Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Hoe om suurpens te verhoed en te behandel

Written by  Dr Joan Kleynhans
| in Veearts
| December 15, 2015

Rumenasidose of suurpens kom voor wanneer ‘n skaap of bees wat nie aangepas is by kragvoer nie, daaraan oorvreet. Herkouers het mikro-organismes in hul rumens wat aangepas is om die sellulose of vesel in ruvoer te verteer.

‘n Lae persentasie (0.01%) van die bakterieë soos Streptococcus bovis en Lactobacillus, produseer melksuur. Die rumen pH is normaalweg ongeveer 6.5 tot 6.8.

Wanneer ‘n dier skielik oorvreet aan kragvoer vermeerder die melksuur produserende bakterieë vinnig, totdat hulle ongeveer 30% van die totale mikro-organismes in die rumen uitmaak. Die verhoogde melksuur produksie wat hierop volg, verlaag die pH tot 5 of minder.

Dit gebeur soms wanneer diere per abuis toegang kry tot gestoorde voer, bv. mielies, en hulself oorvreet, of waar hulle gevoer word, bv. in ‘n voerkraal en nie tyd gegun word om geleidelik by die kragvoer aan te pas nie. Soms bly daar graan oor na oestyd. Wanneer vee daarin gejaag word, kan rumen asidose ontstaan. Koring en hawer wat in die pypstadium bewei word, kan ook die toestand veroorsaak.  

Wanneer die rumen pH daal, raak die dier ontwater, omdat water na die rumen getrek word. Melksuur word uit die rumen in die bloedstroom opgeneem. Dit veroorsaak asidose van die liggaamsvloeistowwe. Rumen bewegings word stadiger en kan selfs gaan staan. Dit kan opblaas tot gevolg hê. Normale rumen bakterieë kan nie in die suur grootpens oorleef nie en spysvertering word ontwrig. Skadelike bakterieë en swamme kan die liggaam binnedring deur die beskadigde dermwand en kan lewer absesse veroorsaak. Daarby skei die melksuurproduserende bakterieë ook endotoksines en histamien af. Die melkpens en dermkanaal raak ontsteek as gevolg van die melksuur. ‘n Vitamien B1 tekort ontstaan omdat melksuur die bakterieë wat dit vervaardig, doodmaak.

Diere wat die toestand ontwikkel, raak lusteloos en eet nie. Hul polsslag en asemhaling versnel, hoewel hul koors normaal is. Hul oë sit diep a.g.v. ontwatering en ʼn vel vou wat opgelig word, sak nie normaal terug in posisie nie. Dit dui op ontwatering. Die rumen is egter so vol vloeistof, dat dit kan lyk of die dier opgeblaas is. Tekens van buikpyn en diarree word gesien. Die mis is waterig, geel of grys, en het ʼn suur reuk.

“Diere wat die toestand ontwikkel, raak lusteloos en eet nie”.

Histamien veroorsaak ontsteking van die kloue wat die dier laat kruppel loop.  In erge gevalle sal die dier selfs op sy knieë loop. As daar vitamien B1 tekort is, word tekens van breinskade gesien. So ‘n dier vertoon blind en sonder koördinasie. Soms loop hy in sirkels. Hartversaking, skok en ontwatering kan tot vrektes lei.

Nadoods is daar tekens van ontwatering met ingesonke oë, onelastiese vel en suur-ruikende en waterige rumen inhoud. Die grootpens en melkpens se slymvlies is rooi en opgehewe. Die dermkanaal is ook rooi. Rumen pH is 5 of minder.

Behandeling behels onmiddellike onttrekking van die betrokke voer of weiding en voorsiening van baie water. Behandel diere met diarree met Carron olie (‘n mengsel van helder kalkwater - verkry deur gebluste kalk in water op te los en te wag dat dit afsak - en rou lynolie.). Waar die rumen reeds gaan staan het en die diere opsigtelik ontwater is, is dit raadsaam om ʼn veearts te raadpleeg.

Geaktiveerde steenkool kan ingegee word om endotoksines te bind. Koeksoda of gebluste kalk help om die rumen pH reg te stel. Antibiotika wat per bek of direk in die rumen toegedien word, maak wel die bakterieë dood, maar veroorsaak ook meer vrystelling van endotoksines soos die bakterieë doodgaan. Vitamien B1 inspui-tings mag van waarde wees. In die geval van waardevolle diere kan die rumen chirurgies leeg gemaak word.

Die toestand kan voorkom word deur diere wat ruvoer gewoond is, geleidelik aan konsentraat voeding bloot te stel en sodoende die mikroflora kans te gee om by die kragvoer aan te pas. Beheerde hoeveelhede konsentraat of graan moet geleidelik oor 7 tot 10 dae vermeerder word. Selfs na die aanpassingstyd, moet diere nie onbeheerde toegang tot konsentraat of graan hê nie.  Selfs aangepaste vee kan ooreet en siek word van ʼn skielike oormaat.