Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Kat- en honde-Herberge

Written by  Dr. Nicolene Swanepoel
| in Veearts
| December 12, 2014

Een van die mees beperkende aspekte van geselskapsdiere is die moeilike besluite wat geneem moet wat word as mens moet reis.  Met voorafbeplanning hoef dit nie ʼn nagmerrie te wees nie.

Die lekkerste vir die dier sal wees om saam met die huismense te gaan vakansie hou. Ongelukkig is dit nie altyd prakties nie. Jan Tuisbly se karretjie kom tweede, so as jy die dienste van betroubare versorgers wat kan inbly by jou huis kan bekom en bekostig, is dit goud werd. Vir honde en selfs sommige sosiale katte wat nie te gebonde is aan een huislike omgewing nie, is ʼn goeie derde opsie om oor te bly by goeie maatjies – hetsy van die twee- of vierbenige soort.  Ek is gelukkig dat ek en ʼn vriendin mekaar help – haar honde en myne kom goed oor die weg, hulle kuier bymekaar as die een of die ander mens moet weggaan.  Sy bly net om die hoekie, so dis sommer baie gerieflik.
        Moet asseblief NOOIT jou honde alleen laat en iemand vra om dan en wan te kom kos en water gee nie. Honde is sosiale wesens en vergaan van verdriet sonder hulle mense se geselskap. Sommige katte sal dalk ʼn dag of twee sonder hulle mense kan verduur MITS daar iemand is wat minstens een keer per dag kom kyk dat alles reg is. Maar selfs die selfstandigste kat hou nie van lank alleen wees nie. Veral oor die Desember-vakansie waar so baie mense uithuisig is, loop mens groot risiko’s deur diere alleen te laat. Ongelukke kan gebeur, veral as diere nie onder hulle huismense se toesig is nie.      Gevolge van ongelukke of stres kan onopgemerk bly tot dit te laat is, soos seerkry in ontsnappogings, of om nie in staat te wees om te eet of drink nie.  Veral met feestye, wanneer daar vuurwerke is, kan diere paniekbevange raak en hulleself seermaak in hulle “ontsnap”-pogings. Dis eintlik nie ʼn opsie wat deur verantwoordelike diere-eienaars oorweeg word nie.
        Indien jy wel op ’n herberg besluit – onthou, vir ʼn dier wat gewoond is aan huis en gesin, is dit meestal baie traumaties om skielik vir weke lank in ʼn hok te bly; so, as dit jou enigste of mees praktiese opsie is, maak seker jy doen dit reg en kies die beste tot jou beskikking.

dieregedrag-dec-1        Ervare mense weet hulle moet lank vooruit hulle diere inbespreek by die beste herberge. Net soos die beste mense-hotelle is hulle om goeie rede gewild; dus is daar lang waglyste vir Wagter en Kietsie.  Jy sal dalk plek kry buite vakansieseisoen as jy op die laatste nippertjie vra, maar plek by ʼn goeie dierehotel in spitsseisoen is so skaars soos hondetande.
        Doen lank voor die tyd jou huiswerk: vra gesoute diereliefhebbers, kyk in die advertensie-afdeling van goeie dieretydskrifte soos AnimalTalk, vra vir verwysings of bestudeer internetresensies.   
        Gaan ondersoek self die perseel, hokke en personeel van goed geleë herberge.  As die eienaars jou nie wil toelaat om ʼn “rekkie” te doen nie, bly vêr weg, daar is dan sekerlik iets wat weggesteek moet word. Goeie herberge sal jou met oop arms innooi om enige tyd te kyk na die toestand van die hokke, en sal graag jou vrae beantwoord. Sommige “fly-by-nights” begin op enige lappie grond en in karige buitegeboue hulle herberg sonder om die nodige lisensie van plaaslike owerhede te hê.  As dit na ’n nuwe opset lyk, vra of hulle die nodige lisensie van plaaslike owerhede het om hulle besigheid te bedryf.

Kyk na:

        Waar is die hokke geleë?  Hokke naby snelweë of lughawens is dalk gerieflik geleë vir aflaai maar het omgewingsgeraas wat sensitiewe diere kan omkrap.  As jou Kaapse dierekind byvoorbeeld nie gewoond is aan donderstorms nie, moenie vir hom plek bespeek in ʼn Hoëveldse herberg nie. Kies liewer hokke in stiller dele en in dieselfde milieu as waaraan hulle gewoond is.
        Oormatige geraas, soos ʼn geskree deur personeel en kosblikke wat klater wanneer daar skoongemaak word, is ook bronne van stres vir honde. Honde sal maar blaf, maar oormatige en aanhoudende geblaf dui op, en veroorsaak, probleme. Sommige herberge sal sagte, strelende musiek speel om ʼn rustige atmosfeer aan te moedig.
        Is die herberg se omgewing skoon en netjies? Rommel wat rondlê, dui op argeloosheid en lok rotte en ander plae.
Is daar oormatige vlieë?  Gedurende die somers sal daar vlieë wees maar jy wil nie ʼn swart wolk vol hê nie.
        Ruik die omgewing vars?  Honde-ontlasting moet gereeld skoongemaak word – beleë urien en misreuke dui op swak higiëne.
        Hokke moet droog en skoon wees.  Hokke moet daagliks skoongemaak word – en buitenste dele moet minstens ʼn paar uur vol son kry.  Daar moet oop dele asook beskutte en warm/koel plekke wees vir die dier om skuiling teen die elemente te kry, of om veilig te voel as hulle wil “wegkruip”.
        Katte veral hou van skuilplekkies en plekke om op te klim. Katte moet krappale hê en die sandbokse moet skoon wees.  As jou kat ʼn sekere soort “katsand” verkies, moet hulle dit kan verskaf, of jou toelaat om jou eie saam te neem.  
        Alle personeel moet vriendelik wees. Enige nors houdings beteken dat daar hoeke gesny gaan word as die bestuurslui nie kyk nie – tot jou dier se nadeel.  Vra enigiemand vrae en verwag vriendelike en ingeligte antwoorde.

