Volg ons op Facebook

Kattekwaad

Written by  Nicolene Swanepoel
| in Veearts
| June 3, 2015

Huis moleste, bakleiery dat die hare waai, verwoestende gekrap teen die nuwe rusbank, bloeddorstige geskree in die nag.  Waarom, kan mens met reg vra, is mense nog gek oor katte? Ons kyk kortliks na die mees algemene katte-kwaaistreke.

Onthou die volgende - katte is van nature alleenlopers, en vir katte is daar twee groot faktore wat hulle gelukkig hou - genoeg kos en ’n veilige blyplek (wat tipies ’n intieme “den”-area en effe groter leefarea insluit). Huiskatte mag verder ook vir iets onnatuurlik - hulle mense se aandag - kompeteer, maar dis minder algemeen as in die geval van honde. want katte is nie so nou sosiaal verbonde aan mense soos ons brakke nie.  Hoewel die meeste mense wil glo dat die kat bly omdat hulle hul mense liefhet, is die meeste katte gelukkig solank die eerste twee faktore bevredig word.  As dít onbevredig is, mag hulle wel van jou huis af dros op soek na ’n plek waar hulle privaatheid meer gerespekteer word, of waar die kos meer volop of smaaklik is.

Katte word onder toenemende druk geplaas soos ons mense se lewensomstandighede meer verkramp raak.  Honde is meer sosiaal ingestel onder mekaar en teenoor mense, want hulle is geselekteer om saam met mense te werk, en hulle hanteer die groter sosiale druk met groter gemak.

Een van die algemeenste klagtes oor kat- gedrag is katte wat met mekaar baklei.  Dit kan manifesteer (of is dit nou kattefesteer?) as spanning tussen katte in een huishouding, of ‘n bakleiery met ander katte in die omgewing.  Dis vir geen gesin lekker as katte in een huis bakleierig is nie, of om snags te hoor hoe hulle katlief buite deur ’n macho buurkat geboelie word nie.  Katte kan lelik baklei, hulle het nie net een skerpkant, soos ‘n hond se bek nie, maar vyf:   bitsige tande, en vier vlymskerp kloue. Hare en selfs vleis kan waai.  En katbyte en -krappe kan lelike infeksies veroorsaak. 

june-2015-dieregedrag-1

Onthou dus altyd dat gedomestikeerde katte eintlik neig tot “solitariteit” (dus die teenoorgestelde van solidariteit!).  Katte wat vir hulle self moet sorg sal kleiner prooidiere as hulself vang – hulle jag dus alleen, nie in troppe nie.  Vergelyk die hond se voorsate, wolwe, wat tipies groter diere saam vang.  Om saam te jag benodig samewerking, en dit impliseer ‘n genetiese neiging tot sterker sosiale bande. Ook klein wildekatspesies vang klein prooi en leef alleenlopend. Teenoor honde, sal katte dus groter jagsukses hê deur ander katte en hulle tuisgebiede te vermy.   

Hoewel vrylopende katte, soos dié in plaaskolonies, of stedelike “wilde” katte, saam mag groepeer, gebeur dit slegs as daar genoeg voedingsbronne (muise, of ander prooi, of kos deur mense gevoer) en “den”-areas is vir almal. Dis meestal moeders en dogters (en soms verwante wyfies) wat saam huis opsit, met mannetjies wat alleen loop en meestal slegs inkom om te paar in die teelseisoen. (Onthou, gekastreerde mannetjies is ’n kunsmatige geslag.) Katte wat nie saam groot geword het nie is meestal skugter, selfs erg antagonisties met mekaar.  So om twee of meer vreemde katte saam in ‘n huis te laat lewe is dikwels ‘n spanningsvolle situasie.  Mens forseer ’n ding wat nie natuurlik kom nie.  

“So om twee of meer vreemde katte saam in ‘n huis te laat lewe is dikwels ‘n spanningsvolle situasie.”

Met versigtige en sinvolle bekendstelling van ‘n nuwe kat in ‘n ouer kat se huis, kan mens die probleme tot ‘n mate voorkom.  Soms raak vreemde katte maats, maar dikwels moet mense verstaan dat katte meer gemaklik voel met hul eie geselskap – laat dus dalk eerder toe dat een kat een deel van die huis “kry”.  Hulle mag self hulle eie “neutrale areas” uitwerk – maaltye mag dalk in een plek werk (mits daar nie kompetisie oor kos is nie), want hulle is gepreokkupeer met iets konstruktief en lekker. As jy om een of ander rede meer as een kat wil hê, is dit dalk ‘n goeie oplossing om twee katte wat reeds goeie maats is by ‘n dierewelsyn aan te neem, eerder as om ’n nuwe kat in ’n huis waar een kat reeds koning kraai, aan te bring.

