Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Goeie spyse! Vinnige ABC oor hond- en katkos

Written by  Dr. Joan Kleynhans
| in Veearts
| September 7, 2015

Dr. Joan Kleynhans het al vantevore gepraat oor die evaluasie van dierekos-etikette.  Ek gee ook ’n paar skakels vir webblaaie hieroor (onderaan die artikel), maar ek wil eerder hier so ’n vinnige inleiding tot die hoofbestanddele van hond- en katkos gee, met ’n paar brokkies inligting daaroor.

Ek sal probeer om so min as moontlik na ‘n skooljuffer te klink, maar dis tog belangrik om die basiese feite agtermekaar te hê as jy wil verstaan wat met jou dieremaats se kosbehoeftes  aangaan.

Vir die wie se skoollesse al lank terug vasgeroes het, is hier ‘n klein inhoudsopgawe om na te verwys.

Voedingstowwe bestaan kortliks uit die volgende:
1. Water; 2. Proteïene; 3. Vette (insluitend essensiële vetsure); 4. Koolhidrate: Vesel; Stysel; Suikers (soos glukose); 5. Minerale;
6. Vitamiene

Onthou, ’n voedingSTOF is die basiese ele-mente van die voeding (hierbo).  ’n VoedingsBRON is byvoorbeeld beesvleis, beenmeel, sojabone, gras, muise, ens.
Reg, ons is nou klaar met die spyskaart, kom ons begin met die maaltyd.

DIE HOOFGEREG:

Water

Ek het dikwels my studente vasgevra met die vraag: “Wat is die mees belangrikste voedingstof?” Hulle struikel dan rond om te besluit tussen die meer ooglopende antwoorde.  Is dit proteïene? Vette? Nee, nog nie? Dan dalk vitamiene? Minerale? Dan begin hulle al verder van die ooglopende raaiskote wegstruikel en grou lukraak, soms heel kreatief, woorde soos argenien of kattenoïede uit hulle deurmekaar- geswotte  korttermyn-geheue.  Selfs die slimste studente kon nie sonder heelwat hupstote by die antwoord “WATER!” uitkom nie.  Water is die een voedingstof waarsonder jy baie gou kan sterf.  As jy honger word, kan jy nog effe vasbyt, maar as jy dors word (dehidreer), raak die situasie gou gevaarlik.  Waterverlies van meer as 10% kan fataal wees. Onthou dat ’n dier (soos die mens) se liggaam uit meer as 70% water bestaan. Die liggaam het ook ’n meer beperkte kapasiteit om water te stoor, in vergelyking met ander voedingstowwe, soos proteïen en natuurlik; goeie ou vet. 

sep 2015 dieregedragOmdat ons mense water gewoonlik handig naby het, vergeet ons dikwels om seker te maak dat ons diere onbeperkte toegang daartoe het - veral as jy hulle dalk vir ’n ruk alleen laat, soos deur die dag terwyl jy by die werk is.  Maak seker dat daar altyd oorgenoeg, skoon en koel water is, en neem ’n bakkie en bottel water saam as jy met jou hond gaan stap, veral op warm dae. Reken op minstens ’n half liter water per tien kilogram hond per dag, maar veral op warm dae óf as ’n hond baie aktief is, is heelwat meer water nodig.  Ek hou verskeie keramiek-waterbakke - wat elk meer as vyf liter bevat - oral op my werf in skaduplekke aan. Ek maak ook daagliks seker hulle is vol, koel, en skoon.

Tipiese droë hondekos bevat omtrent 10% water, geblikte kos bevat (soos ons liggame) 70% persent of meer.  ’n Dier wat geblikte kos eet, sal dus ook ’n deel van hulle water uit die voedsel kry en dalk minder water drink. 

Katte veral verkry in die natuur baie water deur hulle kosinname en is minder geneig om addisionele drinkwater op te soek. Veral katte wat ’n droë kos-dieet het, moet ALTYD skoon en koel water naby hulle kosbakke hê (nie reg langsaan nie, want dan mors die water dikwels die kos nat en bederf dit). 

Ek verbaas my steeds hoeveel mense hulle katte slegs melk te drinke gee.  Melk is nie ’n geskikte plaasvervanger vir water nie.  Melk is iets wat net jong (sogende) diere voldoende kan verteer - om volwasse katte (ook honde) melk te gee, kan tot spysverte-ringsprobleme lei.  

Proteïene

Belangrik vir energie en spierbou.  Veganiste debatteer dié standpunt, maar in die algemeen toon voedingkundiges dat honde minstens die helfte van hulle proteïen van dierlike oorsprong moet kry - dus vleisagtig, in plaas van plantaardige oorsprong; bv. soja.  

“Meer proteïen en vet (van dierlike oorsprong) is dus belangrik vir ’n kat.”