Vra vrae:

        Wat is die daaglikse roetine, en indien nodig, kan dit aangepas word indien nodig: Jou dieremaat mag byvoorbeeld daarop gesteld wees om op ander tye maaltye te  kry.
        Word raserige diere eenkant gehou sodat hulle nie die ander honde onnodig op hol en huil jaag nie?
        Word honde daagliks uitgelaat om in groter kampe te gaan speel, en, indien wel, kan jou hond alleen uitgaan as hy antisosiaal is, of as hy van ander honde hou,  word daar met goeie oordeel en kundigheid speelmaats gekies en word daar kundige toesig gehou om ongelukke te voorkom?
        Kan goeie maats of huismaats in dieselfde hok aangehou word?
Kan jy jou hond se eie kos, speelgoed, kougoed, en kombersies saamneem?  Sal dit skoon gehou word? (Honde voel dikwels meer gerus, veral aan die begin, as hulle bekende reuke het – ook dalk (ongewaste!) kledingstukke van sy mense om hom te laat voel hulle is nie te vêr weg nie.
        Sommige honde wil nie op die betonvloere ontlas nie – is personeel sensitief hieroor en word sulke honde gereeld na byvoorbeeld ʼn grasperk geneem om hulleself te verlig?  Indien nie, kan jou dier terugkom met lelike urienweg-infeksies en konstipasie.
        Indien jou dier medisyne nodig het, sal dit korrek en op die regte tye toegedien word?
        Is personeel reg opgelei? Weet hulle waarvoor om uit te kyk om seker te wees die dier is gelukkig of gestres? Een dier mag dalk nie wil eet nie (dikwels ʼn gevolg van stres), of deur ʼn ander geïntimideer word en kan dan dalk nie by die kosbak of sandbak uitkom nie. Personeel moet weet om uit te kyk vir selfs die mees subtiele simptome van stres.
        Is daar ʼn veearts en gekwalifiseerde gedragskonsultant aan diens op die perseel, of tot vinnige beskikking? By Menlyn Kennels (net oos van Pretoria), is daar beide in een – Dr Quixi Sonntag is veearts sowel as dieregedragskenner en -praktisyn.  Saam met eggenoot Julius Zwart, bestuurder, het hulle die regte omgewing geskep en roetines beplan. Julius aan die woord: "Ons is natuurlik in die goeie posisie dat ons toegang het tot gedragsdeskundigheid. Hoe meer blootstelling troeteldiere het aan verskillende keuses en opsies, hoe vinniger pas hulle aan. Kwaliteit interaksie met mense help ook. Ons werk hard aan die sielkunde en dan kom die gesondheid gewoonlik vanself. Dis hoekom ons ‘kennels’ asook die speel-areas verskil wat betref omgewingsverryking, visuele stimulasie, grootte, ensovoorts.” Hulle gebruik ook kalmerende feromoon-analoë (“DAP” [Dog Appeasing Pheromone] en Feliway) waar nodig.
        Julius  noem dat hulle mense aanmoedig om te skakel om navraag te doen na die welstand van hulle diere. Hulle verskaf gereeld verslae (of per epos of per sms) oor hoe dit met die diere gaan om mense gerus te stel.
        Van die herberg se kant moet hulle ook kieskeurig wees – jy wil weet hulle laat nie sommer enige brak daar toe nie. Jou diere se entings moet op datum wees en hulle moet gesond wees. Dit verseker jou diere sal nie siek raak of siektes versprei nie.

dieregedrag-dec-2

        Mens kan dalk vra oor die geleentheid om honde, vir ’n “oefenlopie” in te bring. Julius sê: "Uit ondervinding weet ek dat diere nie eintlik baat vind by 'n ‘trial run’ nie. Mense bring van tyd tot tyd hulle honde om op die perseel rond te loop om ‘gewoond’  te raak aan die omgewing en wil hulle inboek vir 'n naweek ‘net om te sien’  maar ek voel eerder dat indien die ‘kennel’-personeel die nodige kennis het wat betref hoe troeteldiere 'n nuwe omgewing ervaar van 'n gedragsoogpunt, dit nie nodig is om die eienaar se geld te mors nie."
        As jy jou diere gaan haal na hulle verblyf, lyk hulle ontspanne en gelukkig of gestres en vreesbevange?
        Sodra jy jou keuse gemaak het, bespreek jou plekke, en bly lojaal, goeie herberge gee voorkeur aan hulle goeie kliënte. Jy mag selfs vind dat jou diere nie lus is om weer huis toe te gaan na hulle verblyf by die beste herberge nie.
         Die allerbelangrikste,jy en jou diere moet terugkom huis toe met glimlagte op julle gesigte.

Met dank aan Julius Zwart by Menlyn Kennels vir insette www.menlynkennels.co.za