte is onverwagte aggressie.  Ek gaan egter oor die meer algemene, nie-mediese oorsake van aggressie in honde gesels. 

Agtergrond

        Honde het evolusionêr as prooivangers ontwikkel.  Dit is dan ook dié aspek wat deur mense uitgebuit is om te help tydens hulle eie jagtogte.  Die hond se territoriale neigings om sy gebied te verdedig is geëksploiteer om die mens se huis te beskerm.  Omdat hulle nougebonde sosiale troppe vorm, is hulle geneig om mekaar te beskerm – dié eienskap is benut om aan die mens persoonlike beskerming te verskaf.  Later is daar stelselmatig deur selektiewe teling gepoog om meer spesifieke rasse wat aan verskillende menslike behoeftes voldoen te teel. Dié genetiese manipulasie het aspekte van die jaginstink verfyn tot meer spesifiek verlangde gedrag, byvoorbeeld spoorwerk, “retrieving”, “pointing”, om in gate agter hase en jakkalse in te gaan (terriërs en dashonde),  dobbelsport (soos honde wat mekaar of ander diere verskeur as vermaak en geldmakery) of windhondreisies, waar daar agter ʼn meganiese konyn aangehardloop word.  Selfs skaaphonde se kuddewerk is gemodifiseerde jaggedrag.
        Die meeste honde neig dus natuurlik tot aggressie.  Dis maklik vir ons om te oordeel dat ʼn hond onaanvaarbare aggressie toon – maar is ons realisties om te verwag dat ʼn hond moet kan onderskei tussen wat aanvaarbaar is en wat nie, sonder om spesifiek, akkuraat en intensief opgelei te word? Persoonlik voel ek dat ons te veel van honde verwag – hulle is geneig om instinkmatig op te tree, hulle instink, in gevalle van krisis, sal hulle laat neig om aggressief op te tree – dit is tog dan in hulle natuur.  Soms word die verkeerde persoon aangeval, en die persoon wie jy dalk glo ʼn hap in die bas moet kry, word dalk met waaiende stert verwelkom.  Vir ʼn mens lyk die sake duidelik, maar vir ʼn (veral swak gesosialiseerde) hond kan daar ʼn plotselinge oorgang wees tussen vriendelike onderdanigheid aan sy baas en vrees (moontlik gevolg deur defensiewe aggressie), en, aan die ander kant, tussen selfvertroue en offensiewe aggressie.

Aanvallende en verdedigende aggressie

        Een van die mees basiese onderskeidings van aggressiewe gedrag is tussen aanvallende en verdedigende aggressie.  Is jou hond kwaai omdat jy dink hy jou wil aanval, of omdat hy dink jy hom wil aanval?  Dikwels glo ons dis die eerste geval, maar as ons hondegedrag beter leer ken, sal mens besef in baie gevalle is dit vrees-aggressie.  Jou hond verstaan nie altyd wat aangaan nie, word dalk angstig, en wys subtiele liggaamstaal wat dikwels deur mense gemis of gemisinterpreteer word.  ʼn Onderdanige grynslag word dikwels gelees as ʼn teken van aggressie.  As ʼn hond hoorbaar knor, waarsku sy eintlik dat sy ongemaklik is en nie veilig voel om genader te word nie – as jy die hond skel of selfs slaan omdat sy knor, is jy eintlik besig om haar te forseer om tot die volgende stap oor te gaan: veg of vlug. Daar is ook ander soos vries-, “fiddle”- en fluktueer-opsies, maar dit is minder prominent in algemene hondegedrag.  As die hond baie selfvertroue het, sal sy aanval, soos die meeste honde wat geteel is vir beskermingswerk, onder andere Duitse herdershonde, Rottweilers en Boerboele.  Sagter geaarde honde sal probeer vlug – maar as die vlugpad geblok is, soos wanneer die hond is in ʼn hoek gedruk is of aan ʼn leiband vas is, voel sy sy het geen keuse nie – as sy nie kan vlug nie, sal sy moet veg.  Dit is dikwels dié hond wat vinnig byt en dan “berou toon”. Laasgenoemde is die hond wat eintlik nog banger word, en al hoe meer onderdanige simptome wys in die hoop dat die bedreiging (jy met jou aggressiewe houding) haar sal uitlos, wat eintlik al was wat sy in die eerste plek wou gehad het, as jy net geluister het. Dit raak dus ʼn sneeubal-effek, en die hond word al hoe banger vir die baas, en die baas word al hoe meer gefrustreerd met die hond en straf die hond al hoe meer.  Die waardevolle vertrouensband word dus totaal afgetakel omdat ons nie ons diere verstaan nie.
        As mense moet ons leer respekteer en begryp dat ʼn hond soms onseker voel, tyd nodig het om ʼn “nuwe” of vreemde situasie te leer verwerk, en indien hulle nie dadelik deur die eienaar gerus gestel kan word nie, wil hulle dalk eerder alleen gelaat word. Laat staan, vir die oomblik, en probeer later, as die situasie kalm is, om die hond stelselmatig en geduldig vertroue te laat kry, sodat die risiko van vrees-aanvalle verminder. Klein hondjie- (“puppy”) sosialiseringklasse help baie om dié tipe gedrag te voorkom, en leer honde grootword met die ideale houding – vriendelike selfvertroue, sonder onnodige vrees.

