Volg ons op Facebook

Vra die veearts - Lamsiekte in wild

Written by  Joan van der Poel
| in Veearts
| May 16, 2014

Hoewel inheemse wild in Suider-Afrika oor die algemeen weerstandbiedend is teen siektes wat vee kan aantas, is daar tog uitsonderings.

Een siekte wat dodelik kan wees vir wild, is lamsiekte, of botulisme. Dit is nie ’n aansteeklike siekte nie, maar kan dodelik wees. Dit is eintlik ’n vergiftiging wat veroorsaak word deur toksines wat as ’n bakterium, Clostridium botulinum, in ou karkasse en bene vrygestel word. Die dier moet dus aan ou karkasmateriaal of bene in die veld kou om die toestand op te doen. Nie net groot karkasse hou risiko in nie; trouens, kleiner dooie diere soos voëls, muishonde, hase en skilpaaie kan tot ’n jaar lank giftig bly indien hulle met Clostridium botulinum besmet is. Warm vogtige weer is gunstig vir die groei van C botulinum en die produksie van toksines. Sekere faktore maak diere meer geneig om aan ou bene te peusel en sodoende moontlik lamsiekte op te doen.

"Sekere faktore maak diere meer geneig om aan ou bene te peusel en sodoende moontlik lamsiekte op to doen."

Grond met ’n lae fosfaatinhoud (bv. Noord-Kaap) lewer plantegroei wat laag is in fosfate en wild (of vee) wat daar wei, is meer geneig om bene te kou.  Oorbeweiding met gepaardgaande wanvoeding maak ook wild meer vatbaar. As daar karkasse en ou bene in die veld rondlê, is die risiko van blootstelling veel hoër. Hoendermis mag karkasse van dooie hoenders sowel as knaagdiere bevat en moet nooit aan wild gevoer word nie. Proteïentekorte maak ook diere meer geneig om aan vreemde voorwerpe te eet.
    Verskeie wildspesies is vatbaar vir lamsiekte. Dit is reeds beskryf by o.a. wildebeeste, kameelperde, watervoëls en volstruise. Roofdiere is meer weerstandbiedend.
    Die siekte kom meer algemeen voor in die herfs en winter wanneer die voedingswaarde van weiding afneem. Om lamsiekte te voorkom, is dit belangrik dat mineraallekblokke uitgeplaas word.
    Diere neem die gifstowwe per mond in en dit word dan deur die dermkanaal geabsorbeer. Die verlammingsproses begin as die toksines die senuwee-eindpunte in skeletspiere bereik deur die bloedstroom. Die verlamming begin in die agterkwart. Aan die begin mag mens ’n wankelende gang sien, met agterbene wat knak en ’n stert wat al slapper word. Dan versprei die verlamming na die voorkwart en die dier sal bly lê met ʼn geboë nek. Op hierdie stadium mag die dier nog beur om op te staan as hy gesteur word, maar later sal hy stil lê . Die kou- en slukspiere raak ook verlam. Die tong is ook lam en as mens die tong maklik uittrek en die dier dit stadig of glad nie terugtrek nie, dui dit op ’n diagnose.  Die dier mag ook kwyl. Wees versigtig om nie hondsdolheid met lamsiekte te verwar nie. Die dier vrek gewoonlik binne 2 tot 6 dae, maar dit kan tot 17 dae duur. Omdat die bloed-breinskans die brein teen die toksine beskerm, is die dier tot op ’n laat stadium nog by sy bewussyn en waaksaamheid, eetlus en selfverdediging sal tot laat in die verloop van die siekte voortduur.

"Die verlamming begin in die agterkwart."

    Behandeling is selde suksesvol, hoewel dit in die vroeë stadium die moeite werd mag wees vir baie waardevolle diere. Onderstepoort het voorheen ’n hiperimmuunserum vervaardig teen tipes C en D wat in SA voorkom. Dit verskyn egter nie tans op hulle produklys nie. Goeie verpleging en beskutting teen die elemente is ook belangrik.
    Voorkoming bly die beste behandeling. Inenting van wild is prakties moeilik en duur. Dit is beter om voedingstekorte te voorkom met goeie weidingsbestuur en die voorsiening van mineraallekblokke wat fosfaat bevat.


Untitled-8

Dr Joan Kleynhans-Jordaan is ’n ervare veearts en het tydens haar loopbaan wat reeds oor vier dekades strek, met plaasdiere, huisdiere en wild gewerk. Sy doen tans lokums in die Wes-Kaap en elders en skryf graag oor haar wedervaringe. Sy is ook ’n ywerige fotograaf en kunstenaar. Sy skilder veral graag kleurvolle hondeportrette.