Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Peestersiekte

Written by  Dr. Joan Kleynhans
| in Veearts
| July 3, 2015

Peestersiekte is 'n groot probleem onder skape in die Noord-Kaap en elders in die land. Dit word veral onder inheemse rasse, dorpers en karakoele aangetref. Dit  is ‘n aansteeklike toestand wat ontsteking van die glans van die penis of die skede se slymvlies tot gevolg het. Ontsteking van albei word balano-postitis genoem. Ooie kry aansteeklike vulvitis (ontsteking van die vulva).

Oorsaak

Plaaslike navorsers het ‘n mikoplasma, Mycoplasma mycoides mycoides uit letsels van aangetaste skape geïsoleer. Navorsing gaan egter steeds voort. Ander bakterieë besmet dikwels die sere wat deur die mikoplasma veroorsaak word, veral Corynebacterium renale. Die bakterium breek urea in urine af tot ammoniak wat weefsel verder beskadig.  Ramme ontvang dikwels hoë proteïen rantsoene voor paartyd wat moontlik bydra tot die probleem.

Peestersiekte steek hoofsaaklik aan tydens natuurlike dekking van ram na ooi en ooi na ram. Die infeksie kan tydens ram ondersoeke en toetsing oorgedra word. Dit is dus belangrik dat hande tussen ramme ontsmet word. Daar is ook ‘n moontlikheid dat vlieë die infeksie kan oordra.

Simptome

By ooie is die letsels maklik sigbaar as ‘n rou seertjie op die vulva, soms met ‘n rofie. Ramme het dikwels ‘n rooi kol voor die skede op die bors a.g.v. bloeding uit die voorpunt van die penis. Diep sere word op die penis aangetref. Dit bloei maklik as die penis hanteer word. Die sere kan so groot word dat dit die kop van die penis wegvreet. Etter is ‘n aanduiding van sekondêre bakteriese infeksie. Die infeksie kan ook die skede só aantas dat dit vir die ram onmoontlik is om sy penis buite die skede te kry. Indien die penis geswel is, mag dit buite die skede vassit. ‘n Ooi wat aangetas is, sal steeds lam as sy deur ‘n vrugbare ram gedek word, maar sy wil dikwels nie stilstaan vir die ram nie. Die ramme sal ook soms weens pyn en swelsel en verwringing van die penis nie wíl, of kán dek nie.

Vroeg in die verloop van die siekte is ‘n ram met peestersiekte se penis net rooi en bloei dit maklik. Die mikoplasma stimuleer nie ‘n sterk immuun reaksie nie en dieselfde ram kan soms herhaaldelik besmet raak. In sommige gevalle kan dit tot vier seisoene van behandeling en bestuursingryping verg om van die siekte ontslae te raak.

“In sommige gevalle kan dit tot vier seisoene van behandeling en bestuursingryping verg om van die siekte ontslae te raak.”

Behandeling

Verskeie antibiotika word sistemies gebruik, o.a. langwerkende penisillien of langwerkende terramisien. Daar is ook ander antibiotika beskikbaar deur ‘n veearts, o.a. ‘n antibiotikum wat vir 30 dae in die dier se bloedstroom aktief bly. Dit mag die moeite werd wees om dit aan alle ramme in aange-taste kuddes toe te dien net voor ‘n dekseisoen van 35 dae. Waar daar nie van ‘n dekseisoen gebruik gemaak word nie, sal dit egter nie effektief of koste-effektief wees as voorkomende behandeling nie.

Die ram se penis moet ook behandel word. Antibiotikum spuitstof (aërosol) kan gebruik word, of Lotagen (verdun)  of gliserien-akriflavien, of getemde jodium (povidoon). Dit is ook belangrik om aandag te gee aan voeding, met proteïen inhoud nie bo 16% nie. Sommige bronne beveel vit A en Zn toediening aan. Ramme wat tydens die teelseisoen aangetas word en behandeling ontvang, moet tydelik van die kudde verwyder word en twee tot drie weke of soms selfs meer, gerus word. Gee vir hulle skoon strooi beddegoed waar moontlik, sodat hulle nie in die grond lê nie..

Ooie word op dieselfde manier beide sistemies en plaaslik behandel. Hoewel meeste antibiotika effektief is teen die sekondêre bakterieë, roei meeste van hulle nie die mikoplasma uit nie.

Voorkoming

Verseker dat ramme wat aangekoop word, skoon is. By veilings moet die teelballe sowel as die penis ondersoek word. Gebruik weggooi-bare handskoene of ontsmet hande baie deeglik
tussen ramme. Vermy skape van besmette plase. Op die plaas is dit raadsaam om eers proef paring met 10 jongooitjies te doen en daarna die ooie en ramme weer te ondersoek. Eers daarna kan nuwe ramme by die trop gesit word.

Dit is raadsaam om alle ramme ná die teelseisoen te ondersoek. Waar peestersiekte wel voorkom, behoort ramme as volg gemerk te word: groen - skoon ram, geel - ram wat een episode van peestersiekte gehad het,  rooi - ram wat herhaaldelik besmet was. Laasgenoemde moet uitgeskot word.