Volg ons op Facebook

Kruipende dierasies

Written by  Nicolene Swanepoel
| in Veearts
| August 5, 2015

'n Kleine baba lê meestal veilig gehul in 'n wiegie, of is omhels in 'n ouer se arms.  Dit lyk vir die hond soos die ou bekende “baas” in 'n nuwe konfigurasie.

Sodra die baba vanuit die veilige beskerming geneem en op die vloer gesit word, lyk die prentjie totaal anders vanuit die hond se oogpunt.  Wanneer die kleinding begin kruip, begin die sports.  Dis rodeo-tyd.  Vir ouers van nuwe kleuters verskaf dit  'n  sirkus vol vermaak.

Soos menige Youtube-video’s wys, is daar komieklike oomblikke wanneer 'n ou huishond  'n kruipende kleuter die eerste keer sien kruip.  Ons populêre kultuur moedig aanvanklik sulke “prettige” interaksie tussen baba en dier aan – pa staan weg om die video te neem en ma cheer die aksie met sulke sopraan-gilletjies aan.  Die gesin kan nie wag om dit op Facebook te pos nie, dalk is dit hulle tien minute van be-roemdheid.  'n Gegiggel oor sulke kaskenades is egter meestal misplaas; dis juis dan wanneer dinge lelik gevaarlik kan raak.

'n Kruipende kind is nie meer 'n deel van die ouer se lyf nie, soos dit vantevore vir die hond mag geblyk het nie.  Maar nou? WAT vir 'n ding is die nuwe ding op die vloer?  Gebruik jou verbeelding en kyk (en redeneer) vanuit die hond se oogpunt – iets wat hier op dieselfde vlak – op grondvlak, as hy is. Dit kan tog nie daai dingetjie wees wat so ’n kort wyle terug nog deel was van die mense nie, dis dan so anders?  “Is die dierasie 'n ander hond of 'n jagdier?” vra die hond. Dan moet dit dalk op sy plek gesit word.  Die dierasie skree soos 'n maer vark en beweeg lomp, soos iets wat gewond is – iets wat dalk 'n prooidier kan wees en gejag moet word.  Die dierasie RUIK so interessant – gaan stel dadelik ondersoek in daar aan die agterkant van die dierasie. “Sjoe, dit ruik woes geurig, laat ek verder ondersoek instel.  Maar wat gebeur nou – my mense gil op my en ruk my weg.  Aggenee, dinge is nie meer so lekker in die huis nie, ek is nie so seker ek hou van hierdie nuwe dierasie nie…”. 

Te dikwels sê die hond les op nadat 'n kleuter of kind per ongeluk gebyt word.  Is die oplossing dan om alle kontak te vermy? Ek skat diereliefhebbers sal onomwonde negatief hierop antwoord.   Vir mense wat lief is vir hulle huishonde, is dit belangrik om gesonde emosionele en fisiese interaksie tussen ge-sinshonde en kinders te ontwikkel.  

Maak eerstens seker al die diere met wie die kind in aanraking kom, is vry van soönotiese siektes – hulle moet volledig geënt, ontwurm en vry van ektoparasiete, veral vlooie, wees.   Sover fisiese (en emosionele) veiligheid betref, moet daar ook so vêr moontlik daarna omgesien word dat kinders nie deur honde gebyt kan word nie.

“70% van hondebyte is gerig op kinders onder tien jaar, meer as 60% van die kinders wat gebyt word, is seuns.”

Statistiek*  toon dat 70% van hondebyte gerig is op  kinders onder tien jaar, meer as 60% van die kinders wat gebyt word, is seuns, die meeste byte na kinders het geskied wanneer die kinders naby die hond se kos of speelgoed kom; kinders word gewoonlik in die kop en nek gebyt – 55% aan die wange of lippe, en die gemiddelde wond is amper nege sentimeter lank.  Honde wat byt, is meestal grootras-honde.  Tweederdes van die honde wat die bytwerk doen, het nog nooit tevore gebyt nie, en omtrent 30% van die byte is deur die gesin se eie hond.

