Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Wat om jou dier nie te voer nie

Written by  Dr Joan Kleynhans
| in Veearts
| December 12, 2014

Dié tyd van die jaar maak baie van ons gereed om saam te kuier en lekker te eet. As jy beplan om weg te gaan, reël betyds dat jou troeteldiere versorg is in jou afwesigheid.

Onthou dat mense klappers skiet oor die groot dae en party troeteldiere baie bang is daarvoor en oor ʼn heining kan spring of klouter in hulle angs.

As u diere gelukkig genoeg is om saam vakansie te hou, tuis of elders, onthou dat hulle nie alles kan eet wat ons eet nie. Hulle metabolisme verskil van ons s’n en etlike kossoorte wat vir ons veilig is, is vir hulle giftig.

Sjokolade

Lekkernye, soos sjokolade, wat onder die Kersboom neergesit word, kan deur honde oopgemaak en geëet word. Selfs net een blokkie sjokolade kan vir ʼn hond dodelik wees. Donker sjokolade en sjokolade vir bakdoeleindes is gevaarliker as melksjokolade.  Diere wat te veel sjokolade  ingekry het, mag ooraktief of ongemaklik voorkom. Hulle is dikwels ook baie dors. Hulle harte mag onreëlmatig klop, en stuiptrekkings en selfs dood mag voorkom.
 
Xylitol

Xylitol is ʼn algemene versoeter in suikervrye produkte. Hoewel dit vir mense veilig is, kan so min as ʼn paar stukkies suikervrye kougom ʼn hond van ongeveer 10 kg siek maak. Dit veroorsaak dat insulien die hoogte inskiet en kan ʼn hipoglisemiese krisis veroorsaak.  Groter dosisse kan akute lewerskade met afsterf van lewerselle veroorsaak en kan lei tot die dood. Soms braak diere kort na inname van Xylitol, en gaan dan ongeveer ʼn uur later in ʼn hipoglisemiese krisis in.  As gevolg van verlaagde bloedsuiker  is hulle lusteloos en het hulle ’n gebrek aan koördinasie. Katte is ook gevoelig vir Xylitol.  Behandeling in die eerste paar uur na inname kan suksesvol wees.

Avokado

Avokado bevat persien, ʼn swamdodende toksien. Dit tas nie mense aan nie, maar kan braking en diarree in honde en katte veroorsaak. Voëls, marmotte en hamsters is veral sensitief vir avokado. Groot hoeveelhede kan lei tot asemhalingsprobleme en vloeistof aansameling om die hart. Dit kan in uiterste gevalle dodelik wees.

Macadamia-neute

Koekies bevat soms macadamia-neute of macadamia-poeier of -olie. Moet dus liewer nie winkelkoekies aan troeteldiere voer nie. Dit kan lei tot braking, ataksie, bewerasie en lae liggaamstemperatuur of hipotermie.  Die simptome verskyn 24 tot 48 uur na inname.

Druiwe en rosyne

Beide druiwe en rosyne is baie toksies vir sommige honde en katte, terwyl daar wel diere is wat nie iets daarvan oorkom nie. Die rede hiervoor is nie duidelik nie.  Dit veroorsaak akute nierversaking in die diere.

Suurdeeg

Die suurdeeg in rou brooddeeg kan rys in ʼn troeteldier se spysverteringskanaal, wat groot hoeveelhede gas laat aansamel. Dit kan maagdilatasie en -draaiing of selfs maag- of dermruptuur tot gevolg hê.  Hoewel die risiko baie minder is met gebakte brood, behoort honde en katte nie baie daarvan te eet nie.

Uie en knoffel

Die ui-familie veroorsaak veral in katte groot probleme. Moenie vir hulle bredie voer wat ui of knoffel bevat nie. Bestanddele  in die plante oksideer hemoglobien (Hb) in die bloed en belemmer die Hb se suurstofdraende funksie. Diere raak mettertyd bleek en hulle urine is donker. Hulle raak ook lusteloos. In erge gevalle mag bloedoortappings nodig wees.  Knoffel en uipoeier wat in soppe, souse en selfs babakos voorkom, hou ook gevaar in vir troeteldiere.
Vetterige kos moet ook vermy word. Moenie stukke vleis of vet wat oorbly van die Kersfees-ham en ander lekker vleis vir ʼn hond gee nie, aangesien dit pankreatitis kan veroorsaak.  Die toestand veroorsaak geweldige buikpyn, en mag naarheid veroorsaak. ʼn Hond met pankreatitis sal waarskynlik niks wil eet nie. Die toestand kan lewensgevaarlik wees en vereis vroeë behandeling deur ʼn veearts.

veearts-dec-1

Al daardie lekker bene wat oorbly, moet ook nie vir jou hond gegee word nie – veral nie in groot hoeveelhede nie. Bene breek dikwels in skerp fragmente terwyl ʼn hond dit kou. In die meeste gevalle beweeg dit deur die dermkanaal, maar vorm dan harde mis met beenstekels wat baie pyn veroorsaak as die hond probeer om ʼn stoelgang te maak. Dit lei tot erge hardlywigheid, of selfs verstopping. In enkele gevalle kan bene soos werwels in die slukderm bo die hond se hart vassteek. So ʼn hond sal baie ongemaklik wees en mag braak, afhangende van die graad van blokkasie. Chirurgiese verwydering is noodsaaklik. As jy jou hond wil trakteer oor die groot dae, neem hom liewer vir ʼn stappie. Dit sal sommer help om al die ekstra kalorieë wat mens die tyd van die jaar verorber, te verbrand. Koop vir jou kat ʼn katveilige speelding en gee so bietjie ekstra aandag!