Volg ons op Facebook

Hondsdolheid se byt

Written by  Dr Joan Kleynhans
| in Veearts
| October 6, 2014

Hondsdolheid is ʼn siekte wat alle soogdiere wêreldwyd kan aantas. Die siekte is reeds meer as 5000 jaar aan die mens bekend. Dit word veroorsaak deur die Lyssa-virus van die familie Rhabdoviridae.

        Hondsdolheid is ʼn siekte wat alle soogdiere wêreldwyd kan aantas. Die siekte is reeds meer as 5000 jaar aan die mens bekend. Dit word veroorsaak deur die Lyssa-virus van die familie Rhabdoviridae. In Suid-Afrika kom twee biotipes van klassieke hondsdolheid voor. Een is die hondestam wat onder huishonde en hoofsaaklik rooijakkalse en bakoorjakkalse rondgaan. Klassieke virusse veroorsaak die oorgrote meerderheid van gevalle. Die ander is die muishondstamme wat in muishonde (“mongoose”), meerkatte en verwante spesies voorkom. Drie hondsdolheidverwante virusse kom ook in SA voor, naamlik Lagos-vlermuisvirus, Mokola-virus  en Duvenhage-virus. Mokola-virus het al hondsdolheid by ingeënte diere veroorsaak. Dit gebeur egter uitsonderlik.  ʼn Dier wat hondsdolheid kry, sal siek word en doodgaan, binne 5 tot 10 dae na verskyning van simptome. Daar is nie simptoomlose draers nie. Dit is dus sinneloos om diere soos meerkatte of bakoorjakkalse uit te roei om hondsdolheid te voorkom.  
        Diere wat die siekte het, verander hulle normale gedrag.  Diere wat gewoonlik mak is, soos honde en katte, raak buitengewoon aggressief en sal ander diere en mense aanval en byt. Wilde diere soos jakkalse en meerkatte, sal hul vrees vir mense verloor en mak voorkom.
        As so ʼn dier opgetel word, sal hy dikwels byt. Ek weet ook van ʼn geval waar ʼn man in sy tuin deur ʼn meerkat aangeval en gebyt is. Beeste word dikwels aan die neus gebyt as hulle uit nuuskierigheid aan ʼn meerkat of ander dier wat vreemd optree, ruik.
        In die meeste gevalle word die virus deur speeksel in bytwonde oorgedra. Dit kan egter ook die liggaam deur slymvliese binnedring. Die inkubasietyd van die siekte van blootstelling na verskyn van simptome wissel na gelang van waar die byt was en ook hoe diep dit was. Dit is baie belangrik om enige bytwond onmiddellik deeglik met seep en water te was. Die virus beweeg met die senuweestelsel na eers die brein en dan die speekselkliere.
oktober-veearts-rabies-diagram        Dikwels jeuk of pyn die bytplek selfs nadat die wond genees het. Daar is tans wel ʼn behandelingsprotokol beskryf vir mense wat hondsdolheid het en oorsee is enkele pasiënte al daarmee gered. Inenting onmiddellik na blootstelling is wel effektief. Ten spyte hiervan sterf ongeveer 55 000 mense elke jaar wêreldwyd aan die siekte.
        Die afskeiding van die virus in die speeksel begin wanneer siektetekens verskyn. Simptome wissel, maar kan die volgende insluit: byt, aggressie, ongewone vokalisasie, bv. ʼn bees wat aaneen bulk, geen eetlus, verlamming van kaak- en slukspiere, algemene verlamming, oorgevoeligheid, domheid of lusteloosheid. Boere en veeartse word soms blootgestel wanneer hulle hul hande in ʼn bees se bek of keel steek omdat hulle vermoed die bees kwyl oor iets in sy keel vassit.  Honde hou egter die grootste risiko vir mense in a.g.v. van hulle nabye assosiasie met die mens. Dit is veral so in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo. In die res van die land speel wilde diere ʼn groter rol.
        Volgens die Wet op Dieresiekte, 1984, moet alle honde en katte in die Republiek geënt word. Die eerste inenting is op 3 maande, die tweede minstens 30 dae na die eerste, maar nie later as ʼn jaar daarna nie, en dan elke 3 jaar. Diere onder 3 maande mag geënt word, maar dan moet die entstof op 3 maande en binne ʼn jaar daarna herhaal word.
        Hondsdolheid moet oorweeg word in alle gevalle van buitengewone neurologiese tekens of enkefalitis. Aangetaste diere moet slegs deur ten volle ingeënte personeel hanteer word. ʼn Staatsveearts moet in kennis gestel word.
oktober-veearts-pasteur        Indien hondsdolheid vermoed word, veral in ʼn hond of kat wat nie geënt is nie, of ʼn plaasdier, sal die staatsveearts beslis dat die dier doodgemaak moet word, verkieslik met behoud van die brein. Die hele dier of hele kop moet onmiddellik na die naaste provinsiale staatslaboratorium gestuur word. Indien die brein verwyder word, moet dit slegs deur opgeleide personeel met beskermende oorklere, wat ʼn gesigskerm insluit, gedoen word. Die brein moet in 50% glisero-soutwater (“glycero-saline”) gepreserveer word en nie in formalien nie. Verpakking moet lekkasiebestand wees en moet duidelik gemerk word: “Verdag vir hondsdolheid”.
        Slegs Onderstepoort en Allerton mag hondsdolheid op breinweefsel van diere diagnoseer. Alle blootgestelde persone moet voorkomende inenting ontvang, selfs voor die uitslag bekend is.
        Persone wat nie voorheen ingeënt was nie, ontvang entings op dag 0, 7, 28, dan 12 maande later en dan 3-jaarliks. Geënte persone ontvang entstof op dag 0 en 3.
        Diere wat in kontak was met ʼn dol dier moet aan ʼn staatsveearts rapporteer word. Honde en katte wat voorheen korrek ingeënt was deur ʼn veearts of amptenaar met die nodige magtiging, ontvang opvolg-inentings op dag 0 en 3 en word dan vir 6 maande onder kwarantyn geplaas. Gesonde diere met ʼn onsekere inentingsgeskiedenis kan gebloei word en teenliggaam titers kan bepaal word op die eienaar se onkoste. Indien dit bo 0.5 Internasionale Eenhede per ml is, word hulle geënt en gekwarantyn. Diere met ʼn onvoldoende teenliggaam titer moet vernietig word.
        Hondsdolheid is ʼn lewensgevaarlike siekte. Dit is belangrik om altyd daarop bedag te wees en troeteldiere volgens aanwysings voorkomend te laat inent. Inenting van ander diersoorte mag nie sonder ʼn staatsveearts se toestemming gedoen word nie.