“Dominante” aggressie

        Mens hoor die afgelope paar dekades so gereeld dat iemand die hond daarvoor blameer dat hy “dominant” is.  Die woord het ʼn verpestelike en onregverdige etiket geword.  Daar is baie min honde (of ander diere) wat werklik dominant-aggressief is.  Honde is deur eeue geteel om inskiklik en dus onderdanig aan mense te wees.   As jy ʼn goeie waghond wil hê, moet jy dan wel ʼn “dominante” hond kies; dus  ʼn hond met hoë selfvertrouevlakke, MAAR dan loop jy die gevaar dat die hond dalk die verkeerde mens byt, soos die kind wat agter ʼn verdwaalde bal oor jou tuinmuur klim, of die huishulp wat maar effe bang is vir die hond en onwillekeurig senuweeagtige lyftaal projekteer.  Laasgenoemde kan die hond as ʼn bedreiging lees en hom laat ontvlam.  ʼn Bang persoon kan dalk aanhoudend na die hond kyk.  Die hond kan die staar in sy oë as dreigende gedrag ervaar, en dit mag veral ʼn waghond-tipe of “dominante” hond sneller.  (ʼn Meer onderdanige hond sal geneig wees om weg te kyk en selfs weg te loop, maar sal weer eens dalk byt as sy in ʼn hoek gedryf voel.)
        Honde wat gewillig is om ʼn mens aan te val (soos wat gewoonlik van ʼn “goeie waghond” verwag word) moet oor baie selfvertoue beskik – en dit is dikwels so ʼn hond wat nie sommer sal swig onder ʼn swaap van ʼn baas nie.  Dus verwag jy in dieselfde hond een wat sal byt wanneer jy dink dis goed maar nie sal byt wanneer jy dink dat dit onvanpas is nie – en hoe kan jy sulke diskresie van die hond verwag sonder intensiewe opleiding om tussen vriend en vyand te onderskei?  Selfs polisiehonde word nie opgelei  om op eie diskresie aan te val nie, maar om op die hanteerder se versoek, sonder aggressie, bloot net as stuitmiddel, aan te val.  ʼn Aggressiewe hond is baie minder beheerbaar – die hond moet dus eintlik net bevele om ʼn arm te gryp en ʼn persoon grond toe te bring, gehoorsaam, en moet dadelik kan los op bevel, en sonder aggressie terugkom na die hanteerder.  Die ou versoek: “Ek soek ʼn goeie waghond wat ook goed sal wees met kinders”, is  wensdenkery. Kies die een of die ander, anders gaan die trane dalk rol.   Die hond mag dalk met JOU eie kinders goed wees – maar ʼn maatjie wat kom kuier, mag dalk daaronder ly.  

