Volg ons op Facebook

Die hoenders in

Written by  Dr. Joan Kleynhans
| in Veearts
| April 6, 2016

Ek was bevoorreg om in die platteland groot te word. Ons het ʼn hoenderhok in die agterplaas gehad en ek onthou nog die heerlike organiese eiers wat ons help versamel het. Ons hoenders was nie troeteldiere nie, maar was tog ʼn groot bron van vermaak vir ons as kinders.

april 2016 dieregedrag 3

Die hoenders het ʼn belangrike bydrae gelewer tot ons dieet. Daar was altyd volop gesonde vars eiers, wat met hul donker eiergele heel anders gelyk het as die bleek eiers wat ek later in my lewe by die supermark gekoop het. Haantjies is geslag. My mond water nou nog as ek terugdink aan my ouma se heerlike hoenderpastei. Mens kan selfs ʼn ekstra geldjie verdien deur eiers of hoenders te verkoop.

Heelwat mense hou hoenders hoofsaaklik as troeteldiere aan en vind dat hulle individuele persoonlikhede het. Hoenders is ook mooi, met verskillende kleurpatrone. Daar is heelwat rasse om van te kies, en ook hoenderskoue.

“Een van die voordele van hoenders as troeteldiere is die feit dat hulle heelwat minder sorg vereis as honde en katte.”

Een van die voordele van hoenders as troeteldiere is die feit dat hulle heelwat minder sorg vereis as honde en katte. Mens hoef nie elke dag met hulle te gaan stap, of hulle te borsel, of twee keer per dag te voer nie. Hulle eiers word daagliks versamel, hul kos en water houers moet daagliks skoon gemaak en opgevul word, en hulle beddegoed moet af en toe vervang word. Benewens eiers, produseer hulle ook heelwat verwerkte plantmateriaal met stikstofryke mis, wat goed is vir die grond.  Hulle eet ook slakke, sprinkane en ander insekte in die tuin. As jy net eiers wil hê om te eet, is ʼn haan nie nodig nie.

Bantams van die Pekin ras is ʼn goeie keuse vir klein erwe. Hulle is rustig van geaarheid en skrop minder in beddings as ander hoender rasse. Orpingtons is ʼn goeie keuse as mens ʼn groter hoender verkies.

Hoenders wat toegang tot die tuin het en heelwat gras eet, se eiers is hoër in Omega-3 vetsure en Vit E , en laer in cholesterol as kommersiële eiers.

april 2016 dieregedrag 1

Huisvesting van hoenders

Hoenders benodig ʼn stewige slaaphok met ʼn dak, waar hulle snags beskerm sal wees teen die elemente en roofdiere soos huiskatte en in sommige dele wilde predatore, soos muskeljaatkatte.

ʼn Hok maak hantering makliker en die meeste eiers sal ook daar gelê word as neste voorsien word. Dit maak die versameling van eiers eenvoudig. Bou die hok verkieslik na aan die huis op ʼn droë en gelyke area waar daar bedags skaduwee is. Maak seker dat die area voldoende dreinering het in die reën seisoen. Hou die area om die hok skoon om muise en slange weg te hou. Dit is selfs beter as die huis sowat ʼn meter op pale gelig kan word.
Die grootte word bepaal volgens die aantal hoenders wat jy beoog om aan te hou. ʼn Hok van 2 x 2 meter is voldoende vir 10 tot 15 hoenders as hulle bedags buite kan loop. Indien hoenders pal op hok gaan wees is heelwat meer ruimte nodig en daar moet ʼn vierkante meter per hoender voorsien word. ʼn Goedkoop huis kan van bloekompale gebou word met ʼn gras of rietdak.

“Ruil af en toe een of twee van jou hane met ʼn buurman s’n - wat nie te naby aan jou woon nie - om nuwe bloed in te bring.”

Die deur moet groot genoeg wees vir 'n mens om maklik in te gaan. Baie lig en lug is nodig. Seile of gordyne van plastiek of sak kan gebruik word om die hok in slegte weer toe te maak.
Voldoende slaapstokke, neste, kos- en waterbakke moet voorsien word. Baie hiervan kan self gemaak word. Waterbakke moet so geplaas word dat gemorste water na buite vloei en nie die hok binne laat nat word nie.

Vier lê-henne kan een nes deel. Plaas die neste ongeveer 50cm bo die grond in ʼn stil, donker deel van die hok. Leë 20 liter verfdromme kan vir die doel gebruik word. Maak dit so vas dat die dromme effens na agter hel. Gebruik sagte, skoon, droë gras as beddegoed. Plaas ʼn balk voor die ry neste waarop die hoenders kan spring om in te gaan. Versamel eiers een of twee keer per dag.

Die hoenderhok moet skoon gehou word. Skropgoed soos gras of saagsels moet los en droog gehou word en van tyd tot tyd verwyder en vervang word. Dié skropgoed is ook ʼn goeie toevoeging tot kompos.

