Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Die raka in ons - Dr. Nicolene Swanepoel, ‘n huldeblyk deur Marlene Bramley

Written by  Marlene Bramley
| in Veearts
| February 4, 2016

“Elke mens het twee spieëls binne hulle, die een helder: jou dade, jou woorde, jou wesenlike menswees, gesien deur die wêreld se oë; die ander donker: jou binnewêreld, dit wat net jy ken.

Onvoltooide dade, gedagtes, drome...die ondier wat slaap. Die Raka in iedereen.”

Sommige mense slaag daarin om hierdie deel van hulself te ontgin, ondersoek, te bevraagteken, daarmee te worstel en uiteindelik die dier uit sy hok te laat kom, om sy oë vir die eerste keer die lig te laat sien.

Dis ‘n stormagtige dag vroeg in September toe ek Nikki die eerste keer vier jaar terug ontmoet. Sy verwelkom my as joernalis wat ‘n artikel oor haar werk skryf. Vier ure later groet ek as mens, diep geraak deur beelde wat die dier binne ons aanspreek. ‘n Blik op die Raka van menswees. ‘n Kyk in die donker spieël van die siel.

Wat my tref in Nikki se werk is die toeganklikheid daarvan. Sy moedig my aan om ‘n beeld wat soos ‘n murgbeen aan die een kant lyk op te tel, die kurwes te ontdek, totdat ek voel hoe die vierpoot balanseer en die man daaruit ontwaak. Dis anders as evolusie, ek voel nie ek kan neerkyk op hierdie sogenaamde dier, of dat ek enigsins verhewe bo dit staan nie. Nee, dis meer ‘n wedersydse vertrouensverhouding om saam regop te kom en só die wêreld in die oë te kyk. Die een sonder die ander; ‘n afpoot stoel.

february 2016 dieregedrag 1

“Sy moedig my aan om ‘n beeld wat soos ‘n murgbeen aan die een kant lyk op te tel, die kurwes te ontdek, totdat ek voel hoe die vierpoot balanseer en die man daaruit ontwaak.”

february 2016 dieregedrag 2

So begin ‘n ander tipe verhouding waar sy haar vrygewige hart oopmaak en bydra tot verskillende publikasies waarby ek betrokke is. Hetsy deur my bloot te stel aan haar groot netwerk van talentvolle kontakte, veeartse, fotograwe, argitekte en die Grabouw gemeenskap waar sy pas haar pragtige huis teen die berge klaar gebou het. Of deur haar persoonlike bydrae as dieregedrag spesialis en voorstaander van diereregte.

february 2016 dieregedrag 3

february 2016 dieregedrag 4Sy skryf meer as 24 artikels en gee idees en insette in ontelbare ander. Haar ondersteuning en gewilligheid om saam met die (toe) snuiter tydskrif te groei, en sy unieke stem te ontwikkel, help die klein hondjie sy blaf ontdek.

Met die nuus dat Nikki die vroeë trein gevat het, voel ek iets in my wankel. Haar afsterwe los meer as net ‘n leemte, dit laat my staan voor die donker spieël en wonder oor al die beelde wat nog kon gewees het...

Al Nikki se artikels in Plaastoe! kan op die skakel gelees word: http://www.plaastoe.co.za/veearts/item/343-donkey-work

Oorspronklike onderhoud met Nikki - September 2012 gepubliseer in Agrikultuur beskikbaar op www.plaastoe.co.za/veearts/item/358-die-siel-van-die-dieritem/358-die-siel-van-die-dier

february 2016 dieregedrag 5