Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Brak soek huis

Written by  Nicolene Swanepoel
| in Veearts
| November 3, 2014

Mense is modebewus en begeer dikwels ’n rasegte hond: jy kry Staffordshire-boelterriër-brigades, Duitse herdershond-entoesiaste, worshond-bewonderaars: elke ras het lojale aanhangers wat sweer niks anders met vier bene en ʼn stert is goed genoeg nie.

        Selfs plattelandse honde het selektief geteel geraak tot stamboekdiere, die nuutgevonde “Afrikanis”. Maar wat van gewone ou basterbrakke, die soort wat die strate in plakkerskampe vol drentel?  Wie is lief vir hulle?  Dierewelsynsorganisasies se hokke loop oor van baaslose brakke, honde uit gebroke huise, lojale vierbeenmaats  wat  deur hulle tweebeenvriende weggesmyt is.
Terwyl daar hordes diere in dierewelsynsorganisasies is wat huis soek, maak dit tog sin om eerder een van hulle ’n kans op ’n goeie lewe te gee deur daar een aan te neem, of hoe?
        Om ʼn weeshond ʼn huis te gee is ʼn grootmoedige daad, maar dit kan jou dalk ook baie frustrasie op die hals haal, en die hond dalk selfs dieper in verdriet dompel. Maar as jy versigtig kies, en met insig lei, kan so ’n hond goud werd wees.

Kies die mens die hond – of kies die hond die mens?

