Volg ons op Facebook

Snotsiekte in Beeste

Written by  Dr. Joan Kleynhans
| in Veearts
| May 14, 2015

Snotsiekte kom wêreldwyd voor. In Suid-Afrika veroorsaak die virus sekere stamme van ’n gamma herpesvirus, in beeste ernstige siekte.

As ’n reël word net enkele beeste sporadies aangetas. Die siekte word ook aangetref in waterbuffels, Bali- beeste (banteng), Amerikaanse buffels (bison) en herte (deer). In hierdie diersoorte kan groot getalle vrek. Ook in beeste is die siekte gewoonlik dodelik, maar enkele diere het al herstel.

Die siekte se verspreiding stem ooreen met die verspreiding van die virus se vernaamste draers, naamlik skape en wildebeeste.  In dié diere veroorsaak die virus nie siekte nie.

Verspreiding

        In die geval van skape, word lammers rondom 6 tot 9 maande besmet deur aërosol-oordraging van ander diere in die trop. Hulle skei aktief virus af tussen 6 en 9 maande. Teen 10 maande neem die afskeiding van virus af. Volwasse skape skei baie minder virus af as jong diere. Virus-oordra-ging  vind plaas a.g.v. direkte kontak met neusafskeidings of deur die lug. Oordraging van skape na beeste is al waargeneem oor 70 meter, maar in bisons tot 5.1 km. Onder gunstige toestande kan die virus dus ver deur die lug beweeg.  Ooie skei nie virus in plasentale weefsels of afskeidings af nie, dus sien mens nie ‘n toename van snotsiekte tydens lamtyd nie. Daar is wel ‘n mate van seisoenaliteit in skaap-geassosieerde snotsiekte, maar dit is meer gekoppel aan gunstige omstandighede vir virus oorlewing en ouderdomsverwante afskeidings-patrone in lammers.
        In die geval van wildebeeste, neem snotsiek-te-uitbrake in beeste toe tydens die wildebeeste se kalfseisoen. Wildebeeskalwers word rondom geboorte besmet, beide direk van ander diere, en ook deur virus-oordraging in die baarmoeder.  Hulle skei aktief virus af totdat hulle 4 tot 6 maande oud is.
        Snotsiekte word slegs van draers na vatbare diere aangesteek. ‘n Siek bees sal nie snotsiekte na ander beeste aansteek nie. 

may-2015-veearts-1

Kliniese tekens

        Akute snotsiekte se simptome is eenders, ongeag of die virus van skape of wildebeeste afkomstig is. Die siekte se verloop kan perakuut wees met skielike sterftes, veral in bison en herte. As diere ‘n paar dae siek is, toon hulle bloederige diarree, bloederige urine, en dofheid van die kornea.  Ander tekens sluit slymerige afskeidings uit die neus, seertjies en etterige afskeiding op slymvliese van die bek, boonste asemweë en oë, asook vergrote limfkliere, mankheid en senu-simptome; soos depressie, bewing, verminderde reaksies, dom voorkoms, aggressie, of stuiptrekkings in.  In beeste is geswolle limfkliere en ernstige oogletsels meer algemeen. Indien die kornea om die buitekant (sentripetaal) verdof, is dit ‘n sterk aanduiding van snotsiekte.  In diere wat langer leef, word velletsels gesien.  Ongeveer 95% van aangetaste diere sterf. Diere wat oorleef, haal selde weer hulle produksiepotensiaal.

Diagnose

        Die diagnose word gebaseer op kliniese tekens, post mortem letsels en laboratorium bevestiging. Die ideale toets is polimerase kettingreaksie (PCR) om virale DNA te bepaal. Dit kan ook onderskei of die virus van skaap- of wildebees-oorsprong is. Die beste monsters vir toetse is bloed in teenstolmiddel, nierweefsel, dermwand, limfklier en brein.

Behandeling

        Ongelukkig is daar geen effektiewe behandeling nie.  Daar is ook geen entstof beskikbaar nie. Virusvrye skaapkuddes kan opgebou word deur vroeg te speen en jong vee van ouer vee te isoleer. Waardevolle diere moenie nader as 1 km van skaapvoerkrale aangehou word nie. Waar moontlik, vermy beeskontak met, of nabyheid aan wildebeeste, veral tydens die wildebeeste se kalfseisoen.

Internetverwysings: merckvetmanual.com