Siende dat meeste voorstedelike katte deesdae gesteriliseer is, en die opera-arias van wyfies op hitte, gevolg deur die geskreeu tydens paring, nie meer soveel voorkom nie, word mense se lekker diep slaap soms tog steeds snags gekortwiek deur die onaardse geluide wat slegs katte kan maak.   Sulke  nokturnale kattemaaiery  is dikwels die gevolg van ‘n buurkat wat op die huiskat se eiendom “oortree”.  As die buurkat van meer stoere natuur is as jou huiskat, kan dit beteken dat jou kat lelik gaan les opsê.

Saggeaarde katte gee maklik die stryd op, en waar onder ander omstandighede die vrede dan sal herstel, is daar dalk ander motiverings vir die buurkat om dikvellig aan te hou om jou kat te terroriseer. Dit gee ander gedragspatrone af wat mense dikwels nie kan verwerk nie.

june-2015-dieregedrag-2In meer landelike omgewings is daar baie neutrale paaie tussen katte se tuisareas.  Die paadjies en grensareas word gemerk met boodskappe - uriensproei, soms selfs oppervlakkige defekasie, en krappery met die naels byvoorbeeld op boomstompe.   Voetpaadjies sal tipies deur baie katte gedeel word sonder probleme, en die katte sal afstand van mekaar se leefruimtes hou.  Dit veronderstel dat daar genoeg kosbronne (genoeg muise) en veilige “den”-areas is.  Maar as die kos tekortskiet (of dit is paarseisoen en mannetjies kompeteer vir wyfies se aandag), word selfs die neutrale dele plekke van konflik.  In voorstede is katte tot ’n groter mate gekonsentreer deurdat baie huise hulle eie kat of selfs meer as een kat het. Daar is dus meer katte per vierkante hektaar as wat hulle in staat is om natuurlik te ver-werk.

Natuurlike merk-gedrag soos krappery teen meubels en sproei vind dan al meer binne die huis of leefarea plaas instede van grensgebiede (buite die huis, of by ingangsplekke
tot die huis of die erf). Buite is dit aanvaarbaar vir die mens, maar in die huis is dit ongewens.  Onthou egter dat die gedrag vir die kat ’n natuurlike reaksie tot abnormale omgewingsfaktore is, eerder as abnormale gedrag van die kat.

As ander huiskatte dalk min kos kry, of daar honger rondloperkatte is, word hulle gestimuleer om rond te soek vir kos.  Die bure se kat kry dalk kos, maar jou kat se kos is dalk soveel lekkerder.  Maak dus seker jou kat word in ‘n veilige area gevoer, wat nie toeganklik is vir buitekatte nie.  Mens kan selfs ‘n katflap installeer wat ‘n volgroeper aan jou kat se nek- bandjie lees en slegs jou kat deurlaat.  Gee jou kat baie “den”-areas – donker plekkies, verkieslik op ‘n hoogte, soos ‘n boks op ‘n kas, waar hy kan inkruip en veilig voel.

“Maak dus seker jou kat word in ‘n veilige area gevoer...”

Voer eerder veelvuldige maaltye op gestelde tye, en neem weg wat die kat nie dadelik eet nie.  Baie mense voer katte vir eie gerief ad lib - kos vrylik beskikbaar - en dit kan werk want katte, oor die klein prooi, eet klomp kleiner maaltye eerder as een of twee grotes per dag. Maar as die ad lib kos ander katte van buite lok (of jou kat hom oorvreet), los dit.

Meeste probleme is ‘n gevolg van ontoereikende menslike omstandighede.  As ons dus ons katte se natuurlike gedrag en behoeftes verstaan en ons omstandighede aanpas om aan hulle behoeftes te voorsien,  kan ons ver gaan om onaanvaarbare gedrag te voorkom, verminder, of na meer aanvaarbare oplossings te kanaliseer.

Desondanks alle oënskynlik antisosiale ma-niere wat ons katte mag openbaar, bly hulle sjarmante diere.  Wie kan ‘n kat se gespin en grasieuse gevryf teen mens se bene weerstaan?  As ek ‘n kat sien bak in die son voor die voordeur, voel ek ‘n vrede oor my neerdaal. ’n Huis kort ’n kat, ’n kat kort ’n huis, voel ek. Nee wat, ten spyte van enige kattekwaad, kan ek nie my huis sonder ‘n kat of twee voorstel nie.

Ons het hier net kortliks gekyk na kat gedrag – sou julle graag meer wil weet van enige van die aspekte hierbo genoem, of ander katmaniere, laat gerus die redakteur weet, en ons probeer dit in ‘n toekomstige rubriek aanspreek.

Skaf gerus ook dié knap boek oor kat gedrag aan: John Bradshaw se “Cat Sense”, gepubliseer in 2013 deur Penguin.

june-2015-dieregedrag-3