Seuns is gewoonlik woeliger as meisies en speel dikwels luidkeels en rof met mekaar en met die hond – dus word die hond meer opgewonde, en 'n opgewonde hond se instinkmatige gedrag, dikwels uitgedruk in geneigdheid om te byt, word vinniger afgesneller.

Kinders is korter – vergeleke met volwassenes wie se kwesbare strukture (kop en nek) hoër is, buite die bereik van die gewone hond se tande.  Onthou, die kruipende kind se mees kwesbare gesiggie en hande is gewoonlik naaste aan die hond – en is soveel sagter as dié van die volwassene – 'n vinnige byt-en-los, kan 'n groot wond skeur, wat permanente letsels laat, emosioneel sowel as fisies.

“Die statistiek dui dat grootras-honde meer dikwels die oortreders is.”

Die statistiek dui dat grootras-honde meer dikwels die oortreders is.   Dit beteken nie dat klein rasse nie byt nie – inteendeel, klein rasse wat daaraan gewoond was om die “baba” te wees, wat eerste in die arms van die ouers vertroetel was, het soveel meer rede om uitgewerp te voel, en dus reaktief teenoor die indringer op te tree.  Groter rasse is meer verteenwoordig omdat groter rasse meer skade doen en dus meer gerapporteer word.  (Onthou egter dat 'n kleine brakkie se skerp tandjies ook permanente skade aan 'n sagte velletjie kan maak.)

“My hond het nog nooit iemand gebyt nie, en sal ook nooit nie”, is woorde wat ouers dikwels rondgooi.  Enige hond kan byt, onder die “regte” omstandighede.  Die statistiek dat tweederdes van honde wat byt nog nie gebyt het nie, bewys duidelik die teendeel.  Een derde van byte is deur die gesin se eie hond – dus dui die statistiek dat 'n kind heel waarskynlik deur die gesin se eie hond, wat nog nooit gebyt het nie, gebyt sal word.

Hier is 'n paar maatreëls wat kan help seker maak dat almal in vrede en vreugde saamleef:

• Moet nooit die kind en diere sonder toesig laat nie – minstens een volwasse wat die situasie oordeelkundig kan beheer, moet ten alle tye teenwoordig wees.
• Laat die hond (ideaal lank voor die baba huis toe kom) aan 'n veilige en gesogte den-area gewoond raak, waar hy gelukkig eenkant gehou word wanneer die ouers se aandag afgetrek gaan wees.  Die hond moet daarvan hou om hier te wees, en dit nie as straf sien nie.  As die hond oor 'n lang tyd goeie dinge hier beleef, soos sy maaltye en veilige kougoed hier kry, 'n sagte bed en positiewe interaksie, kan dit goed werk.  Wees rojaal met  “mooi so my honnes!” en lekker snoephappies as beloning as hy progressief langer tye soet en stil op sy eie in die den bly.  As die hond dit as “uitgooi” sien, sal dit soos straf voel en die hond sal hom daarteen verset.  Die den-idee verskaf ge-leentheid dat die hond sy eie speelplek (“play pen”) het, en baba 'n ander.
• Moenie dat die hond en kind se kos of speelgoed met mekaar verwar word nie.  As die hond gewoond was aan “squeeky”-speelgoed, moenie daarvan vir die kind kry nie.  Vermy liewer enigsins om sulke “prooiagtige” speelgoed vir 'n hond te kry in 'n gesin waar jong kinders reeds is, of verwag word.
• Voorkom 'n gebedel by maaltye, veral by 'n kind se hoë stoeltjie. Die veiligste situasie is dat die hond nie teenwoordig is met maaltye nie – hulle kan dalk hulle eie maaltyd elders geniet terwyl die huismense rustig eet.
• Vermy knap situasies – daar moet altyd genoeg beweegruimte wees sodat die hond nie in 'n hoek vasgedruk raak, veral nie deur die kind nie, en dan paniekerig raak. Skuif meubels wat opmekaar is (tydelik) wyer uitmekaar (soos die koffietafel verder weg van die rusbank).

“Die kleuter moet van meet af leer om die hond haar ruimte te gee, en dat sterte, hare en ore nie getrek mag word nie.”

