Volg ons op Facebook

Maak seker dat jou blinkvosperd nie hink nie.

Written by  Dr. Nicolene Swanepoel
| in Veearts
| April 1, 2015

Terwyl ek fokus op skrander vroue in boerdery in die Elgin/Grabouw area, het ek besluit om meer uit te snuffel oor drie vroue wat hier in diere gesondheidsberoepe werk.

Julle ken al vir dokter Joan Kleynhans en haar gereelde diere gesondheidsrubriek.  Dr. Kleynhans het tot onlangs hier op Grabouw gepraktiseer, maar reis wêreldwyd om diere te dokter en aan veearts studente klas te gee.  Om vêr te reis agter siek diere aan is nie vir haar vreemd nie - hoewel sy nie meer so rondrits nie, het sy vanmelewe herwaarts en derwaarts oor Botswana gevlieg in haar Cessna 150 om wild te versorg. (Lees gerus meer by http://joankleynhans.blogspot.com/2013/04/as-jy-dalk-n-leeu-wil-jag.html)
        Die knap jong dokter Michelle Lawrance is die nuwe vennoot by Grabouw dierekliniek. Sy was nogal een van “my studente” in my klasse oor dieregedrag, in die negentigs, by Onderstepoort.  Hoewel sy alom talentvol is, is Michelle veral geinteresseerd in sjirurgie, en is boonop ‘n knap perde veearts, ‘n gelukskoot vir die menige mense hier rond wie perde aanhou.
        Ek wil egter graag fokus op ‘n minder bekende, maar vinnig-groeiende beroep in die dieregesondheidswêreld: dié van perdesport terapeut.   Soos wat die wetenskap verbeter met betrekking tot menslike atlete, vorder die benadering ook teenoor dierlike atlete.
april-dieregedrag-1        Jane van Wijk is ’n perdesport terapeut.  Sy praktiseer vanuit die Elgin / Grabouw omgewing, deur Gordonsbaai, al die pad tot Kaapstad en om die skiereiland. Ek het met haar gaan gesels om meer informasie te kry.
        Perde en honde word die meeste ingespan in sport.  Kompetisie in menige dissiplines word al strawwer.  Fiksheid is nie meer net ’n kwessie van gereeld volgens wetenskaplike programme oefen nie, maar om voor te berei vir oefening, en om na oefening effektief te herstel vir die volgende sarsie.  Strek oefeninge en massering, byvoorbeeld, is al lank ’n integrale deel van menslike atlete se program - dit word al hoe meer met diere gebruik.  Dit is belangrik nie net om beserings (patologiese prosesse) te behandel, of te voorkom nie, maar ook om prestasie te bevorder (selfs in afwesigheid van patologie).  Optimale prestasie is die mikpunt, naamlik om so goed moontlik te doen sonder om gesondheid en welsyn te benadeel.  Dit sluit nie net korttermyn “personal bests” in nie, maar langtermyn houkrag - ’n atleet wat slegs vir ’n kort periode rekords breek is nie veel werd nie - die atleet moet ook oor die langtermyn presteer, sonder om onherstelbaar te beseer of uit te brand.

