Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Ketose in melkkoeie

Written by  Dr Joan Kleynhans
| in Veearts
| February 10, 2015

Ketose is ʼn metaboliese toestand wat ʼn probleem in melkkoeie kan veroorsaak. Dit word veroorsaak deur ʼn toename in die koei se glukose-behoeftes. Ketose kom ook in ander diersoorte voor, soos bv. domsiekte in ooie.

Ketose word meesal in hoogs produktiewe koeie of koeie op swak gehalte voeding aangetref. Hoewel dit soms voor kalwing kan voorkom, word dit gewoonlik in die eerste maand van laktasie en soms in die tweede maand, gesien.  In ʼn kudde kan dit sporadies voorkom waar enkele individue aangetas word. Dit kan ook endemies wees, waar talle koeie oor ʼn tydperk die toestand ontwikkel.

Oorsaak

        Ketose ontstaan a.g.v. ʼn tekort aan glukose in die koei se bloed en weefsels. Glukose word vervaardig uit die koolhidrate wat die koei inneem deur weiding en ander byvoeding.  In laat dragtigheid word baie van die glukose wat gewoonlik vir normale liggaamsfunksies beskikbaar is, gebruik vir voeding van die ontwikkelende kalf. Na die kalf se geboorte word glukose benodig om laktose (melksuiker) en melkvet te vervaardig. Die verhoogde glukosebehoefte kan lei tot ʼn verlaging van die koei se bloedglukose en hipoglisemie kan volg.
        Ongeveer 80 gram glukose word vereis per liter melk (met 4.8% laktose en 4% melkvet). Dit is nutteloos om glukose of suiker vir beeste of ander herkouers te voer.  Glukose word in die rumen vervaardig word uit ander koolhidrate in die dieet. As die koolhidrate onvoldoende is om aan die koei se behoeftes te voldoen, sal die lewer glukose uit ander bronne, soos vetreserwes,  vervaardig. Hierdie proses het die newe-effek dat ketone ook geproduseer word. Dit, tesame met die lae bloedsuiker, gee aanleiding tot die simptome van ketose.
        Primêre ketose kom voor wanneer hoogs produktiewe koeie nie genoeg koolhidrate kan eet om aan hul behoeftes te voldoen, of wanneer beskikbare voer nie genoeg koolhidrate bevat nie.
        Sekondêre ketose word aangetref wanneer ander probleme of siektes die vertering of metabolisme van glukose beïnvloed, selfs al bevat die voer wat ingeneem word genoeg koolhidrate.  Toestande wat kan lei tot sekondêre ketose sluit die volgende in – verplaaste abomasum, buikvliesontsteking, mastitis, baarmoederontsteking, melkkoors of ander toestande wat die koeie se eetlus vir ʼn geruime tyd onderdruk.

Siektetekens

        Twee tipes  ketose word gesien. In die meer algemene vorm verswak die eetlus oor 2 tot 5 dae. Soms sal die koei nog gras en hooi vreet, maar nie konsentrate of kuilvoer nie. Soms sal hulle vreemde goed vreet – soos klippe en grond. Sommige koeie sal aan stalmure en krippe lek. Melkproduksie val vinnig en dramaties, maar droog nie op nie. Teen dié tyd is die koei duidelik siek en onwillig om te beweeg. Sy mag duiselig voorkom en steier op haar bene en sal haar kop meesal laag hou. Haar koors sal normaal bly en haar pols en asemhalingstempo verander nie.  Daar is gewigsverlies en haar hare sal “stekelrig” voorkom a.g.v. verlies van onderhuidse vet. ʼn Soet ketoonreuk mag in die koei se asem en in melkmonsters geruik word. Die siekte is selde lewensgevaarlik, maar sonder behandeling is herstel stadig. Dit kan tot ʼn maand neem vir melkproduksie om te verbeter. Dit keer egter nie terug na normale vlakke nie en veroorsaak dus betekenisvolle verliese oor haar laktasietydperk. Soms is die vorm van ketose baie lig, met slegs ʼn geringe verlaging in melkproduksie.

feb-veearts-1

        Die senuweevorm van ketose is minder algemeen. ʼn Aangetaste koei mag blind voorkom, aaneen in sirkels loop, vreemde tongbewegings uitvoer en haarself gedurig lek of  aanhoudend bulk. Sulke tekens kan met hondsdolheid verwar word, maar duur slegs ʼn uur of twee en begin sonder enige waarskuwing.  Die kliniese tekens en die geskiedenis van onlangse kalwing of piek laktasie is voldoende vir diagnose van primêre ketose.
        Sekondêre ketose moet vermoed word waar tekens atipies is of daar beperkte reaksie op behandeling is. In sulke gevalle moet die onderliggende oorsaak gediagnoseer en behandel word. Biochemiese toetse vir die teenwoordigheid van ketone in urine, melk of bloed kan deur veeartse gedoen word .

Behandeling

        Die doel van behandeling is om die bloedglukosevlakke na normaal te herstel. Binneaarse toediening van dekstrose bevattende vloeistowwe deur ʼn veearts herstel die vlakke vinnig maar is van korte duur en verdere behandeling is daarop gemik om die glukosevlakke oor ʼn langer tydperk te handhaaf. Die koei moet vir 2 tot 4 dae gedoseer word met ʼn produk wat propileen-glikol of gliserien bevat. ʼn Veearts kan ook langwerkende kortikosteroïede inspuit. Dit laat die dier toe om proteïen in spierweefsels te omskep in glukose om bloedvlakke vinnig aan te vul. Dit is belangrik om terselfdertyd hoëkoolhidraatvoer of iets soos gliserien te voer om oormatige spierafbreek te voorkom.

Voorkoming

        Voorkoming van die toestand is baie belangrik. Dit kan gedoen word deur voldoende voeding en die korrekte bestuursmetodes. In droë tye moet addisionele koolhidrate soos kuilvoer, hoë kwaliteit hooi of graan gevoer word. Koeie moet in goeie liggaamskondisie wees wanneer hulle kalf. Voedingsvereistes vir piek laktasie is soms hoër as wat weidings kan voorsien. Addisionele voeding is noodsaaklik vir sulke koeie na kalwing en minstens tot piek laktasie bereik word, of selfs langer, afhangende van gehalte van beskikbare weiding. Enkele hoogs produserende koeie is met elke kalwing vatbaar vir ketose. Hulle behoort na kalwing met propileen-glikol gedoseer te word.