• Beide partye moet respek vir mekaar kweek – die kleuter moet van meet af leer om die hond haar ruimte te gee, en dat sterte, hare en ore nie getrek mag word nie.  Die hond moet leer dat die kind aandag voor haar kry, maar ook kan vertrou dat sy wel aandag sal kry, sodra die kind klaar versorg is.  (Ideaal is dit ook 'n roetine wat aangekweek behoort te word selfs voor die baba kom – om byvoorbeeld met 'n denkbeeldige baba (of selfs 'n pop) die hond te leer om geduldig op haar eie beloning te wag.  
• Speen diere ook af van meubels, ideaal voor die koms van die baba.  Die hoogte van meubels verskaf  'n veilige plek vir kleuters, en laat die hond toe om deel van die geselskap, maar op die grond, te wees.  Hoe meer klein kinders en diere in mekaar se gesigte saambondel, veral in die kern-areas van die huis (soos die rusbank voor die TV), hoe groter die kans vir byte.  

“Al die ‘reëls en regulasies’ beteken allermins dat 'n hond nie in 'n huis met kleuters
hoort nie.”

Ten slotte

Menige honde en kinders word saam groot sonder probleme.  Al die “reëls en regulasies” beteken allermins dat 'n hond nie in 'n huis met kleuters hoort nie.  Daar is min rede om van die saggeaarde of selfs meer lewendige gesinshond ontslae te raak as 'n baba bykom nie.  Wat wel baie belangrik is, is dat ouers nie 'n vals sin van sekuriteit moet kweek nie, maar die regte maatreëls in plek moet stel, verkieslik lank voor die baba kom, om seker te maak dat dinge vlot verloop.

Kinders wat in huise met diere grootword, is meer dikwels beter aangepas, emosioneel en fisies gesonder, as kinders wat min of geen kontak met diere het nie.  Wees versigtig en pas liewer konserwatiewe logika toe, as om spyt te laat te laat kom.   Duidelik moet sirkusreëls nie in die huis geld nie – moenie “cowboy” speel nie, moet asseblief nie self, of jou kind laat leeutemmer speel vir vermaaklikheid nie.

Ek word dikwels 'n ledepreker gedoop wanneer ek kritiese kommentaar lewer op die menige “oulike hond speel met baba-video’s wat die internet vervuil.  Maar beantwoord die vraag – is diere hier om ons as mense te vermaak, ten koste van hulle eie welsyn, en ten koste van menslike veiligheid?   Dit neem net een vinnige byt, al was dit “per ongeluk”, om 'n kind se gesig of handjie, om 'n kind se lewe te skend. 

Hier is skakels na 'n paar tipiese video’s.  Dit wys juis wat NIE moet gebeur nie.  Kyk krities na die inhoud, in die meeste van die situasies veroorsaak die ouers bomme wat dreig om te ontplof. Moet asseblief nie dié tipe van ding versprei nie, want dit moedig onverskillige gedrag aan.

1. https://www.youtube.com/watch?v=VD_qie9W0CE

Kyk na die hond se lyftaal.  Hy stel nie in speel met die kind belang nie, hy is opgewonde oor die water.  Die seun steek sy handjie uit na die hond en die hond deins terug – die hond is eintlik geïrriteerd met die kind want die kind hou hom hier weg van die ding wat hy probeer hap – die stroom water.  Indien die kind se armpie in die hond se bek se pad gekom het, indien dit 'n meer reaktiewe hond was of in-
dien die hond dalk meer opgewonde begin raak het, was daar 'n kans vir 'n lelike byt.  Die ouers of ‘n volwassene is teenwordig, want iemand neem die storie af. Die persoon se aandag is egter op ‘n ander taak gevestig, dus is die reaksietyd om tussenbeide te tree, ingeval daar ‘n ongeluk gebeur, belemmer.

2. https://www.youtube.com/watch?v=2MzrMpM8OKc

Die kind skree, die hond tjank, en die ouer lag en por al die partye aan om nog meer pret te maak, ter wille van die video.  Die hond tjank nie omdat hy saam skater nie – hy huil want hy is nie lus vir die storie nie.