april-dieregedrag-3

Atletiese perde is nie al wie baat nie - alledaagse ryperde doen ook soveel beter met die benadering - lewenskwaliteit word bevorder en aktiewe lewensduur word verleng.
        Jane verduidelik: “Die belangrikste metodes waarvan perdesport terapie gebruik maak, is stresspunt werk, elektroterapie (of neuromuskulêre stimulasie), laser terapie,  massering, strek oefeninge, en spierversterking (“core activation”).  Laasgenoemde drie aspekte word dikwels deur die perde hanteerder, onder leiding van die terapeut, self toegepas.  
        Opleiding in perdesport terapie sluit die vakke anatomie, fisiologie, neurologie en biomeganika in.
        Spiere gaan dikwels in spasma tydens strawwe oefening, of word op sellulêre vlak beskadig deur inflammatoriese prosesse. Normale biologiese herstel na oefening neem lank, maar met terapie kan spiere gouer herstel, wat help dat die atleet vinnger en meer effektief kan terugkeer tot oefening.  
        Wanneer inflammasie onder beheer is, of beserings soos mankhede opgelos blyk te wees, moet die terapie nie ophou nie.  Dan word daar tegnieke toegepas om toekomstige herhalings of nuwe beserings te voorkom.  Alle perde, ook gesondes, sonder beserings,  kan egter baat vind by ’n program wat optimale muskuloskeletale aktiwiteit stimuleer.
        Jane sê daar is twee areas in die atletiese perd se anatomie wat veral geneig is tot muskuloskeletale probleme - die agterkwart en die rug.  Die massiewe boud- en bobeen spiere is die hoof dryfveer vir beweging, en die rug dra die gewig van die ruiter, ’n taak waarvoor dit eintlik nie evolusionêr ontwikkel is nie. Enige verdagte spier of skelet beserings, soos mankhede, moet egter deur ’n veearts, indien moontlik ’n perde spesialis, gediagnoseer word.  Die veearts sal mediese behandeling toepas en kan beurtelings verwys na ’n betroubare sport terapeut.  

april-dieregedrag-2

        Mense kan egter ook, òf voorkomend òf vir optimale onderhoud, self ’n sport terapeut nader om te help om ’n program te ontwerp vir ’n spesifieke, gesonde perd, met betrekking tot individuele lewensomstandighede en werk kondisies. Maak egter seker jy bekom die dienste van ’n bekwame persoon, met goeie verwysings.
        Ek probeer wegbly van te veel tegniese informasie, en vra Jane dus om so paar lekker tegnieke voor te stel wat mense op hulle eie perde kan toepas.  “Die carrot stretch”, sê sy dadelik.  Dis ’n lekker manier om die perd se nek soepel te kry, wat sy werk onder saal verbeter, dit help ook sommer dat die perd uitsien na jou naderkoms.
        Eers ’n woord van waarskuwing: Let wel op dat enige interaksie met diere, en veral kragtige diere soos perde, versigtig moet geskied - skielike bewegings kan die perd laat skrik, en iets wat hulle as vreemd of onaangenaam ervaar kan hulle laat paniekbevange en verdedigend raak.  Ernstige beserings kan volg - vir die mens of die dier.  So moenie iets summier waag nie, jy moet jou perd ken en jou perd moet jou ken en vertrou.  Stel nuwe aanrakings geleidelik bekend.  Die perd moet jou hand voel beweeg vanaf ’n bekende en aanvaarbare plek (soos op die nek), beweeg dan stadig, en slegs sover hy gemaklik is daarmee, tot ‘n minder bekende plek (soos by die ore).  Moet nooit  direk voor of agter die perd staan nie, want die perd kan na voor in jou inspring of na agter skop.  Hanteer die perd slegs as hulle gewillig en gedwee is. Wanneer jy self op die massering of strekke fokus kan jy nie ook die perd vashou nie, dus moet ’n ervare persoon die perd se kop beheer.
        Terug na die wortel voor die perd se neus:  staan langs die perd se skouer. 