Vir katte is dierlike voedingsbronne selfs meer belangrik want hulle benodig sekere essensiële voedingstowwe, insluitende vetsure, aminosure (proteïen boublokke) en vitamiene, soos vitamien A, wat hulle nie self kan vervaardig uit plantaardige voedingsbronne nie, anders as honde.  Meer proteïen en vet (van dierlike oorsprong) is dus belangrik vir ’n kat. Daarby behoort katte ook minder stysel en vesel in hulle diëte te hê, in vergelyking met honde.  Jy kan dus nie ’n kat hondekos voer nie, maar ’n hond sal heel goed doen op ’n kat se kos (maar sal dalk oorgewig raak, as gevolg van die hoër proteïen en vet).

sep 2015 dieregedrag2As jy ’n nuwe kos oorweeg, onthou om op die etiket te kyk vir ’n aanduiding van die bron van die voedingstowwe (anders as die basiese voedingstof-analise). Kyk uit vir slim woorde wat die kos na goeie kwaliteit laat klink terwyl dit nie is nie. ’n Vrot ou skoenvel kan byvoorbeeld as “suiwer” proteïen opgegee word.  Voedsel moet verkieslik hoogs verteerbaar wees en ’n hoë graad van biobe-skikbaarheid hê, wat vel, hare, vere, hoewe of sening nie het nie, in vergelyking met vleis. 

“Hoender geur” klink dalk lekker maar hou min voedingswaarde in - dit gee net smaak.  Jy wil seker wees jy sien en glo woorde soos “met regte vleis” - met ander woorde nie bloot vleis- geursel, of vleis-afvalprodukte nie. Indien die kos vanuit goeie bronne saamgestel is, sal dit met trots en duidelik op die verpakking aangedui word. ‘n Afwesigheid van sulke informasie, of vae beskrywings,  beteken dat die bronne tien teen een swak is.

Vette

Soos proteïen, gee vette ook goeie energie, asook smaak, en dien as bergmedium vir ander voedingstowwe, insluitende vet-oplosbare vitamiene. Vette kan egter vergal met tyd of onder ongeskikte stoor-kondisies, en kan kos sleg laat ruik en smaak.

Koolhidrate - Vesel

sep 2015 dieregedrag3Tim Noakes en die Banting- brigade maak die figuur-bewustes deurmekaar: “koolhidrate” is nie altyd net die ongewensde goed (stysels en suikers) nie, maar sluit ook baie nodige vesels in.  Soos met ons mense, is ’n goeie kwaliteit vesel belangrik om goeie spysvertering te verseker. Dit help onder
meer om konstipasie en diarree te voorkom. Beeste en skape is herkouers wat gras (dus vesel) inneem, wat hoofsaaklik in die boonste dele van die spysverteringskanaal (“voor die maag”, in die voormaag of rumen) met die hulp van mikro-organismes verteer word.  Ons mense, honde en katte se vertering vind meestal plaas vanaf die maag en in die derms daarna, deur ons eie ensieme.  

“Dis dan wanneer Oupa sy vuurhoutjie naby Wagter se agterstewe aansteek om die kleinkinders met die brak se weergawe van die noorderlig (of dan Aurora Borealis) te amuseer.”

Daar is wel vertering met behulp van mikro-organismes reg aan die einde van die spysverteringskanaal in die dikderm.  Daardie miljuisende klein diertjies binne-in ons benut vesel, en matige hoeveelhede gasse word afgeskei in die proses.  As hulle te min vesel kry, of die verkeerde tipes kos moet probeer verteer, of swak verteerbare kos, wat onverteerd al die pad deurglip dikderm toe, is daar oormatige fermentasie, en gasse bou op.  Dis dan wanneer Oupa sy vuurhoutjie naby Wagter se agterstewe aansteek om die kleinkinders met die brak se weergawe van die noorderlig  (of dan Aurora Borealis) te amuseer.

Koolhidrate - Stysel

Stysel in hond- en katkos is strenggesproke onnodig.  Stysels vanuit algemeen-beskikbare lokale bronne, soos mielies in Suid-Afrika, word dikwels tot omtrent die helfte van die totale inhoud gevoeg om vo-lume (‘bulk”) op te maak.  Mens vind dus baie stysel in die goedkoper kosse. Soms sien jy sommer die stukke mieliepit in die kos.  

’n Goeie kos met minder stysel en meer hoë kwaliteit proteïen en vette as hoofbron van energie, sal per gewig meer kos, maar onthou omdat die kwaliteit beter is, hoef jy minder te voer.  ’n Bykomende voordeel is dat daar kleiner volumes stoelgang geproduseer word, so daar’s minder kans om ‘n mens se “voet daarin te sit” in die tuin.