Seleksie en vervanging

Indien daar hane by die henne is, kan van die eiers vir broeis henne gegee word om uit te broei. Leer jou hoenders ken. Neem waar watter hoenders die vinnigste groei, baie eiers lê en gesond is. Gebruik hul bevrugte eiers dan om deur die beste ma’s te laat uitbroei. Ou hoenders moet mettertyd met jonges vervang word as jy jou hoenderboerdery produktief wil hou. Gebruik twee hane en tien henne om van te teel en maak seker dat hulle die beste hoenders in die groep is. Ruil af en toe een of twee van jou hane met ʼn buurman s'n - wat nie te naby aan jou woon nie - om nuwe bloed in te bring. Deur selektiewe teling verbeter jy die gehalte en produktiwiteit van jou hoenders.

april 2016 dieregedrag 2Broeineste moet hoog bo die grond op ʼn stellasie wees, op ʼn plek wat eenkant en effens donker is. ʼn Gevlegte mandjie kan gebruik word. ʼn Verfdrom sal te warm word vir ʼn hen wat broei. Skoon sand en baie sagte gras is die beste bedekking vir die vloer van die nes. Gee vir die hen ongeveer agt eiers om uit te broei. ʼn Broeis hen sal gewoonlik net een keer per dag opstaan. Maak seker dat daar vir haar kos en water beskikbaar is.

Hoender eiers neem 21 dae om uit te broei. As die hen na 22 dae nog sit en meeste eiers al uitgebroei is, kan die orige eiers weggeneem word. ʼn Goeie ma sal haar kuikens beskerm teen gevaar en koue deur hulle onder haar te laat inkruip. Sy sal hulle ook leer hoe om kos te vind. Vir die eerste drie tot vier weke kan sy en haar kuikens in ʼn veilige kampie met koelte, water en kos gehou word. ʼn Verskuifbate kampie kan gebruik word. Snags moet hen en kuikens in ʼn veilige hok slaap.

“As die hen na 22 dae nog sit en meeste eiers al uitgebroei is, kan die orige eiers weggeneem word.”

Benewens kos wat hulle self vind, moet kuikens ook ekstra kos ontvang. Fyngemaakte hard-gekookte eier werk goed. Klein hoeveelhede fyngemaakte mielies, koring of ander graan kan ook gegee word. Na 10 dae moet die kuikens bedags self kos soek en word hulle net soggens en saans gevoer. Maak ʼn versperring van draad of riete waardeur die kuikens by hulle kos kan uitkom, maar die hen nie hulle kos kan eet nie. Moenie meer voer as wat hulle kan eet nie. Kuikens moet altyd skoon water kry. ʼn Selfgemaakte bak met albaster-grootte klippies in sal verhoed dat die kuikens self in die water beland.

Op vier weke kan haantjies gewoonlik van hennetjies onderskei word. Hulle groei vinniger. Op dié stadium moet kuikens nog vir ʼn uur op ʼn dag ekstra kos ontvang. Slag of verkoop oortollige haantjies voordat hulle volwasse is.

Henne begin eiers lê tussen ses en agt maande. Indien hulle in die lente uitgebroei is en goeie voeding ontvang het, lê hulle vroeër. ʼn Hen wat lê se kam is baie  groter en rooier as dié van ʼn hen wat nie lê nie. Jong henne lê baie goed in hul eerste seisoen. Na twee tot drie jaar begin hulle minder lê en kan hulle selfs heeltemal ophou. Dit is dus raadsaam om hulle te vervang.

Om seker te maak net vars eiers word vir broei doeleindes gebruik, moet eiers daagliks of meer dikwels versamel word. Verwyder eiers in die oggend en moet dit nie later as die volgende dag onder ʼn broeis hen sit nie. Indien eiers verkoel word, kan dit vir tot sewe dae gehou word voordat dit onder ʼn broeis hen kom. Daarna neem die lewenskragtigheid egter af. Moenie eiers vir broei gebruik indien hulle nie heel en groot is, met ʼn sterk dop nie.

Voer van Hoenders

Kuikens moet gemengde graan of kuikenmeel (tot op vyf weke) kry om die beste te ontwikkel en optimaal produktief te wees. Hoenders wat buite loop, vul hul dieet aan met gras en insekte, maar benodig steeds ekstra voer. Kuikenmeel word ongelukkig in groot sakke verkoop en is duur. Tensy jy ʼn sak kan deel met ander kleinboere, is dit nie ekonomies vir ʼn klein hoenderboerdery nie.

Moenie kosbakke meer as halfvol maak nie, anders skrop die hoenders dit uit en dit word vermors. Wat kuikens nie in ʼn uur opeet nie, moet verwyder word. Kalsium aanvulling is nodig vir henne wat lê. Kalkklip, skulpgruis, fyn gebreekte been, of eierdoppe kan gebruik word. Been en doppe moet eers gekook word om siektes te voorkom. Vars groenigheid uit die tuin, sowel as vars oorskietkos en gekookte groente uit die kombuis kan vir die hoenders gegee word. Ryp vrugte kan ook gevoer word.

Sien om na die hoenders se gesondheid. Hou die omgewing skoon, isoleer siek hoenders, en behandel hulle. Ent hoenders teen siektes soos Newcastle siekte.