Die Husky toon merkwaardige inhibisie, maar dis 'n onwyse ouer wat op die hond se inhibisie staatmaak.  Onthou die statistieke hierbo.

Die worsie is duidelik geïrriteerd met die kleuter wat hom op die nek lastig val. Die hond is in “sy eie” gemaksone op die bank, het 'n fisiese hoogtevoordeel, en sal ook moontlik neig  om “sy” gebied te beskerm teen die indringer.  'n Byt kan maklik volg.

'n Kleuterhondjie en kleutermensie kruip na mekaar. Nie een van die twee het al die reëls van (interspesifieke) respek geleer nie.  Een kan maklik, per ongeluk, die ander seermaak.  Die hondjie is duidelik onseker hoe om te reageer – hier is 'n skool  om die verkeerde gedrag te leer.

Die kind in die skommelende wiegie is omgekrap, en die Belgiese Herder-kruishond is onseker – die hond kyk oor sy skouer na die fotograaf asof hy vra “maar wat moet ek nou doen?”   Beide die hond en die baba toon tekens van angstigheid. 

Die seun, op grondvlak, probeer die bal van die hond afvat. Sy gesiggie is naby die hond se bek.  Die hond is duidelik nie lus dat die kind die bal afneem nie.

3. https://www.youtube.com/watch?v=IllCj-gJyuo

Dankie tog die bulhond wil net slaap. Iets onverwags mag hom dalk vinnig wakker maak. Wat dan?

4. https://www.youtube.com/watch?v=FQt1Lurmlr4

Meeste terriërs is super-gefokus op jag-tipe take.  Die hond se aandag is 100% op die borrels wat sy “jag”.  Wat gebeur as die kind se hand en die hond se tande terselfdertyd na dieselfde borrel reik?

5. https://www.youtube.com/watch?v=ilMzs1UHEmw

Is dit oulik as hond 'n kind omstamp, platsit of rondsleep?  Dit is gedrag wat nie aangemoedig word nie. Hoe moet die hond later weet “dit is eintlik nie reg nie” en behoort net “onder sekere omstandighede gedoen te word”.  Wat as dit gebeur as die ouer nie daar is nie?

Die kind lek hond se been, die hond suig kind se fopspeen – hoe higiënies is dit?  Merk jy enigiets aanvaarbaar op?

Die kind probeer die hond voer, die hond spring op en die stoeltjie kantel amper om.  En die ouer skaterlag?

Ouers steek die hond se gesogte bal LANGS die baba se gesig weg en moedig die hond aan om dit te gaan uitsnuffel.  Wat as daar iets gebeur wat die hond of kind laat skrik.  Byvoorbeeld dalk skielik 'n harde geluid afknetter, die kind skree en die hond skrik ? (Onthou, 'n hond wat skielik skrik, kan instinkmatig hap.)

6. https://www.youtube.com/watch?v=CvDdZc5tOSk

Hoe is dit vir 'n titel: “The best Nannies”? Stem jy saam dat die honde hier die kind die beste kan oppas? 

Die hond en kind het 'n toutrekkery oor die geel eendjie. Die kind druk op 'n kol amper sy vinger in die hond se oog.  (Later in die video druk 'n ander kind amper sy tone in 'n hond se oë.)

Die spookstem sê die Westie “just loves the baby” – vir my lyk dit of die Westie bloot 'n gemaklike lekker warm kussing gevind het en dalk die kussing gaan hap as die kussing skielik gaan beweeg (of sy ore trek).

Baie van die video’s lyk of dit geposeer is – 'n kind en hond saam in 'n hond se mand-jie ingeprop – dit het nie natuurlik gebeur nie.  Waarom doen ouers dit – om aandag te trek?  Om “likes” te kry?  Is dit die weddenskap werd dat die kind dalk gebyt gaan word, of dink  hulle bloot nie daaraan nie?  En as die kind gebyt word omdat die ouers die hond in 'n situasie gesit het waaruit hy nie heenkome het nie, moet die hond met sy lewe boet? Wie het dan die kind (en die hond) se welsyn ingeboet? Eish…