Volg ons op Facebook

Wagter, wat bedoel jy?

Written by  Nicolene Swanepoel
| in Veearts
| October 8, 2015

Wildehondspesies (bv. wildehonde, wolwe) blaf nie as ’n reël nie; daar is moontlik blafferige, (of eerder jipperige) geluide in jongelinge, maar dit verdwyn meestal wanneer hulle volwasse raak.

“Honde is waarskynlik gese-lekteer om te blaf vir menslike voordeel, byvoorbeeld om alarm te maak.”

Daar word dus aangevoer dat blaffery (en ander geluide soos ’n getjank) in gedomestikeerde honde behoue bly omdat dit ’n interspesifieke funksie vervul – honde blaf dalk eerder om met mense te kommunikeer as met ander honde. Honde is waarskynlik (spesifiek óf toevallig) geselekteer om te blaf vir menslike voordeel, byvoorbeeld om alarm te maak.

Jagdiere het in die algemeen slegs be-skerming van hulle ouers nodig wanneer hulle baie klein en hulpeloos is – kleintjies sal die ma of trop roep om te kom help as hulle bedreig voel. Sodra hulle ouer word, is dit gewoonlik tot hulle voordeel om stil te wees. As hulle raas, maak hulle hulself bekend  vir ’n groot leeu wat dalk na prooi soek. As volwassenes is hulle dan ook groot genoeg om vir hulleself te sorg – Ma is nie meer naby nie. Baie volwasse spesies is ook alleenlopers, en om dus te roep om hulp teen gevaar sal in elk geval nie help nie. 

Ons honde word deur sommige navor-sers as ‘geneoteniseerde’ diere gesien – diere wat nooit groot of onafhanklik geword het nie – dus hou hulle aan roep vir die volwasse beskermer se hulp. Honde is inderdaad nie onafhanklik nie – hulle is oor eeue geteel om saam met mense, onder hulle beskerming te wees, en om deur mense gevoed te word. En vir honde is hulle beskermer en hulp die mens, selfs vir troppe honde.

Ons sê dat honde wat snags blaf mekaar in kennis stel dat daar gevaar is – daarom dus ’n vlaag geblaf van een kant van die voorstad na die ander. Maar maak hulle mekaar se ondersteuning bymekaar deur te blaf, of roep hulle menslike hulp in?

“Daai blaf klink vir my of hulle naarstigtelik hulle mense roep om te kom help.”

dieregedrag october 2015Ek spog soms dat ek verskillende honderasse kan onderskei deur bloot die blaf te hoor – en dikwels is ek reg (of so dink ek).  Duitse Herdershonde het vir my byvoorbeeld ’n baie spesifieke blaf, heel anders as ’n klein terriër of selfs dié van ’n soortgelyke grootte Labrador. Ek verbeel my hulle blaf so ’n staccato, ’n half senuagtige blaf. Daai blaf klink vir my of hulle naarstigtelik hulle mense roep om te kom help. Terriërs se blaffery klink weer vir my of hulle raas om hulle eie moed bymekaar te skraap. So asof hulle blaf om hulleself op te pof om NOG groter te kan lyk, om sodoende die grootste hond in die buurt te kan aanval, sommer net omdat hy groter is as die klein parmant self. Labradors blaf vir my diep en luidkeels, met selfvertoue.  Ek het my teorie nog nie wetenskaplik getoets nie – dis mos lekker om bloot te kan spekuleer, of hoe? Dit klink dalk logies dat mens aan ’n hond se blaf die ras en rede kan herken, maar dis ’n ander ding om dit wetenskaplik te bewys (of dalk die teendeel te bewys).

“Terriërs se blaffery klink weer vir my of hulle raas om hulle eie moed bymekaar te skraap.”

Verskillende studies is reeds geloods. Een groep wetenskaplikes het juis ‘my’ teorie - die mens se vermoë om honde se blaffery korrek te analiseer - getoets.  Meer onlangs is ’n rekenaarprogram (of algoritme), wat redelik akkuraat dieselfde kan doen, ontwikkel.

