Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Beheerde byt? Honde as wapens

Written by  Nicolene Swanepoel
| in Veearts
| May 14, 2015

Met toenemende misdaad duik die vraag oor die aanhou van honde vir sekuriteit dikwels op. Honde kan dalk sommige inbrekers afskrik, maar daar is baie nadele aan die aanhou van honde om misdaad te probeer voorkom. 

Mens leef dalk ook met ’n vals sin van sekuriteit as jy dink dat jou honde inbrake sal voorkom.
        Opportunistiese misdaad kan dalk voorkom word wanneer potensiële indringers sien daar is honde op ’n werf.  Mense kombineer dikwels ’n groot hond of twee - wat kwaai optree - met klein “wekker-keffers”.  Maar wanneer kriminele beplan om jou huis binne te val is daar baie opsies wat jou waghond se byt kan elimineer.
        Om na honde se welsyn om te sien, fisies sowel as psigies, verg geld en toewyding. Goeie honde-voeding is deesdae nie meer goedkoop nie, essensiële gesondheidsorg kos geld, en as die hond siek word, kan jou veearts-onkostes jou heelwat meer uit die sak jaag as ’n baie goeie en effektiewe sekuriteitstelsel.
        Meeste honde kan nie onderskei tussen ’n lekker stuk vleis en ’n stuk vleis met gif in nie, en word dus maklik vergiftig.  Vergiftiging lei dikwels tot die dier se dood, want dit word dikwels te laat opgemerk, veral by waghonde wat buite bly en slaap. Meeste gifstowwe veroorsaak baie pyn. Honde wat gered kan  word, het dalk permanente orgaanskade.  Waghonde word ook aan moontlike lyding blootgestel, want hulle word gereeld wreedaardig tydens aanvalle doodgemaak.
may-2015-dieregedrag-1        Daar is ook gevalle van honde wat gesteel word voor aanvalle. Só iets is baie troumaties vir mense wat hulle honde liefhet. Min gesteelde honde word teruggevind, daar is dus geen klaarheid nie en mens wonder maar altyd wat van die hond geword het.
        Na inbrake by my eie huis was ek telkens verlig dat die honde niks oorgekom het nie. Inteendeel, my honde is goed gesosialiseer en het waarskynlik die boewe verwelkom as interessante nuwe geselskap! Ek glo ook nie in die mite van “my hond is ’n uitstekende waghond, maar ook goed met die kinders” nie.  Honde is óf waghonde óf speelmaats.  
        ’n Aggressiewe  waghond mag dalk oor die algemeen sagkens met jou eie huisgesin en kinders werk, maar kan maklik ’n aanval loods op ’n vreemde kind of besoeker.  Daar is ook te veel gevalle van huishonde wat ’n kind of ander mens aangeval het - nie noodwendig oor die hond “sleg” is nie, maar omdat die ouers of eienaars ’n gevaarlike situasie laat ontstaan het. Soos byvoorbeeld om ‘n kind sonder toesig toe te laat by ‘n hond wat dalk nie gesosialiseer is met kinders nie; of by ‘n honger of gulsige hond terwyl hy eet.
        Gevare bestaan ook wanneer honde tussen kinders is wat skree of hardhandig met honde werk, terwyl hulle jolyt aanvang. Daar is egter honde wat geteel is vir aggressie, of individuele honde wat geneties geneig is om oormatig aggressief of onvoorspelbaar te wees.  Keuse van hond is dus krities.  
        Mens kan nie van ’n hond verwag om beide aggressief en saggeaard te wees nie - dit werk selde, indien ooit. As jy van ’n hond verwag om sonder menslike leiding (soos in die geval van waghonde) ‘n aanval te loods, kan onskuldige persone met hulle lewens boet, soos ‘n kind wat oor die muur klim agter ‘n bal aan.   
        In diere oorheers instink verstand.  In die hitte van die oomblik sal hulle dus alles en almal aanval wat as ‘n bedreiging voorkom.  ’n Waghond sal heel waarskynlik enige persoon wat vreemd voorkom - iemand wat onbekend is, anders lyk, anders ruik, as die mense aan wie hy/sy gewoond is -  as ’n indringer aanvaar, en dalk aanval.  
         Indien die hond hoogs gemotiveer is en baie selfvertroue het, sal die aanval voortduur totdat die “prooi”  dood is.  ’n Senuagtige hond mag byt en los.  Meer tipies sal ’n bang hond egter van agter af aanval; dit hou selfs groter gevare in, want mense word dikwels sonder waarskuwing omgestamp en kan nie orent kom om weg te kom nie.
may-2015-dieregedrag-2         As honde saam aanval, neem tropinstink oor en is daar selde keer aan die geveg. In sulke gevalle is honde wat slegs met die mense in hulle eie huishouding, op hulle eie perseel gesosialiseer is, ‘n resep vir ’n ramp.  
        Dit kan nooit met 100% oortuiging gestel word dat sekere honde nooit sal byt nie. Selfs die mees goedgeaarde hond kan skade verrig onder sekere omstandighede. Maar goed gesosialiseerde, vriendelike honde, wat redelik (maar nie oormatig) geheg is aan hulle mense en gebied, kan oorwegend op staat gemaak word om te blaf sonder om aan te val.  Die blaffery sal die meeste opportunistiese inbrekers afsit.  Hierdie honde leer gou dat persone wat deur hulle eie huismense ingelaat word aanvaarbaar is, maar mense wat inkom op eie stoom (wanneer die huismense nie daar is nie) “hoort” nie daar nie.  Meer as ’n geblaf - as waarskuwing - behoort nie op eie inisiatief van ‘n hond verwag te word nie. 