        Hoe oordeel mens watter hond om te kies, uit rye oorvol hokke?  Mens kan nie verwag om die perfekte hond te kry as jy een gaan aanneem nie, maar as daar soveel kandidate is, kan mens wel met oordeel een kies wat die beste sal inpas by jou huis.  As jy werk en min tyd het, maak seker jy kies ʼn gemaklike brak, nog beter, kies twee honde wat goeie maats is, sodat hulle nie so eensaam is as hulle alleen gelaat word nie.
dieregedrag-nov-1        Moet nooit ’n keuse maak oor hoe mooi die hond is nie – kies vir inskiklike temperament en aanpasbaarheid by jou lewensomstandighede. ’n Gesin met kinders moet seker maak hulle kies ’n hond wat van kinders hou, nie ooropgewonde is nie, maar wat rustig met hulle kan verkeer, en wat robuus genoeg is om kinders se rowwigheid te kan weerstaan.
        Daar is dikwels ook jong hondjies wat huis soek – dis ʼn jammerte dat van die outjies nie klein al opgeraap word nie.  Dis tragies hoeveel van hulle in hokke moet grootword.  Die vroegste weke, rondom afspeentyd, is die tyd wat ʼn brakkie die meeste leer, en dis die ideale tyd om ʼn hondjie te laat inpas in jou lewe, sou jy kans sien vir die jeukery, kouery en nukkery van grootword.
        Met ʼn jong basterbrakkie, een van wie jy nie weet wie die ouers was nie, kan jy egter nie altyd voorspel hoe sy persoonlikheid gaan uitdraai nie.  Vergelyk dit met rasegte honde, waar jy die ouers kan ontmoet;  die geaardheid van dié hond is baie meer voorspelbaar. Sekere rasse is geneig om sekere karaktereienskappe te besit: ’n Franse poedel is dikwels slim, ʼn Rottweiler word gesien as  ʼn goeie waghond, ʼn Franse dashond (Basset)  is gewoonlik rustig van geaardheid.  Daar is menige honderas-aannemingsprogramme; so as jy ʼn stamboekhond verkies, kan jy hulle kontak.
        Wanneer jy ʼn volwasse hond aanneem, raseg of baster, kan jy die hond se ontwikkelde geaardheid tot ʼn groot mate daar en dan evalueer.  As jy ’n maat vir ’n huidige huishond wil aanneem, sal die meeste dierewelsynsorganisasies jou toelaat om jou eie honde saam te bring sodat jy kan kyk of die kandidaat goed met joune oor die weg gaan kom.  Sommige sal jou selfs help deur eers vir die hond voog te wees, en indien die hond goed inpas, neem jy hom dan formeel aan. Dis egter hartverskeurend om ʼn hond wat nie inpas in jou huis nie, terug te neem – maar eerder dít as jare se frustrasie wat voorlê.  Mens kan deesdae, met welsyns-webwerwe, selfs ʼn hond elders in die land aanneem, maar dit is altyd wys om eers die dier self te ontmoet voor jy besluit.
        Indien daar katte tuis woon, kan jy vra dat die hond verby die kathokke geneem word – hou hom fyn dop en kyk of hy intens belangstel in die katte, blaf, opgewonde raak, of, soos mens graag wil sien, rustig verby die kathokke loop sonder om hom aan hulle te steur.
        Welsynspersoneel wat die skakelwerk tussen hond en voornemende gesin doen, word deesdae deeglik opgelei en dra kennis van dieregedrag. Hulle sal alles in hulle vermoë doen om die regte hond vir jou te help identifiseer.
        Sodra jy ’n geskikte kandidaat of twee in die oog het, vra soveel moontlik uit oor die hond se geskiedenis, byvoorbeeld waarvandaan hy/sy kom, waarom hy/sy by die welsyn geland het (het vorige eienaars byvoorbeeld oor die hond se gedrag gekla, en indien wel, kon hulle die hond dalk misverstaan het of onrealistiese verwagtings gekoester het?) Is daar mediese kondisies waarvan jy bewus moet wees?  
        Indien die hond wel “kwessies” het, kan hulle jou dikwels ook raad gee oor hoe om dit die beste te behartig, sodat dit behandel kan word.  So leer mens dan ook nuwe lewenslesse,  bekom jy nuwe talente, en word jy ʼn ryker mens.
        Moenie verbaas wees dat die welsynsmense jou ook uitvra oor jou eie vermoë om die dier goed te versorg nie – hulle is net so besorg dat die dier ʼn goeie huis kry as wat jy is of jy ʼn goeie maat kry.
Jy sal ʼn aannemingsfooi, gewoonlik ’n aansienlik kleiner bedrag as die dier se sterilisering - en inentingkostes,  moet betaal.
        Die nuwe eienaar moet ook verantwoordelikheid aanvaar om die dier finansieel, emosioneel  en fisies te versorg. Jy mag selfs afgekeur word as hulle vermoed dat jy nie geskik is om die hond ʼn goeie huis te gee nie  - moenie vies wees as jy reken hulle maak ’n oordeelsfout nie - respekteer hulle kieskeurigheid.  Iemand wat ’n hond sommer net so in jou arms gooi, dra nie die hond se beswil op die hart nie.
        Sommige mense sien kans om die hond met baie probleme, die een wat niemand anders wil hê nie, aan te neem, maar dit verg ’n mens met spesiale insig, geduld en tyd.
        Deurdink die saak goed, en gebruik jou verstand, nie jou hart nie, om die keuse te maak.  Moet asseblief nie lugkastele bou en jouself  as ʼn weldoener sien as jy weet jy kan nie die insette lewer nie: niemand wil sien dat die hond weer teruggeneem moet word en weer deur die traumatiese siklus van hoklewe en hoop gaan nie.

Slagysters in die huis

        Hokhonde, veral die van strate af, is menigmale nie huismaniere geleer nie.  Dit kan gewoonlik maklik soos met klein hondjies, met begrip, sonder straf, en met beloning van die regte gedrag (“Mooi so, jy het op die gras gegaan!”) gou reggestel word.  Onthou – skep die geleentheid vir die hond om dinge reg te kan doen, en minimaliseer die kanse vir dinge om verkeerd te gaan – neem die hond dikwels uit, wag tot hy/sy ontlas voor jy hom/haar weer inneem.   Honde wat lank in hokke aangehou was, sal dalk ook ʼn ontlastingsubstraat-voorkeur ontwikkel het – vir hulle is dit “reg” om op beton besigheid te doen.  Hou die hond dan eerder weg van betonoppervlaktes by jou huis totdat hy geleer het dat die gras of grond eintlik net so goed, indien nie beter is nie.  Volwasse reunhonde sal dikwels die eerste keer as hulle in ʼn nuwe huis kom, wil been lig binne – hou hom dus eerder aan die leiband  vir ʼn uur of wat, neem hom na buite vir besigheid, en weer aan die leiband na binne, totdat hy rustig binne raak en voor jy hom vrye teuels in die huis gee.  Sodra hulle besef die huis is hulle s’n, hulle kan vir ewig hier bly, sal die nood om te merk, om veilig en tuis te voel, vervaag.