’n Hongaarse span het in 2002 hondeblaffery in verskillende situasies opgeneem en mense gevra om dit te assosieer met sekere verwagte emosies in die honde. Daar is bevind dat die mense suksesvol was bo toevalsvlakke.  Die mense se vooraf ervaring met honde, al dan nie, het blykbaar nie hulle akkuraatheid beïnvloed nie. Selfs mense wat nog nooit honde gehad het nie, het goed gedoen. Die implikasie is dat ons kapasiteit om ’n hond se blaf te verstaan instinkmatig eerder as aangeleer is.  

Honde vokalisasie is dus ‘n bewys van ’n effektiewe manier van interspesifieke kommunikasie. ‘Interspesifiek’ dui op iets wat geld tussen twee of meer spesies, in teenstelling met intraspesifiek wat beteken dat dit slegs binne die een spesie geld. Dit impliseer dat honde blaf om met ander spesies buite hulle eie te kommunikeer.  Omdat honde evolusionêr met mense saam ontwikkel het, is dit logies dat honde met mense probeer kommunikeer deur hulle blaffery.  Dit sluit egter nie die moontlikheid (of selfs die waarskynlikheid) uit dat honde se blaffery ook vir die ore van ander honde bedoel is nie. Dié teorie kan vermoedelik ook met ’n goed ontwerpte wetenskaplike studie reg of verkeerd bewys word.

Rekenaars doen egter beter as ons mense wanneer dit by die verstaan van ’n blaffery kom. Navorsers aan universiteite in Boedapest en Madrid het ’n rekenaarprogram ontwerp wat juis dit kan doen. Honderde blawwe van verskeie  honde in verskillende situasies is ontwikkel tot algoritmes (’n geoutomatiseerde analise), wat die geslag, ouderdom, en identiteit van ander blaffery dan kan bepaal.

Nog ’n studie het verskeie individuele honde van ‘n enkele ras se blaffery in verskillende situasies geanaliseer. Soos wanneer ’n vreemdeling nader kom, kom ons stap, alleen bly, bal uithaal en speel. Wanneer ’n vreemdeling nader kom, is die blaf vinnig, diep en hard, terwyl ’n gelukkige hond hoog en helder blaf. Die rekenaarprogram was minder effektief om tussen verkillende tipes speel-blawwe te onderskei, en meer effektief om die onderskeie baklei- en vreemdeling-blawwe te bepaal. Die rekenaar was ook meer effektief om tussen individuele honde se blawwe te onderskei as wanneer mense dit probeer het. 

Die navorsers hoop dat dit nie net ’n stap is om die kommunikasie van honde beter te verstaan nie, maar dat daar ander voordele ook kan wees. Probleemgedrag kan byvoorbeeld meer spesifiek gediagnoseer word. ’n Sekere blaf-tipe dui op angstigheid, ’n ander op verveeldheid, wat kan help bepaal waarom die hond die meubels flenters skeur wanneer die eienaars hom alleen los. ’n Angstige hond blaf hoog en vinnig, ’n hond wat bloot eensaam - maar nie angstig is nie -  sal stadiger blaf.   

“’n Angstige hond blaf hoog en vinnig, ’n hond wat bloot eensaam - maar nie angstig is nie -  sal stadiger blaf.”   

As mense honde kan verstaan, kan ons dalk leer om hulle taal te praat? Verbeel jou, mense wat blaf en tjank en grom wanneer hulle by hulle honde is – dit sal vir jou ’n interessante nuwe Fanagalô produseer.  Dalk kan ons dit dalk Honnegalô noem?  

Verwysings na internet-artikels:
http://www.business-standard.com/article/pti-stories/new-algorithm-tells-dog-s-age-and gender-from-its-bark-115053100219_1.html
http://www.sciencedaily.com/releases/2008/01/080116095531.htm