april-dieregedrag-4

’n Heel wortel word gehou, eers tussen die perd se voorbene, daarna weerskante van sy skouers, onderskeidelik vanaf die linkerkant en die regterkant.  Dit moedig die perd aan om sy nek regaf, en daarna na die onderskeie kante af te strek.  Oppas - die perd moet  versigtig vat aan die wortel,  nie gryp nie, want dan bly jou hande dalk in die slag.  Die vraatsugtigheid word egter maklik gestop as jy konsekwent is - perde leer gou dat hulle niks kry as hulle probeer gryp nie.  Die laterale nek strekke kan ook vanaf die perd se rug geoefen word, met ’n snoep happie, of deur die teuel geleidelik in te trek. Die perd moet egter eers goed opgewarm wees.  Sodra die perd sy nek inbring - gee skiet, sodat die perd ontspan, as beloning.   Geleidelik sal die nek langer en verder kan strek.  Moet nooit ’n strek forseer nie! ’n Strek kan net effektief wees as die spier ontspan is, dit impliseer dat die dier self eers ontspanne moet wees. As jy die perd forseer sal hy gespanne raak en hom verset.  Moet ook nie te lank of te veel strek nie - dit kan ook skade doen.  
        Perde hou daarvan as hulle nekke gevryf word, maar baie mense sal die perd se nek herhaaldelik klap terwyl hulle die perd prys. Mens kan egter die perd daarmee  irriteer.  Egalige, sagte maar ferm bewegings en streel,  eerder as rukkerige aanrakings, projekteer ook selfvertroue en laat die perd verder ontspan. Ligte sirkelvorminge krappies laat nie net die nek nie, maar die hele perd geleidelik onstpan. Dit sal beurtelings die ruiter se “sit” vergemaklik, en meer effektiewe oefening toelaat. ’n Perd wat optens onder saal mors energie op senuagtige bewegings, kan nie optimaal fiks word nie, en is baie meer geneig om beserings op te doen.

april-dieregedrag-5

        As mens bietjie eksperimenteer vind jy waarvan die spesifieke perd baie hou. Ek het gevind dat een perd nogal hou van ’n sagte vryf aan die oor basis - maar weereens - versigtig - meeste perde sal hulle inisieel verset teen so ’n beweging.  As hulle nie daarvan hou nie, los liewer.  Die idee is om dit te geniet en dat die perd ontspan, nie om ’n bakleiery, beseerdery en almal de vieste in met mekaar te maak nie.
        Jane gee een van haar geheime weg: “Perde gebruik hulle lippe om die wêreld mee te verken, asook om mekaar mee te roskam. Dit is ’n baie sensitiewe area. Sagte strelings hier gee meeste perde plesier, sodat hulle  dan ontspan.”
        “Kweek die gewoonte om elke keer voor jy jou perd opsaal, jou hande in spesifieke patrone oor sy lyf te laat gly.  Een so ’n lyn is vanaf die bokant van die nek, al die pad af, tot by die stertbasis. Dit help jou hande ook om jou perd te leer “lees” sodat jy vroegtydig kan agterkom as iets verkeerd is met die perd.   ’n Seer gewrig of spier kan dalk duidelik word voordat jy in die saal klim en ry, want oefening, veral onder gewig, sal die kondisie onnodig vererger.  Jane herinner my ook dat dit altyd belangrik is om te sorg dat die spesifieke saal die spesifieke perd pas. Mense gooi dikwels enige saal op enige perd en dit is ’n baie algemene oorsaak van seer rûe.
        Berede oefeninge is daar ook, soos oorgange tussen stap en draf teen ’n helling, figuur 8 draaie, spiraal in en uit.  En onthou, simmetrie is belangrik - oefeninge moet eweredig aan beide kante geskied - doen soveel op die linkerbeen (antikloksgewys) as op die regterbeen (tensy mens vir ’n inhirente assimmetrie kompenseer).  

april-dieregedrag-6

        Draf oor pale in ’n arena help beenspiere strek want ledemate word hoër gelig, vebeter propriosepsie en aktiveer die agterkwart vir beter propulsie.  Met uitritte kan mens soepelheid oefen deur die ry-lyn om bome te laat buig, stop-stap-stop en stap-draf-stap oorgange.  Doen laasgenoemde ook teen natuurlike hellings, eers nie te steil nie, geleidelik steiler, na aanleiding van die perd se fiksheidsvlak.
        Jane werk op die perd se perseel.  Haar toerusting word saamgery, sodat jou perd in sy eie stal of kampie versorg kan word.  Wanneer sy besig raak besoek sy tot nege stalkomplekse per dag, soms 30 per maand.  Elke perd se behandeling duur van ’n halfuur tot so ’n uur.   Kontak Jane van Wijk op 082 447 0575 as jy ’n sessie wil bespreek.


Besoek gerus die volgende webwerwe vir meer informasie:
http://www.equiworksa.co.za/
http://www.equinology.com/default.asp
http://www.massageawareness.com/
http://www.drkellon.com/coursedescriptions.html