Angstige honde

        Sommige toon angstige gedrag, en dit kan die nuwe huisgesin nie altyd begryp of verwerk nie. Die  hond het dalk alle vertroue in mense verloor: hy kan bang wees vir die geringste  geraas, of wegruk van ʼn hand wat skielik in sy rigting uitgesteek word – hy besef nie dis ʼn hand wat liefde wil gee, en nie ʼn harde klap nie. Vir iemand wie die dier wil koester en geniet, kan dit ʼn groot teleurstelling wees.
        Skeidingsangs, wat uiting kry in vernielsug, oormatige geblaf of getjank, en ongepaste ontlasting as die mense weg is, kom ook soms voor – die hond was gewoond aan baie ander honde en mense om hom, en skielik word hy vir lang periodes alleen gelaat.  Hy is bang om alleen te wees, en besef nie sy mense kom terug nie.  Die gedrag is meestal oorkombaar, maar sal ’n mate van tyd en geduld nodig hê.
        Die versagtende feit is egter dat die meeste van dié diere in hulle harte HOND bly, en as hond is hulle geaardhede om te wil tevrede stel, om gemaklik deel te wil wees van ʼn trop, ʼn familie, waar hy veilig voel en floreer.  So, met geduld en insig, kan mens meestal so ʼn dier help herstel. Die huismense moet egter hond-wees verstaan en weet hoe om die hond se gedrag korrek te kanaliseer.
        Werk sagkens met bang honde, die meeste van hulle leer ook gou hulle is veilig, en begin uit hulle dop kruip. Moet nooit skree of skel nie – onthou, die dier is self verward, en mag selfs verdedigend wees teen huismense en huisdiere in die nuwe omgewing, totdat hulle veilig voel.

Hokstres

        Die meeste honde wat lank in hokke was, beleef  ʼn mate van hokstres.  ʼn Geblaf (by ʼn meer innemende hond), of leksere (by ʼn meer teruggetrokke hond) is tekens van hokstres wat mag voorkom. Die tipe gedrag verdwyn dikwels sodra die hond uit die stresvolle omgewing geneem word, maar mens moet bewus bly daarvan, aangesien dit weer kan opvlam indien die hond weer erge stres ervaar. As mens die gedrag verstaan, kan jy die hond dikwels help om dit te oorkom – vra die welsynspersoneel om raad – of  kry die hulp van ʼn betroubare professionele gedragskonsultant.
        Maak dus seker jy het tyd om met die hond te spandeer – moenie die hond aanneem en dadelik daagliks alleen los nie – dit sal chaos afgee. Staan by die hond gedurende die eerste paar weke om aan die nuwe omgewing, die nuwe huismense en ander dieremaats gewoond te raak, en help hom om geleidelik die gereelde roetine gewoond raak – so, as die hond moet agterbly deur die dag wanneer mense skool toe gaan en gaan werk, kan hy hopelik geleidelik, eers vir korter, en later vir langer periodes, daaraan gewoond raak.  Moenie te veel, te vinnig, verwag nie.
        Maak seker daar is iemand wat kan help om na jou diere te kyk wanneer jy weggaan – dikwels sal ander mense wat ook honde aangeneem het, gewillig wees om beurtelings te help om na honde om te sien.
        Kortliks, kies  ʼn hond wat in jou omstandighede sal aanpas.  Maar, as jy iemand is wat die tyd, geduld en insig het, kan die wen van die hart van ʼn “moeilike” hond, wat niemand anders voor kans sien nie, een van die soetste oorwinnings wees.  Om ʼn gebroke dier te help heel raak, is ʼn ding wat mens warm binne laat gloei.
        Sou jy daarin slaag om die hond te help selfvertoue opbou, en kans gee om aan jou liefde te betoon sowel as liefde te aanvaar, kry jy waarskynlik een van die lojaalste vriende,  gewillig om myle ver saam met jou deur diep dale te stap.