         As jy egter vasberade is om honde te gebruik om jou eiendom of persoon te beskerm, doen goeie navorsing voor jy so ’n hond aanskaf en begin oplei.  Doen veral goeie navorsing op die effek wat jou keuses op die dier self het, en maak seker dat jy nie die hond se welsyn in gedrang bring nie. Praat met jou veearts en lees krities - moenie elke Jan Rap en sy maat se advies aanvaar nie.  Die honde-vir-sekuriteit bedryf is deurspek met ongedissiplineerde- of hiper-dissiplinerende cowboys,  en veral die aggressiewe Jan Rap sal aggressiewe honde aanraai.  Veeartse met spesifieke kennis oor dieregedrag en opleiers met ’n goeie reputasie moet geraadpleeg word. 
may-2015-dieregedrag-3        Die keuse van die tipe hond moet ook reg wees - maar dit is ’n hele lesing op sigself, so dalk later meer hieroor. Voor jy jouself en jou hond vir opleiding inskryf; doen navorsing oor al die verskillende mense wat honde oplei in jou omgewing. Vind uit wanneer en waar hulle klasse is, en gaan ‘incognito’ daarheen. Kyk vanaf ’n afstand hoe die opleier die sessie behartig en hoe die hanteerders met die honde werk. Praat daarna met ‘n paar van die mense en let op na hul lyftaal - is hulle self aggressief of geniet hulle dit om speel-speel hul honde te leer?  Daar moet geen geruk of gepluk wees nie. Hardhandigheid, fisiese straf en skree het geen plek in enige diere-opleiding nie.  Positiewe houdings met beloning en prys, moet aan die orde van die dag wees.  Honde moet “werk” omdat hulle daarvan hou, nie omdat hulle bang is vir straf nie.
        Selfs professionele aanvalshonde word opgelei om die aanval as ’n speletjie te sien. Dit is nie ’n aggressiewe, onbeheerde affêre nie. Vooraf is die honde kalm, vriendelik en onder beheer. Hulle sal slegs hardloop en die “boef” aan die arm gryp wanneer ‘n spesifieke bevel gegee word, en selfs dan moet die hond te eniger tyd op bevel stop en kalm na die handteerder terugkeer. Honde wat oor-aggressief of oor-opgewonde raak,  raak buite beheer en
lelike ongelukke, erge beserings en duur hofsake kan volg, selfs tydens opleiding.  
        As jy ‘n dier aan ’n wurgketting sien trek, en die hanteerder leuen sommer so skuins agtertoe om die hond te probeer beheer, bly weg. Bly weg van wurgkettings (choke chains), punt.  Honde moet met harnasse of breë, plat halsbande - wat nie nouer trek nie - hanteer word.  ’n Wurgketting mag ’n “gly-ketting” genoem word om dit minder troumaties te laat klink, maar op die ou end doen dit wat die woord sê - dit WURG die hond. Vrees vir die hanteerder en die opleiding word die wagwoord - die hond werk om te voorkom dat hy seerkry, eerder as om te wil werk.
may-2015-dieregedrag-4        Onthou dat ’n hond, soos ’n perd, geneig is om te trek teen ’n harnas.  ’n Harnas stop dus nie ’n getrek nie, maar voorkom dat die hond se nek skade opdoen. Persoonlik vind ek ’n goeie honde-halter as een van die beste fisiese maniere om ’n hond se trekkery te voorkom. Dit lei die hond, soos ’n perd, aan die kop, sonder ’n gewurg. Ongelukkig klou die meeste mense aan die tradisionele ketting.  Suid-Afrikaners verset hulle ook teen die halter, ’n nuwe dus “vreemde” produk, omdat dit dalk vir ander na ’n muilband lyk.  Die halter moet reg hanteer word, en dit neem honde ’n tydjie om die gevoel van ’n ding oor die neus gewoond te raak - soos ’n kind wat moet leer bril dra. Halters word egter al dekades lank algemeen in Europese lande gebruik.
        Moet asseblief nie ’n hond wegstuur vir opleiding nie. Belê dan eerder in ‘n menslike wag of beter alarmstelsels. Plekke wat honde sonder hulle individuele hanteerders oplei, kan die hond sleg hanteer en jy mag ‘n bang en senuagtige hond terugkry.
may-2015-dieregedrag-5       As jy nie self van honde hou nie, of die hond op die werf gaan los op sy of haar eie, sonder menslike aandag en liefde, bly liewer WEG van die opsie. Honde moet geheg wees aan mense om te wil werk en/of om beskermend op te tree. Ek beklemtoon weer dat dit nie sinvol is om op die hond se instink, of behoefte om te beskerm staat te maak nie, dit kan te maklik skeefloop.
        Bly dus weg van honde vir misdaad bekamping tensy jy die tyd, geld en toewyding het om die hond ten volle, en korrek, op te lei. Jy moet ook verseker dat jy of ‘n goeie hanteerder by die hond is tydens ‘n potensiële inbraak om die dier te beheer.
        Vir my is dit ‘n beter opsie om te belê in die beste alarmstelsel wat jy kan bekostig. Dit is meer effektief en waarskynlik goedkoper. Jy mag dalk van tyd tot tyd besittings tydens ‘n diefstal verloor, maar die kans dat mens of dier lewe of ‘n ledemaat sal verloor, is baie skraler.


Meer inligting

https://www.youtube.com/watch?v=wSZKnSqVKBM
http://www.mckaynine.co.za/Manwork.htm

Kyk krities na die bogenoemde webwerf en video’s: waar tree die hond/hanteerder korrek op, waar kan die hond/hanteerder beter doen? Sou jy dié tipe opleiding en hantering kan behartig?

http://companyofanimals.co.uk/product/halti-headcollar