Indien daar stysel in ons huisdierkos is, moet dit goed gaar wees, anders is dit swak verteerbaar.  Ongelukkig, wanneer dit goed gaargemaak is (teen hoë hitte) word die water-oplosbare vitamiene dikwels vernietig. ’n Kos etiket wat noem daar is sus en soveel vitamiene B of C in hulle kos, mag dalk praat van hoeveel daar was voor die gaarmaak-proses. Die nodige vitamiene moet dus NA die gaarmaakproses bygevoeg en gemeet word.  

Koolhidrate - Suikers

sep 2015 dieregedrag4Soos ’n goed verteerbare stysel kan glukose tot ’n mate energie verskaf omdat dit ’n direk-beskikbare suikermolekule is, veral vir diere wat energiebehoeftig is, soos hardwerkende diere of lakterende tewe.   Behalwe glukose, kan ander suikers nie ordentlik deur ons huisdiere verteer word nie.  Net soos mense dikwels “laktose-intolerant” is, verloor die meeste soogdiere na afspeen- ouderdom die vermoë om melksuiker te kan verteer. Die ensiem laktase, teenwoordig by geboorte, breek laktose (melksuiker) af.  Na afspeen, soos ’n soogdier ouer word, verminder en verdwyn laktase.  Waar die dier (of mens) gereeld melk bly drink het, kan hulle, tot ’n mate die vermoë om melk te verteer behou, maar melk is eintlik nie ideaal vir die meeste volwasse soogdiere nie.

Minerale

Baie kan oor minerale geskryf word.  Kort-liks: onthou om op te let op kalsiumvlakke.  Ons is in die ou dae so ingeprent dat kalsium belangrik is dat mense steeds geneig is om te veel kalsium (Ca) te voer. Die meeste goeie kosse het die regte hoeveelhede kalsium, maar selfs nog meer belangrik, behou hulle die fyn balans tussen kalsium en ander minerale, waarvan die mees noodsaaklike fosfor is (P, dikwels ‘fosfaat’ genoem). Te veel kalsium en ’n verkeerde kalsium-tot-fosfor balans kan in vinnig-groeiende groot-ras honde gewrig- en beenontwikkelings-probleme veroorsaak.  Om groei ook matig te hou sal groot-ras honde ook ’n laer energievlak in hulle rantsoene hê, in vergelyking met klein-ras hondjies.

Vitamiene

Vitamientekorte (of oormate) is nie algemeen ’n probleem met ons kommersiële dierekosse  nie.  In die verlede was daar soms tekorte van vitamine A in katkos (hulle het dit vanuit dierlike vet-bronne nodig), maar dis deesdae selde ’n probleem.

DIE NAGEREG:

Omdat die voedingsbehoeftes van wer-kende-, atletiese-, oorgewig-, teel-, geriatriese- en siek diere meer gespesialiseerd is, bespreek ek dit nie hier nie.

“Dit bly makliker om kommersiële kos te voer eerder as om self rantsoene te probeer opmaak, om seker te wees dat jou diere die regte voe-dingstowwe inneem.”

Daar is streng maatreëls waaraan geregi-streerde dierekosvervaardigers moet voldoen.  Veeartse, landbou-koöperasies en bekende winkels sal waarskynlik nie gemors verkoop nie. Dit bly makliker om kommersiële kos te voer eerder as om self rantsoene te probeer opmaak, om seker te wees dat jou diere die regte voedingstowwe inneem. Koop die beste wat jy kan bekostig.  Soms voel dit dalk of die duurder verskaffers aan jou sak trek (en duur beteken nie altyd beter nie), maar asseblief, vermy ten alle koste die gemors wat mens by Jan Rap en sy Maat kan koop - die wat so langs die pad gesmous word, of onbekende name. Die kos is dikwels swak kwaliteit en sal jou dier oor die langer duur (met tekorte en wanbalanse) of selfs korter duur (met toksisiteit) skade aandoen.  

Gun jou diere maat goeie spyse!

HIER IS ’N PAAR HANDIGE WEBBLAAIE:

http://www.asasa.org.za/codes/advertising-code-of-practice/appendix-i-pet-food-advertising
http://www.montego.co.za/products/
http://www.petfoodindustry.com/articles/1996-pet-food-industry-association-of-south-africa-vows-to-eliminate-petfood-fraud
http://www.petwise.co.za/live/content.php?Item_ID=469
http://www.pethealthcare.co.za/PetFriendly/Articles/deciphering-pet-food-labels
http://www.fda.gov/animalveterinary/resourcesforyou/ucm047113.htm
http://pets.webmd.com/dogs/guide/how-to-read-a-dog-food-label
http://biophile.co.za/animal-welfare/pet-food-labels