Volg ons op Facebook

Vra die veearts - Blousuurvergifting wat elke boer moet weet

Written by  Dr Joan Kleynhans-Jordaan
| in Veearts
| March 14, 2014

Onder sekere toestande vorm sekere algemene plante, soos lusern, kweekgras, sorghum en acacia sp ea, sianogeniese glikosied wat in blousuur omskep kan word.

Die risiko van blousuurvergiftiging ver­groot wanneer plante wat onder stremming verkeer weer begin groei. Blousuur is uiters toksies en vinnig werkend. Dit word in die bloedstroom opgeneem en verhinder dan die benutting van suurstof deur selle. Die dier vrek dus eintlik van verstikking.

Die risiko van blousuurvergiftiging is groter onder die volgende toestande:
- Tydperke van vinnige groei van plante nadat hulle gesny is, of na ’n droogte.
- Plante wat geryp of verlep is.
- Plante wat met onkruiddoders behandel is
- Grond met hoë stikstof- en lae fosforvlakke.
- Nat plante a.g.v. dou of ligte reën

Herkouers is aansienlik meer vatbaar vir blousuurvergiftiging as wat monogastriese diere is. Diere soos perde en varke se maaginhoud is aansienlik suurder as dié van herkouers. Dit vernietig die ensieme wat sianogeniese glikosied in blousuur omskep. Daarby dra rumen-mikrobes by tot die omskakeling van sianogeniese glikosied tot blousuur. Beeste is ook meer vatbaar as skape, aangesien skape verskillende ensiemstelsels in hul voormae het.

Diere wat honger is wanneer hulle bv. word op jong, groen weiding uitgelaat word se risiko verhoog a.g.v. die feit dat die kapasiteit om blousuur te metaboliseer, eenvoudig oorlaai word. Diere wat onlangs op die plaas aangekom het, se risiko is hoër, aangesien hulle nog nie aangepas het en nie bekend is met plaaslike plante nie.

Simptome van vergiftiging kom voor binne 15 tot 20 minute nadat die blousuur ingeneem is. Dood volg binne minute tot 1 tot 2 uur ná die verskyning van simptome.

Simptome kan die volgende insluit: swak, vinnige en ongereelde pols, moeilike asemhaling, angstigheid gevolg deur depressie, rondsteier en struikel, spiertrekkings, kreun, pupille verwyd, diere wat bly lê, opblaas met kwyling, stuiptrekkings en helderrooi slymvliese. Met nadoodse ondersoek, is die bloed helderrooi. ’n Paar uur na dood, is dit egter weer donkerrooi. Daar mag bloeding in die tragea en in die longe voorkom, asook op die hartoppervlakte.

Spiere lyk donker. Soms ruik die rumen na bitter amandels. Blousuur kan in ’n laboratorium bevestig word, maar rumen-inhoud moet so gou as moontlik gevries word. Vars spier en lewer moet verkoel gehou word tot dit na ’n laboratorium gestuur word.

Blousuurvergiftiging kan met nitrietvergiftiging, long-edeem, blou-groen-alg-vergiftiging en anafilaktiese reaksies verwar word.
Vroeë diagnose en behandeling is noodsaaklik. Alle diere wat van die voer ingekry het, moet behandel word, al toon hulle nie simptome nie. Die doel van behandeling is om suurstofbenutting op sellulêre vlak te herstel. Die toediening van binneaarse natrium-nitriet deur ’n veearts verander blousuur in siaanmethemoglobien. Terselfdertyd word natriumtiosulfaat of Hypo ingespuit. Dit omskep siaanmethemoglobien in niegiftige tiosianaat. Laasgenoemde word in die urine uitgeskei.
Andersins kan Hypo alleen gegee word. ’n Groot dosis word ingespuit. Die behandeling moet herhaal word. Dit is veiliger as die eerste behandeling omdat nitrietvergiftiging met blousuur verwar kan word.

Die vee moet ook geskuif word of nie verder van die betrokke voer gegee word nie. Hantering moet minimaal wees. Voer ook veilige voer om die blousuur in die rumen te verdun.


Dr Joan Kleynhans-Jordaan is ’n ervare veearts en het tydens haar loopbaan wat reeds oor 4 dekades strek, met plaasdiere, huisdiere en wild gewerk. Sy doen tans lokums in die Wes-Kaap en elders en skryf graag oor haar wedervaringe. Sy is ook ’n ywerige fotograaf en kunstenaar. Sy skilder veral graag kleurvolle hondeportrette.