Honde en kinders

        Onthou, kinders moet geleer word om honde en ander diere te respekteer – moenie van jou hond verwag om sterttrekke en seermaak sonder objeksie te verduur nie.  Totdat jou kind met sagte maar effektiewe vaardigheid met die hond kan werk,  moet jy  NOOIT die kind en hond alleen by mekaar laat nie – dis nie die risiko werd nie – iets onverwags kan die hond se byt-instink afsneller.  
        Dit is onregverdig om van die goeie waghond te verwag om genoeg selfvertoue te hê om ʼn aanvaller te byt, maar terselfdertyd treitering van kinders te aanvaar, of gedwee af te spring van die bed as die baas wil kom slaap. As jy so ʼn hond straf omdat hy jou uitdaag, gaan jy òf die hond se selfvertroue aftakel (dus minder geneig om indringers aan te val), òf ʼn magsoorlog   (“power struggle”) met die hond begin – wat ook die hond se vertroue en die goeie band tussen jou en die hond afbreek.  Dit is sinneloos, en kan tot tragedie lei. Wys jou hond jy is ʼn goeie en betroubare leier, nie sy vyand nie.

Gebiedsaggressie

        Ons neiging om honde agter heinings te hou versterk hulle territoriale beskermingsin geweldig – dink maar hoe nonchalant township-honde die wêreld platloop, koel soos komkommers.  Daarenteen sal honde agter heinings histeries blaf om denkbeeldige gevare uit die gebied te hou.
        Persoonlik verkies ek  vriendelike hondemaats bo aggressiewe waghonde – my honde sal eerder die inbrekers met swaaiende sterte verwelkom as om hulle aan te val.  Die meeste honde se territoriale instink sal hulle laat alarm maak – hulle blaf as hulle onraad merk.  Maar om van jou hond te verwag om iemand aan te val in jou afwesigheid is om sy lewe in gevaar te stel.  Hoewel daar dalk dan van my goed gesteel word, sal my liewe hondemaats my ook weer met waaiende sterte kan verwelkom.   
        As jy ʼn hond vir beskerming aanhou, is die kans goed dat die hond uit die weg geruim gaan word voor ʼn inbraak, dalk deur vergiftig te word.  Tensy jy ʼn redelike harde mens is, sal die verlies van ʼn getroue ou hond jou baie langer laat rou voel as die verlies van aardse goed.  Belê eerder jou geld in ʼn goeie elektroniese alarmsisteem – dit kos jou op die ou end minder finansieel (hondekos, veeartsrekenings, prokureurskoste as die hond gebyt het) en emosioneel (ʼn kind wat per ongeluk erg gebyt is, of die tranedal as ʼn hond dood is weens inbrake wat skeefgeloop het).   

Slotsom

        Mense moet verantwoordelikheid neem vir die gedrag van die diere wat hulle in hulle sorg neem.  Hoe jou diere jou en ander mense (en ander diere) se lewens beïnvloed, is jou saak.  In die hiërargie wat ons as die dominante spesie daargestel het, is menselewens die kosbaarste.  As die hond gebyt het, sal hy dit ontgeld, en selfs met sy lewe betaal.  Sy mens kan dalk lelik in die hof boet.  Maak dus seker dat jy jou hond verstaan en reg grootmaak.  Moenie ʼn gevaarlike hond of ʼn gevaarlike situasie skep nie.  Geniet jou hond, en maak seker dat ander mense naby jou ook jou hond kan geniet.
        Daar is nog soveel meer om oor te skryf, soos oor ʼn geknor om die kosbak, rusbankterroriste, ou tannies se “blaffende borsspelde”, kollies wat kinders se hakke hap,  predatoriese of jagaggressie.  Dis egter fluit-fluit-tyd.  Die belangrikste om te onthou: bly liewer bangjan as dooiejan; moenie macho probeer wees met ʼn “butch” hond net om dit later te berou nie; met diere wat vlymskerp tande het, is versigtigheid altyd die wagwoord.  Laat die sterte waai, tot volgende keer.

* “soönoties” (of “zoönoties”) beteken iets soos ʼn siekte wat tussen mense en ander diere wedersyds oorgedra word.